Wednesday 26 April 2017

Musiek in my ore

Geen radio. Geen CD’s. Vandag luister ek na die oorverdowende donderslae hier van Seepunt se kant af   En dan die reënbuie wat so heerlik hier verby my neerstort.

Lanklaas, indien ooit, dat ek sulke swaar weer in Kaapse omgewing beleef het. Iemand stuur ‘n foto van ‘n palmboom wat deur ‘n weerligstraal getref is en aan die brand geslaan het. Sjoe, sal ons ooit die krag van die elemente besef? Ek wonder of dit harder klink hier tussen die hoë geboue? Of dalk omdat ek redelik hoog in die lug sit? En alleen is???

En toe hoef ons ons ook nie te steur aan die selfoon app wat vertel dat dit nie vandag gaan reën nie (nadat dit vroeër die week almal opgewonde gehad het oor beloftes van reën). Dit bewys maar net weer – waar onse waters vandaan kom, word nie deur mense bepaal nie. Voorspel, ja. En raai, ja.

Hier  in onse kasteel kan sommige van die vensters glad nie van binne af gewas word nie. Ja, ons het al daai affêretjie probeer wat hulle so op die kassie adverteer. Maar toe nou nie so suksesvol en maklik soos wat dit op die advertensie lyk nie. My ma het mos hoeka altyd gesê: “Papier is geduldig”. Al raad wat manlief bedink het, is om dié vensters op hul wydste oop te stoot as die reënwater val sodat die ergste stof kan afspoel. En as mens lang arms het en betyds is, kan jy selfs bietjie Windowlene so op ‘n afstand spuit en hoop vir die beste om die saak aan te help.

Vriendin vra of ek al gehoor het hoe 1 800 kinders gelyk gil ná ‘n donderslag naby hul skool. Sy meen hulle is niksgewoond Kapenaars! Voorwaar is dit deesdae die geval, liewe vriendin!

Hier my kant is die berg nou ontsluier en ou Van Hunk het so ‘n ligte stopseltjie ingesit. Seker om te kyk hoe daai fynbos nou aan die groei gaan daar teen die berg se skuinsste.

Dink net hoe gaan die veld nou begin regmaak vir ‘n ware gallop!


No comments: