Wednesday 12 April 2017

Soos die sonkolletjie aanskuif

So skuif ons saam met die sonkolletjie. Om bietjie son op die vel te voel. Die heerlike koestering van warmte. Nie hitte. Net so ‘n heerlike, sagte omvouing van vredigheid.


En so saam met die skuif van die sonkolletjie, weet ons dis die begin van ‘n nuwe seisoen. Tyd om die somerskleertjies weg te pak. Wat moet bly vir ‘n volgende somer, wat word uitgegooi.

En ook tyd om die wintersklere nader te trek. Te beskou wat bruikbaar is, verwonderd te wees oor wat skielik nie meer pas nie!? Besluit te neem wat moet bykom om die winter mee op te kikker.

Tussen die verjaardae aan ons kant, is dit mos oorskakeling van somer na winter. Gewoonlik is dit so. Elke jaar ‘n aardigheid om dit dop te hou! En ja, klink my hierdie jaar gaan dit weer so wees! Haal dus maar die warmer truitjie en die steweltjies uit. Hier kom die koue en die reën! En hierdie jaar gaan niemand kla oor die nattigheid nie!

En so skuif elkeen van ons ook aan na die volgende kolletjie – mag dit ‘n sonkolletjie wees!  ‘n Sonkolletjie van vriendelikheid en vrolikheid saam met vriende en familie om die lewe te vier!


Lekker kaste uitpak! Dis sekerlik ook waarvoor so baie langnaweke bymekaar goed gebruik kan word! Laat die koue jou nie onverhoeds betrap nie!

No comments: