Monday 3 April 2017

Ons ken soms net die prentjie in ons kop

Vanoggend – op pad V&A toe om saam met ‘n vriendin te gaan stap – knoop ek ‘n geselsie in die MyCiti bus aan met ‘n toeris vanaf Switserland. Ons kom heel goed reg met die Engels.
Sy ooh en aah oor onse mooie land. En ek vertel haar hoe beїndruk ons was met haar mooie land tydens ons vakansie lank gelede. Selfs ons bus-sisteem is vir haar indrukwekkend! En toe die bus laat is, laat sy haar dit ook vredig welgeval – sy verstaan gelukkig dat die busse se tye geaffekteer word deur die padverkeer en moontlike verkeersknope.

Die sonskyn en warmte is waarmee sy haarself toevou hier in ons sonskynland. Sy merk op dat die koue en gebrek aan sonskyn vir haar erg is. En ook: “and then you also have to deal with the Swiss”. Dit laat my nogal wonder waar sy gebore is….

So dink ons mos altyd ander plekke is mooier of beter. Vir my is die prentjies van sneeubedekte landskappe tog so romanties. Die knus winterklere en hande wat ‘n stomende beker warm sjokolade toevou…. Maar wag tot daai sneeu begin smelt! Die modder, die gemors, die gladde oppervlaktes waarop jy en jou voertuig moet beweeg. En dis ook een van die dinge wat die Switserse toeris ongemaklik vind: die lae en lae klere wat aangetrek moet word voor hulle uit hul huise kan gaan.

Mag die vrou (en haar gesin wat nog in aantog is) ons land met sonskyndae en sonskynmense geniet! Ek kyk sommer weer opnuut met nuwe oë na die mooi hier om my!


No comments: