Tuesday 25 April 2017

Luilekker dae

So met al die langnaweke, is ek sekerlik nie die enigste een wat nie by bietjie roetine hou nie. Nou nie dat ek al ooit ‘n roetine-mens was nie! Maar dit hoef ek vir niemand wat my ken, te vertel nie! Selfs manlief kan al die nie-roetine-vrou hanteer. En dikwels geniet hy nogal die “uit die bloute” dinge waarmee sy vroutjie vorendag kom…. Dis wat hy self sê, so hoekom sal ek dan nou verskil? Of verander!

Maar so sonder roetine is dit ook nie so maklik om weer te doen wat ek eintlik moet nie. Ja, daai Paulus-saak verstaan ek tog te goed. En dalk, net dalk, is dit vir iemand wat in roetine is, makliker om die slaggate mis te trap…..

Van binne die begroting bly, kan ons tweetjies hier in onse kasteel ook maar vergeet! Hierdie maand, van 30 Maart tot 30 April, het ons ‘n huweliksherdenking en drie gesins-verjaardae. En dis sonder kosbare vriende se verjaardae wat ons ook graag vier. En dan is daar die vakansiedae waar die motor se wiele met ons draaie wil gaan gooi, ekstra lekker kos wat gemaak en geproe moet word so oor die Paasnaweek…. Ag, ek hoef julle nie te vertel nie! Ons het almal maar daai ou uitdaginkies met die pennies en ponde. Dis net hier oor April wat dit bietjie neuk op onse werf se boekhouding….


Maar die luilekker dae van langnaweke is heerlik! En om saam met hartsmense rustig te kuier, is een groot geskenk. Dit voel amper of dit oefening vir manlief is vir aftrede.
Meimaand gaan ons begroting klop…..

No comments: