Hou die posbus dop!
Wanneer my pa
middae van die kantoor af huis toe gekom het vir middagete, het hy die pos op
die kombuiskas neergesit. Altyd groot opgewondenheid om te sien of daai kêrel
wat jy die vakansie by die see ontmoet het, toe die langverwagte brief geskryf
het! Toe is skoolrapporte nog gepos en menige bekommerde kind het die posman
ingewag om daai posstuk te onderskep! En dan was daar later die brief van die
universiteit om die wonderlike nuus te bring dat jy ouderwets genoeg is om uit
die nes geskop te word!
Later jare, toe ons
as pasgetroudes ons eie kaia’tjie gekry het, het ons ‘n PVC pyp in die heining
gehad wat as posbus gedien het. Van ons fênsie vrinne het nogal ‘n probleem
daarmee gehad en wou dikwels weet: “Hoekom
kry julle nie vir julle ‘n ordentlike posbus nie?” Maar vir manlief was dit goed
genoeg en daai pyp het vir 41 jaar heel goeie diens gelewer. Ek was altyd so bang
dat iemand met ‘n gholfbal-posbus of ‘n dobbelsteen-posbus daar aankom. Dis mos
nou nie of een van ons gholf speel of dobbel nie….
Die afgelope twee
jaar het ons ‘n posbus by die poskantoor. Mettertyd kon ons sake so reёl dat
daar daar geen pos meer in is nie! Alles word nou elektronies afgehandel. Baie
gerieflik! So pas ons aan by nuwe tendense. Watter nuwe ontdekking sal volgende
wees om ons lewens te vergemaklik?
Die posman met sy
bultende sak op sy fiets. Dit sal een van die “onthou-jy-nog” stories bly. En
hoe nader Kerstyd geraak het, hoe swaarder was daai sak. In daai dae het mense
nog vir mekaar Kerskaartjies gestuur!
En die mooie posseёls! Is daar nog mense wat deesdae posseёls versamel?
Ek het nog een
briefskrywer wat so een maal per kwartaal vir my ‘n netjiese brief uit Engeland
gestuur het. Na ‘n beroerte sal sy seker ook nie meer kan skryf nie. Maar ‘n
handgeskrewe brief bly darem maar baie spesiaal. So met die uitpak en sorteer
van al my aardse opgaarsels, kom ek op ‘n brief af wat my sus vir my geskryf het
toe ek op universiteit en sy huisvrou in Transvaal was. Lank gelede. Ek bêre
die brief en gee dit vir haar dogter. Ek kan net dink hoe lekker hulle sal lag
oor die onskuld van daai brief! Kosbaar!
No comments:
Post a Comment