Speeltyd
Daar is nogal baie
terapie daarin om fisies potlood of pen (of bordkryt!) in die hand te neem en
te skryf. Of te teken. Op papier, op karton, op die koerant se kantlyne…. Ja,
om nie net altyd met die rekenaar te “skryf” nie, maar om weer terug te gaan na
die begin.
Die eerste prente
wat kinders teken as hulle skoene met veters “ontdek”, is so kosbaar! Sulke
lang stokkiesbeentjies met groot skoene en nog groter veters! Hoe trots om te
leer om ‘n veter te knoop en te strik!
Vanoggend het ek
weer ‘n slag lekker gespeel met kwas en kleur. Maar ai, is ons tog nie krities
op onsself nie!!! Hoe ouer, hoe erger.
Nou eers weer al
die kwassies gewas (nie goed daarmee nie en manlief altyd ywerig om dit vir my
te doen) en alles weggepak. Die naweek stel ander eise aan die kasteel as ‘n
vertrek vol spatsels.
Dis nou eers tyd
vir ‘n paar resepte nadertrek. Die seuns en hul mooie meisies kom vir
Sondagete. Altyd lekker om iets nuuts op die tafel voor te sit vir die spul.
Hulle is almal kranige kokke en smulpape. Goed om my grense bietjie te
verbreed. Maar eintlik doen die kleine stofie en minimale kookapparaat genoeg
vir my wat uitdagings betref! En die meisies het nog nie al my ou staatmakers
geproe nie. Hier sak ek alweer terug in my heel gerieflike gemaksone…..
Lekker naweek!
Lekker speeltyd!!
No comments:
Post a Comment