Wednesday 9 August 2017

Op hierdie dag

Dis weer daai dag waar menige mans van hulle laat hoor. Sommige met ‘n “nou wanneer is dit dan mansdag?” Van ander hoor jy net 'n gebrom (dis nou indien jy wel enige reaksie kry!). En die boodskappe tussen die vriendinne word wyd en geurig gesaai! Sommige vol kwinkslae, ander diep sake.

In ons gesin word die vrouens so ‘n ekstra meer bederf as gewoonlik – met ‘n blommetjie, ‘n lekker ete, ‘n bederfie. Sommer net ‘n gebaar van omgee. Omdat ons maats ons waardeer vir ons vrouwees, dit koester en ons kosbaar ag.

Maar vir baie, baie vroue is dit net nog ‘n dag waarop hulle verneder en verpletter word. Vroue wat sonder respek behandel word.

Verlede Sondag word een van die lidmate in die kerk vorentoe genooi om te kom vertel wat vrouwees vir haar beteken. Dis die vriendelike vrou met die sagte oё wat altyd maklik lag. En weereens besef ek hoe ons wêrelde verskil. Haar omstandighede totaal anders as myne. Haar boodskap is dat ons elkeen maar net meer liefde sal uitleef - soos wat God dit van ons elkeen vra. Hoe moeilik ookal die omstandighede.

Enkelouerskap, lang werksure, huishoudings in beknopte ruimtes met die minimum om mee klaar te kom, is maar van die enkele uitdagings waarmee elke dag gestoei moet word. En dan is daar die hartseer saak van mishandeling, verkragting en verinnewering.

Vanoggend oor die radio sluit Lynette Francis af met: “wees veilig waar jy vandag is”. En ek weet net weer dat Vrouedag so verskillend is vir verskillende mense. Ek is diep dankbaar vir die voorreg om in ‘n beskermde omgewing bederf te word deur die baie spesiale manne in my lewe. En ek weet Vrouedag is nie net daar om in 'n mooi omgewing gekoester te word nie. 


No comments: