Tuesday 11 April 2017

Rooibevlekte hande

Vanoggend het ek die heerlike voorreg gehad om granaatpitte te ontgin. Dit was darem net twee granate, maar dis glad nie so ‘n reusetaak soos wat die mense wat die pitjies verkoop,  vir ons wil laat verstaan nie. En twee granate lewer ‘n heerlike groot oes op!


Die rooi juweeltjies vries mos uiters suksesvol en dis so gerieflik om dit naby in die vrieskas te hou om kossies mee op te kikker. Lamsboud met granaatpitte saam met die groen kruisementtakkies, eiervrugskywe met die rooi robyntjies tussenin….. Eg Mediterreens saam met humus of couscous.  Pragtig-mooi in vars vrugteslaai. Lieflik op ‘n kaasbord.  Groot bederf saam met hawermout vir ontbyt!

En die rooi vlekke op die hande werk mens sommer vinnig weer weg.


Maar so met die uitdop van die pitjies, met die rooi sap wat oor my hande loop, laat dit my tog dink aan Paasfees. So gepas dat dit juis nou in seisoen is. Goed om bietjie stil te raak en verder te dink as net dit waarmee ek nou besig is….

No comments: