Tuesday 4 April 2017

Elke druppel tel

Wat ‘n wonderlike gewaarwording as mens so deur die slaapnewels besef dis regtig reën wat jy hoor val!

Na baie jare in ‘n huis met ‘n sink platdak, is dit vreemd om nie die reën op die dak te hoor val nie! Ai, die gaste van Namibië was dikwels bekommerd as die Kaapse storms so verbygekom het met die gietende reën. Met die eerste Kaapse koue het ons die kaggel opgesteek en die muskadel uitgehaal. Nog ‘n rede om iets spesiaals te vier! 

Dit laat my weer dink aan my gesprek gister met die toeris vanaf Switserland. Dis nou sekerlik een van daai lande waar die inwoners nooit vir ‘n oomblik dink aan ‘n watertekort nie. Sal die woord “droogte” ooit in hul woordeskat wees?

Toe ek haar gister vertel van hoe erg die droogte huidiglik hier by ons is, was sy baie verbaas. En besorgd. En ek besef net weer: dis ook een van ons probleme met waterverbruik en watermisbruik in Kaapstad. Hier is derduisende toeriste. Ja, ek weet in elke badkamer is daar ‘n aanmaning om water spaarsamig te gebruik – of dit behoort elk geval in elke badkamer te wees (ook word dit so aanbeveel deur die Suid-Afrikaanse Toerisme Graderingsraad TGCSA). Maar hoe sal die besoekers aan ons land dit werklik weet? Hopelik doen hulle bietjie navorsing oor die land wat besoek word – maar sal hulle dan werklik Kaapstad besoek as hulle lees dat daar net genoeg water vir 100 dae is?



Om te bad is vir my ‘n luukse. En o, hoe geniet ek dit om saans in daai watertjies in te sak! Maar om my deel van die waterbesparing te doen, het ek besluit om net te stort. Dis my beskeie bydrae tot die saak. Ek dink ek moet iewers in ‘n ander provinsie gaan kuier om ‘n slag weer te kan bad. Wat ‘n luukse!

No comments: