Friday, 11 August 2017

Die eenvoud

Vanoggend lees ek: Amos het in die suide van Israel met skape en vye geboer.

Hoe wonderlik klink dit. Eenvoudig. Onopgesmuk.

En watter wonderlike heerlike kos het Amos op sy werf gehad! ‘n Stukkie lamsvleis en ‘n ryp vy. Mmmmm, koningskos!

Ek wonder wat Amos se vrou met die vye gedoen het. ‘n Bak ryp vye op haar grasmatjie vir middagete. Opgedien met suurrooom of joghurt wat sy self gemaak het? Dalk gedroog vir wanneer die vyebome nie dra nie? Dalk kon sy op ‘n wonderbaarlike manier dit in ‘n kleipot preserveer vir later? Onder die vyeboom in die koelte lafenis soek as Amos van die veld af terugkom met sy skape.

Hoeveel male sonder tal is daar soveel lekkerte hier om ons wat ons nie raaksien nie. Wat ons soms minag. As kind het ons die lieflikste granaatheining in ons agtertuin gehad. En ‘n reuse moerbeiboom waarin ons kon klim en eet tot die pers soppies ons gesigte (en klere!) besmeer. Maar ons het nie gedink dis luuks nie! Vandag moet ek diep delf om bessies en granaatpitte te koop!


Die vyeboorde, granate, bessies wat deesdae op plase aangeplant word, is verblydend! Boere dink anders as paar jaar gelede. Hulle moet nuut dink. By die modes van kos en grille en giere aanpas – eintlik vooruit al weet, want wat vandag op die tafel moet wees, moes “eergister” al geplant gewees het!

Uiteindelik is dit kwaliteit wat tel as dit by kos kom. Hoe beter die kwaliteit, hoe minder hoef jy met die produk te sukkel. Souse en omgetowerde bestanddele mag indrukwekkend lyk en uitsonderlik smaak, maar ai, ‘n skaaptjoppie en ‘n vy bly darem maar lekker!  

Thursday, 10 August 2017

Heeltemal anders

So in die verbystap hoor ek die kind oor die radio se verduideliking: “’n Museum is soos Google, maar in die regte lewe. Mens hoef nie op ‘n skerm daarna te kyk nie.” Ja, voorwaar ‘n goeie beskrywing! Maar heeltemal anderkant om van my kant van die ouderdom af! Ek moes onlangs vir ‘n antieke antie verduidelik wat Google is – ‘n museum (en sommer wat nou pas om jou en aan die anderkant van die wêreld gebeur het), maar jy kyk na die goed op ‘n skerm…! Dit sou dalk kon help met die verduideliking, maar tannie, dis baie, baie meer!!!

Vinnig verander baie dinge in ‘n mens se leeftyd. Vanoggend is ek so half giggelrig oor hoe ons kooppatrone oor die jare verander het. Pasgetroud in Durbanville, moes ons Bellville se OK toe vir groot aankope. Met R20 kon ek my winkeltrollie lekker laai. Daar was twee winkels in Durbanville se hoofstraat waar ons die nodige oor die toonbank kon koop of oorkant die straat in die rakke self kon kies. Melk is in glasbottels by die huis afgelewer – dis nou as mens onthou het om die koepons in die bottels te sit en betyds buite te los!  
In ons jong-huisvroutjie-dae, toe die eerste Hyper Market pas sy deure oopgemaak het, was dit die ekonomies korrekte prosedure om kruideniersware een maal per maand aan te koop. ‘n Stewige trollievrag as dit ‘n gemiddelde gesinnetjie vir so 30 dae moes hou. Groot dissipline aan die dag om daai versoekings te weerstaan van die pak lekkergoed wat vir jou loer terwyl dit heelmaand moet hou…. Soos julle seker kan dink, was ek nie baie goed daarmee nie. Nie met die maand se aankope nie en ook nie met die versoekings weerstaan nie!

Deesdae sal dit nogal ‘n ander storie wees om ‘n maand se voorraad in sommige van ons se kleiner wonings te probeer inpas! Dinge werk net nie meer so nie! My huis is kleiner, my kaste is minimalisties, my vrieskas is petite. En as ek ‘n maand se voorraad op een slag moet betaal, sal ek sowaar die res van die dag beswaard wees. Om daai duisende uit te tel by die kassier vir een trollievraggie……

En dan eet ons deesdae beslis meer vars kos en minder bevrore en verwerkte produkte. Tyd om my mandjie te vat en te gaan inkopies doen! Dis vandag weer vars produkte mark in St George’s Laan. Wat die mark oplewer, is my inspirasie vir die spyskaart!

Wednesday, 9 August 2017

Op hierdie dag

Dis weer daai dag waar menige mans van hulle laat hoor. Sommige met ‘n “nou wanneer is dit dan mansdag?” Van ander hoor jy net 'n gebrom (dis nou indien jy wel enige reaksie kry!). En die boodskappe tussen die vriendinne word wyd en geurig gesaai! Sommige vol kwinkslae, ander diep sake.

In ons gesin word die vrouens so ‘n ekstra meer bederf as gewoonlik – met ‘n blommetjie, ‘n lekker ete, ‘n bederfie. Sommer net ‘n gebaar van omgee. Omdat ons maats ons waardeer vir ons vrouwees, dit koester en ons kosbaar ag.

Maar vir baie, baie vroue is dit net nog ‘n dag waarop hulle verneder en verpletter word. Vroue wat sonder respek behandel word.

Verlede Sondag word een van die lidmate in die kerk vorentoe genooi om te kom vertel wat vrouwees vir haar beteken. Dis die vriendelike vrou met die sagte oё wat altyd maklik lag. En weereens besef ek hoe ons wêrelde verskil. Haar omstandighede totaal anders as myne. Haar boodskap is dat ons elkeen maar net meer liefde sal uitleef - soos wat God dit van ons elkeen vra. Hoe moeilik ookal die omstandighede.

Enkelouerskap, lang werksure, huishoudings in beknopte ruimtes met die minimum om mee klaar te kom, is maar van die enkele uitdagings waarmee elke dag gestoei moet word. En dan is daar die hartseer saak van mishandeling, verkragting en verinnewering.

Vanoggend oor die radio sluit Lynette Francis af met: “wees veilig waar jy vandag is”. En ek weet net weer dat Vrouedag so verskillend is vir verskillende mense. Ek is diep dankbaar vir die voorreg om in ‘n beskermde omgewing bederf te word deur die baie spesiale manne in my lewe. En ek weet Vrouedag is nie net daar om in 'n mooi omgewing gekoester te word nie. 


Monday, 7 August 2017

Fluks en fiks

Sjoe, wat ‘n bedrywige naweek!

Ons is stokflou! Om so baie te spring, maak mens moeg! Van die een na die ander. Atletiek! Rugby! Tennis!

Is dit dalk onverantwoordelik om soveel spiere oor en oor in so ‘n kort tydperk te gebruik? Dalk ooreis ek my vingerspiere van daai kontroleknoppies druk?

So trots op ons sportsterre! Sterre in die oё! En hoe blink daai medaljes nie!!! Sien uit na nog baie meer!

Ag nee wat, ons gaan ons nie van rugby-tellings laat onderkry nie. Die jong skolespanne het ons weer moed gegee vir die toekoms! Wat ‘n pragtige klomp jong kinders!

En al het Anderson nie die finaal gewen nie, het hy sy klim teen die tennisleer op verseker met goeie spel die afgelope tyd. Sien uit na nog baie wedstryde!

Tussendeur het ons darem ‘n hele paar kilometer se stap ingekry hier in onse mooie stad. Mens moet darem stap tot by ‘n mooie uitkykpunt om saam met vriende te kyk of die verbouers en brouers nog op standaard is…

Ons werk aan ons fiksheid – binnekort is ons fiks vir aftrede! 

Friday, 4 August 2017

So vat die jaar die draai

Kan nie dink dis al die agtste maand van die jaar nie! Dikwels hoor mens ouer mense wat sê die lewe (tyd) gaan vinniger verby hoe ouer mens word. Dit het nooit vir my sin gemaak nie. Tot ek verstaan: hoe ouer jy is, hoe meer het jy die luukse om te doen wat jy wil. En hoe meer jy besig is met dit wat vir jou vreugde gee, hoe vinniger gaan die tyd verby! Dit maak sin in my kop! En ek beleef dit ook deesdae!

