Die eenvoud
Vanoggend lees ek:
Amos het in die suide van Israel met skape en vye geboer.
Hoe wonderlik
klink dit. Eenvoudig. Onopgesmuk.
En watter
wonderlike heerlike kos het Amos op sy werf gehad! ‘n Stukkie lamsvleis en ‘n
ryp vy. Mmmmm, koningskos!
Ek wonder wat Amos
se vrou met die vye gedoen het. ‘n Bak ryp vye op haar grasmatjie vir
middagete. Opgedien met suurrooom of joghurt wat sy self gemaak het? Dalk gedroog
vir wanneer die vyebome nie dra nie? Dalk kon sy op ‘n wonderbaarlike manier
dit in ‘n kleipot preserveer vir later? Onder die vyeboom in die koelte lafenis
soek as Amos van die veld af terugkom met sy skape.
Hoeveel male
sonder tal is daar soveel lekkerte hier om ons wat ons nie raaksien nie. Wat
ons soms minag. As kind het ons die lieflikste granaatheining in ons agtertuin
gehad. En ‘n reuse moerbeiboom waarin ons kon klim en eet tot die pers soppies
ons gesigte (en klere!) besmeer. Maar ons het nie gedink dis luuks nie! Vandag
moet ek diep delf om bessies en granaatpitte te koop!
Die vyeboorde, granate,
bessies wat deesdae op plase aangeplant word, is verblydend! Boere dink anders
as paar jaar gelede. Hulle moet nuut dink. By die modes van kos en grille en
giere aanpas – eintlik vooruit al weet, want wat vandag op die tafel moet wees,
moes “eergister” al geplant gewees het!
Uiteindelik is dit
kwaliteit wat tel as dit by kos kom. Hoe beter die kwaliteit, hoe minder hoef
jy met die produk te sukkel. Souse en omgetowerde bestanddele mag indrukwekkend
lyk en uitsonderlik smaak, maar ai, ‘n skaaptjoppie en ‘n vy bly darem maar
lekker!
No comments:
Post a Comment