Thursday 20 April 2017

Verposing langs die pad

Die lekker van vakansietyd, is dat mens kan kies of jy vinnig wil reis of stadig wil aankruie en stop by interessante nuwe plekke.

 ‘n Vakansiehuis veroorsaak dikwels groot inpak en oppak en so vinnig as moontlik van vertrekpunt na eindpunt reis – ook om daai bevrore kos betyds weer anderkant in die vrieskas te kry.

Noudat ons nie op die oomblik gebind is aan vaste eiendom nie, gebruik ons die kans om bietjie af te draai van die grootpad af en wye draaie te gooi na plekke waaroor ons voorheen net gedroom het of vinnig in die verbygaan gesien het.

So wens ek om my verjaardag met manlief by die mooie Jan Harmsgat op die Robertson Wynroete te vier. Ek bespreek vir ons middagete by die plek wat nog altyd my belangstelling so in die verbyry geprikkel het. Lowergroen mooi omgewing met wit opstalle. Prentjiemooi.

En ons was nie ‘n enkele oomblik teleurgesteld nie! Die kombuispersoneel het selfs vir my kom sing van seën en baie jare vorentoe…. En ‘n pragtige ruikertjie met geurige sagpienk rose is spesiaal vir my gemaak en aangedra. Bederf is die woord! Die kos was geurig en ekstra (gratis) nagereg is aangedra om my verjaardag mee te vier. (Nou verstaan ek hoekom my klere effens stywer sit na ons paar dae se vakansie….)
Terug by die huis is ek glad nie verras om te sien Aleit se tv program is by Jan Harmsgat se restaurant opgeneem nie! Die restaurant is na die eienaar, Amy Kleinhans, vernoem. ‘n Groen oase waarby jy maar kan stilhou vir ‘n ruskansie onder die pragtige  pekanneutbome.

No comments: