Thursday, 13 April 2017

So wonder ek

‘n Paar jaar gelede skryf ek die woorde neer wat my laat wonder.


En ek wonder steeds. Met teerheid. En bewus van 'n broosheid.

Mag Paasnaweek nie maar net nog ‘n langnaweek vir jou wees nie. Mag jy kies om iewers alleen te gaan stilword om net weer keuses te maak.

Vrede en onuitspreeklike vreugde vir jou!!! Want dis nie by die doringkroon waar dit eindig nie!

Wednesday, 12 April 2017

Soos die sonkolletjie aanskuif

So skuif ons saam met die sonkolletjie. Om bietjie son op die vel te voel. Die heerlike koestering van warmte. Nie hitte. Net so ‘n heerlike, sagte omvouing van vredigheid.


En so saam met die skuif van die sonkolletjie, weet ons dis die begin van ‘n nuwe seisoen. Tyd om die somerskleertjies weg te pak. Wat moet bly vir ‘n volgende somer, wat word uitgegooi.

En ook tyd om die wintersklere nader te trek. Te beskou wat bruikbaar is, verwonderd te wees oor wat skielik nie meer pas nie!? Besluit te neem wat moet bykom om die winter mee op te kikker.

Tussen die verjaardae aan ons kant, is dit mos oorskakeling van somer na winter. Gewoonlik is dit so. Elke jaar ‘n aardigheid om dit dop te hou! En ja, klink my hierdie jaar gaan dit weer so wees! Haal dus maar die warmer truitjie en die steweltjies uit. Hier kom die koue en die reën! En hierdie jaar gaan niemand kla oor die nattigheid nie!

En so skuif elkeen van ons ook aan na die volgende kolletjie – mag dit ‘n sonkolletjie wees!  ‘n Sonkolletjie van vriendelikheid en vrolikheid saam met vriende en familie om die lewe te vier!


Lekker kaste uitpak! Dis sekerlik ook waarvoor so baie langnaweke bymekaar goed gebruik kan word! Laat die koue jou nie onverhoeds betrap nie!

Tuesday, 11 April 2017

Rooibevlekte hande

Vanoggend het ek die heerlike voorreg gehad om granaatpitte te ontgin. Dit was darem net twee granate, maar dis glad nie so ‘n reusetaak soos wat die mense wat die pitjies verkoop,  vir ons wil laat verstaan nie. En twee granate lewer ‘n heerlike groot oes op!


Die rooi juweeltjies vries mos uiters suksesvol en dis so gerieflik om dit naby in die vrieskas te hou om kossies mee op te kikker. Lamsboud met granaatpitte saam met die groen kruisementtakkies, eiervrugskywe met die rooi robyntjies tussenin….. Eg Mediterreens saam met humus of couscous.  Pragtig-mooi in vars vrugteslaai. Lieflik op ‘n kaasbord.  Groot bederf saam met hawermout vir ontbyt!

En die rooi vlekke op die hande werk mens sommer vinnig weer weg.


Maar so met die uitdop van die pitjies, met die rooi sap wat oor my hande loop, laat dit my tog dink aan Paasfees. So gepas dat dit juis nou in seisoen is. Goed om bietjie stil te raak en verder te dink as net dit waarmee ek nou besig is….

Friday, 7 April 2017

Die droom en die realiteite


“Every SAfrican has the right to decide to go out onto the streets today, they also have the right not to. Let's respect each other, please! Dit is die wyse raad van Catherine Constantinides, die pragtige jong vrou wat deur die Huffington Post voorgestel word as an international climate activist and humanitarian. Dié indrukwekkende jong dame was vanoggend die gas op Die Groot Ontbyt. En nee, sy is beslis nie net ‘n mooi gesiggie nie. Sy is passievol oor haar rol wat sy te speel het in die politiek, ekologie, menseverhoudings en vele meer en het ‘n vyfjaarplan wat ek graag sal dophou.

 Elkeen van ons het ‘n droom van waar en hoe ons wil woon. Nie eendag nie. Nou.
Vir sommige het die droom waarheid geword, vir ander is dit nie meer eens ‘n sprankie hoop nie.

In ons huis luister ons nie aldag na nuusuitsendings nie en kyk ook nie slaafs nuusbulletins op tv nie. Dis net eenvoudig te negatief en eensydig. Ja, ons lees koerant, maar selektief. Dis seker deels hoekom die papierkoerant vir my ‘n lekker opsie is – ek kan omblaai! Of ek kan die groenteskille daarin toedraai!

Laataand se Verslag is vir my interessant en soggens se Groot Ontbyt vind ek dikwels amusant (wat ‘n goeie manier is om my oggendkoffie hier in my enigheid te geniet) met  verskeidenheid gaste wat saamkuier – en daar is so baie advertensies tussendeur, dat mens selfs kans kry om die nodige draaitjies tussendeur te loop!!
Maar terug tot vandag. Die stap. Neem jy deel of nie? Hier onder in die straat loop skares verby. En die sirenes begin loei. Nou-nou gaan hier sekerlik ‘n helikopter of twee oor om alles dop te hou.

Uiteindelik gaan dit oor respek vir mekaar. Ook – en heel waarskynlik veral – vir dié met wie jy nie saamstem nie. Dis waar die ware toets inkom.

Stephan Joubert skryf onlangs oor Johannes en Jakobus, die dissipels wat bekend gestaan het as “seuns van die donder”, wat voor die paasfees van ouds vuur uit die hemel wou afbid om die mense met wie hulle nie saamgestem het nie, behoorlik uit te sorteer. Maar dit was nie hoe Jesus, vir wie hulle gevolg het, te werk gegaan het nie. Stephan noem Jesus “die hemelse brandlusser”! En hy sluit die stuk af met: “sodat ons ook nie meer vuur-gebede …oor ander afbid nie”.


Mag dit so wees.

Wednesday, 5 April 2017

Nes ek dink dis so naby

Die reën hang vanoggend soos ‘n dun gordyn hier om ons. Toegetrek om Tafelberg. Grys en sag en propvol belofte.

Ek sien dit naderkom. Dit voel of ek dit kan nadertrek soos wat ek die sagte gordyn sou kon toetrek. Ek wil-wil dit al so ampertjies ruik.

En die volgende oomblik is dit weer verder weg. Die son knipoog agter die wolke uit….
Interessant hoe die natuur ons almal op dieselfde vlak hou. So was dit ook met die uitdagings destyds rondom beskikbaarheid van elektrisiteit.

Maak nie saak hoe belangrik of arm ons is nie – elkeen word geraak deur die gebrek aan water. Ons basiese behoeftes is almal dieselfde.

Gisteraand kyk ek en manlief na wat beskryf word as 'n "biographical disaster-survival drama film", The 33, wat handel oor die 33 mynwerkers wat in 2010 vir 69 dae vasgekeer was in die San José myn in  Chile. Dit was ‘n goeie keuse. Die film was goed en soos ons verder kyk, onthou ons die nuusgebeure van destyds al helderder – hoe hulle met ‘n tipe kapsule onder uit die aarde gehaal is om met hul geliefdes herenig te word. En dit was ook ‘n goeie keuse om op ‘n dag waarop ons en ons landsburgers fokus op ‘n andersoortige oorlewing, te kyk hoe die mynwerkers die krisisse binne en buite die myn hanteer het.

Hier word dit weer donkerder om my. Ek is seker daarvan dat die mense aan die anderkant van die berg die klammigheid verwelkom! Maar vandag lyk dit nie na ons beurt nie!

[Om terug te kom na die fliek. Lees agterna ook die storie oor wat van die mynwerkers geword het – die universiteit van Google het interessante, maar baie ontstellende, inligting oor hul lewens 5 jaar na die drama. Hartseer hoe ons mekaar behandel.]


Tuesday, 4 April 2017

Elke druppel tel

Wat ‘n wonderlike gewaarwording as mens so deur die slaapnewels besef dis regtig reën wat jy hoor val!

Na baie jare in ‘n huis met ‘n sink platdak, is dit vreemd om nie die reën op die dak te hoor val nie! Ai, die gaste van Namibië was dikwels bekommerd as die Kaapse storms so verbygekom het met die gietende reën. Met die eerste Kaapse koue het ons die kaggel opgesteek en die muskadel uitgehaal. Nog ‘n rede om iets spesiaals te vier! 

Dit laat my weer dink aan my gesprek gister met die toeris vanaf Switserland. Dis nou sekerlik een van daai lande waar die inwoners nooit vir ‘n oomblik dink aan ‘n watertekort nie. Sal die woord “droogte” ooit in hul woordeskat wees?

Toe ek haar gister vertel van hoe erg die droogte huidiglik hier by ons is, was sy baie verbaas. En besorgd. En ek besef net weer: dis ook een van ons probleme met waterverbruik en watermisbruik in Kaapstad. Hier is derduisende toeriste. Ja, ek weet in elke badkamer is daar ‘n aanmaning om water spaarsamig te gebruik – of dit behoort elk geval in elke badkamer te wees (ook word dit so aanbeveel deur die Suid-Afrikaanse Toerisme Graderingsraad TGCSA). Maar hoe sal die besoekers aan ons land dit werklik weet? Hopelik doen hulle bietjie navorsing oor die land wat besoek word – maar sal hulle dan werklik Kaapstad besoek as hulle lees dat daar net genoeg water vir 100 dae is?



Om te bad is vir my ‘n luukse. En o, hoe geniet ek dit om saans in daai watertjies in te sak! Maar om my deel van die waterbesparing te doen, het ek besluit om net te stort. Dis my beskeie bydrae tot die saak. Ek dink ek moet iewers in ‘n ander provinsie gaan kuier om ‘n slag weer te kan bad. Wat ‘n luukse!

Monday, 3 April 2017

Ons ken soms net die prentjie in ons kop

Vanoggend – op pad V&A toe om saam met ‘n vriendin te gaan stap – knoop ek ‘n geselsie in die MyCiti bus aan met ‘n toeris vanaf Switserland. Ons kom heel goed reg met die Engels.
Sy ooh en aah oor onse mooie land. En ek vertel haar hoe beїndruk ons was met haar mooie land tydens ons vakansie lank gelede. Selfs ons bus-sisteem is vir haar indrukwekkend! En toe die bus laat is, laat sy haar dit ook vredig welgeval – sy verstaan gelukkig dat die busse se tye geaffekteer word deur die padverkeer en moontlike verkeersknope.

Die sonskyn en warmte is waarmee sy haarself toevou hier in ons sonskynland. Sy merk op dat die koue en gebrek aan sonskyn vir haar erg is. En ook: “and then you also have to deal with the Swiss”. Dit laat my nogal wonder waar sy gebore is….

So dink ons mos altyd ander plekke is mooier of beter. Vir my is die prentjies van sneeubedekte landskappe tog so romanties. Die knus winterklere en hande wat ‘n stomende beker warm sjokolade toevou…. Maar wag tot daai sneeu begin smelt! Die modder, die gemors, die gladde oppervlaktes waarop jy en jou voertuig moet beweeg. En dis ook een van die dinge wat die Switserse toeris ongemaklik vind: die lae en lae klere wat aangetrek moet word voor hulle uit hul huise kan gaan.

Mag die vrou (en haar gesin wat nog in aantog is) ons land met sonskyndae en sonskynmense geniet! Ek kyk sommer weer opnuut met nuwe oë na die mooi hier om my!