Een van die dinge waarna ons verlang hier in ons kasteel, is ‘n wintersonnetjie. Die enigste skynseltjie wat ons hier kry, is die weerkaatsing van die Cape Sun se reuse-glasvensters. En ja, dit maak sowaar effe warm as mens in daai kolletjie sit! Dalk meer sielkundig as iets anders, maar elk geval diep dankbaar daarvoor!

Die afgelope week was dit bewolk en redelik donker hier om ons. Gister het die sonnetjie geskyn en laatmiddag is ek verras om te besef die son skyn op ons piepklein balkonnetjie. So in die een hoekie net om daai drie en ‘n half potplante bietjie op te kikker. En ja! Ons besef die jaar het gedraai en lente is op pad. Met ons stap deur Die Kompanjiestuin, sien ons die eerste bloeisels.

Maar moenie dink dis somer nie! Met die spierwit wolkebondels wat oor die Hottentots Holland bergreeks tuimel, weet ons die suidoos is met ons. Onplesierig! Winderig! En laasnag het ons dit beslis geweet toe die deure en vensters se geklap deur die gebou weerklink. Ongelukkig voorspel dit nie reёn vir ons nie, maar ek sien volgende week kan ons maar weer ons sambreeltjies uithaal en ons steweltjies aantrek. Vol hoop vir nog reёn.

Thursday, 3 August 2017

Statistiek

Manlief meen mens kan met statistiek enigiets bewys! As die ekonome so fluks voorspel oor die toekomstige stand van sake wat ons pennies en ponde betref, is daai statistieke ook maar net wat die woord beteken: voorspel. En beslis hoogs onvoorspelbaar!

Met aftrede is die realiteit: Niemand weet wat die ekonomie gaan doen nie; niemand weet hoe lank ons nog gaan leef nie; niemand weet of ons siekesorg gaan nodig hê nie. Die makelaar kan voorspellings maak oor ons spaargeldjies, maar niemand weet nie. En statistiek kan ook nie help nie. Vanjaar is nie soos verlede jaar nie en volgende jaar is nog opgesluit in sy eie geheimenis. Nog nie vir ons om te weet nie.

Die geheim is om te weet wat is noodsaaklik, wat nodig om ‘n bestaan te maak, waarmee mens kan klaarkom, waarsonder jy nie sal kan oorleef nie. Iets in daai lyn. Maar glad nie eenvoudig nie!

Om nie net te bestaan nie, maar om ook lekker te leef, is sekerlik ieder en elk se droom. Maar dan is “lekker leef” ook verskillend vir verskillende mense. Gelukkig tog! As ons dieselfde dinge nagejaag het, sou die lewe maar saai wees! 

Wednesday, 2 August 2017

Nog ‘n vrolike viering!

Daar is altyd nog iets wat gevier kan word! Hierdie keer is dit die vierduisend-merk wat my blog viewers gehaal het. Nou moet ek aan jou dankie sê dat ons dit toe heerlik kon gaan vier! Ek kan (gelukkig!) nie sien wie my blog lees nie, maar kan die statistiek sien van hoeveel daagliks gelees word.

Hier om die draai van ons, in Breёstraat, is ‘n hele klomp eetplekke so op ‘n streep. Alkant van die straat. Mens kan elke dag van die maand ‘n ander een besoek. Dis nou as jy die finansies daarvoor het. Altyd vir my snaaks hoeveel mense vra of ons elke dag uiteet terwyl ons in die stad woon. Nee, ons doen nie, ons kan nie en ons wil ook nie.

Daar is so iets soos winter specials waarop ons sterk steun! Dis nou vir die van ons wat onsself inperk met uiteet en genadiglik hou van kosmaak! As mens nie hou van kosmaak nie, gaan die versoekings net eens te erg wees! Elke maand is daar ‘n nuwe eetplek wat oopmaak. (En dalk net soveel wat deure moet toemaak?)






BURGER & LOBSTER het die keer aan die beurt gekom!






Aan die einde van elke week is daar op die internet ‘n verskeidenheid spesiale aanbiedinge vir uiteet. En dan is daar ook die happy hour wanneer kos goedkoper is. Dit werk goed vir ons. Dis nou vir as daar ‘n viering is wat gevier moet word. Wat daar altyd is. Ons doen ons bes om daai viering nie meer as een maal per week te doen nie. Dis luuks! En ons besef dit en waardeer dit! En weet een van die dae, as ons wegtrek uit ons kasteel, is dit verby!