Wasdag
Vandag is ek ‘n
wasvrou. ‘n Sakie wat bietjie beplanning benodig.
Na ‘n jaar se
verblyf in onse kasteel, vind ek toe uit dat hier ‘n netjies laundry in die gebou is – kompleet met
industriёle wasmasjiene en droeёrs. Maar teen hierdie tyd het ek al mooi geleer
hoe om die sakie te bemeester. Die dag word mooi gekies dat hier nie gaste kom
kuier nie - en siedaar! - skoon wasgoed teen slaaptyd!
Vandag is hier groot
items in die was. Groot handdoeke, dubbelbedlakens, duvet oortreksel en wat nog
meer. Maar ek pak die saak met moed aan. En ek is besig om te wen! En ja, ek
kry dit reg sonder die wasgoedlyn waar die wasgoed in die sonnetjie en
herfswindjie kan wapper!
Hoe kry die mense
in die plakkerskampe dit reg om skoon en netjies by die werk te kom? In daai
stof en sand sal ek niks skoon kry nie. Mens sien dikwels Sondae die groepe
aanbidders wat met hul wit klere in groepe in die veld bymekaarkom. Dit laat my
altyd wonder hoe hulle dit regkry. Ek kan nie eens ‘n wit handdoek wit hou nie.
Ek is maar taamlik
onhandig as dit kom by wasgoed met die hand was. Gans en al te min murg in my
pypies. In die dae van wasvrouens op die plase, is die wasgoed op die wasklippe
skoongevryf. Deesdae se effentjiese materiale sou nie daai hardhandigheid kon
teёstaan nie!
Maar die wassery by
die rivier (en by die krane in die nedersettings) is ook die plek waar die
gesels plaasvind. Dis waar die nuutste nuus uitgeruil word en na welstand
verneem word. Onlangs gesels ons met mense in Mosambiek wat vertel
van ‘n weldoener wat goed bedoel en vir die gemeenskap ‘n put naby hul huise wil
laat sink sodat die vrouens nie so ver hoef te stap om te gaan water haal en
wasgoed te was nie. Die vrouens is hewig ontsteld. Na gesprekvoering is die
gevolgtrekking: die vrouens soek daai bietjie afstand van die huis af. Dis hul
tyd en plek vir sosiaal met mekaar verkeer.
Dalk moet ek ons wasgoed
in die laundry gaan doen sodat ek
bietjie hier ons gebou se stories kan hoor…. Maar nou ja, deesdae doen die stadsmanne
ook dikwels die wasgoed. Elkeen met oorfone. Nie tyd en plek vir sosiaal
verkeer nie!
No comments:
Post a Comment