Ongekompliseerd
Oor ‘n heerlike
koppie koffie gesels ons oor vriendskappe.
Vriendskap is so
kosbaar. Dikwels word dit onderskat. En dikwels word dit misbruik. Of is dit
dan vriendskap?
By my vriende wil
ek sommer net kan ontspan. En raai, hoe ouer ek raak, hoe lekkerder kry ons
vriende dit onder mekaar reg! Om sommer net langbeen te kan saamkuier.
Vir ‘n vriend kan
jy maar sê jy het ‘n foutjie begaan. Of jy voel nie op jou beste nie. Jy kan
jou bekommernis deel sonder dat dit opgelos hoef te word! Net die vertel van
jou frustrasie, is reeds genoeg om die las te verlig.
Met sommige van my
vriende kommunikeer ek miskien net een of twee keer per jaar. Ja, sowaar! Maar
as ons met mekaar kontak maak, gaan ons aan met gesels waar ons laasjaar
opgehou het!
Hoezit het sowaar ‘n
webtuiste “Word ‘n beter vriend”. Uit nuuskierigheid gaan loer ek. Dis nogal ‘n
oulike een vir tieners. Of vir diegene wat minder volwasse optree.
Was altyd vir my
interessant dat seuntjies minder dramas het oor vriendskappe. En mans kan mos
by mekaar aankom met ‘n klop op die maag en ‘n aanmerking soos: Sjoe, maar jy
het darem dik geword! Sê een vrou nou dit vir ‘n ander, dan kan jy maar koes
vir daai hou met die handsak! Dogtertjies kondig soms aan: “Ek wil nie meeer
jou maatjie wees nie”. En dan klim die mammas heerlik onder mekaar in! (Dankie
tog dat ons daai stadium gemis het!)
Een woord wat dit vir
my opsom: ongekompliseerd. Dis hoe vriendskap vir my moet wees!
Dankie, liewe
vriende, vir vriendskap! Na aan my hart!
No comments:
Post a Comment