Tuesday, 8 November 2016

Wat moet ons hieraan doen?

Opvallend dat daar geen bedelaars in die V&A Waterfront omgewing is nie.

Dis heerlik om daar rond te loop sonder iemand wat gedurig jou voorkeur met “I don’t want money ……” wat dan uiteindelik - na ‘n gesprek - daarop neerkom dat dit maar geld is wat nodig is. Want wie van ons kan dan sonder geld regkom hier op aarde? Geld is beslis nie alles nie en ook nie die belangrikste in die lewe nie, maar hoe oorleef jy sonder die rande en sente?

Vroeër vandag ry ons die stad in by die Kasteel verby. Feitlik teen elke boompie se stam probeer ‘n bergie ‘n koeltetjie kry. Daar is duisende mense wat hier in die stadskom op straat woon. En ja, ek weet meeste van hulle wil nie gehelp word en teruggaan na hul families nie. Maar dit bly hartseer-ontstellend.

Hoe los mens hierdie probleem op? Dis nie meer ‘n uitdaging nie. Dis ‘n probleem.

Vanmiddag klim ek weer uit my gemaksone uit om by die nagskuiling boekies te gaan koop om bladsytjie vir bladsytjie uit te skeur en aan te gee as ons gaan stap. Dis beslis nie ‘n oplossing nie. Dis sekerlik ook nie wat die bedelaar eintlik van my wil hê nie. Maar dalk is daar net iemand vir wie dit moed gee.

Maar ek moet dit gaan koop. Daar net om die draai van waar die bergies dik strepe teenaan mekaar onder die brug lê. Hulle pla nie eens nie. Hulle is net te moeg van sukkel. En binne die omheining van die Haven Night Shelter werk engele. Ek moet net moed bymekaar skraap. Dis nie lekker nie. Dit gaan mos elk geval nie oor of dit vir my lekker is of nie… Genadiglik help manlief my om oor daai drumpel te trap.


Die vraag bly: Wat moet ons hieraan doen? Wil ek help om ‘n piepklein verskil te maak? Net uit dankbaarheid. Omdat ek hier knus gemaklik sit nadat ek 'n heerlike bord kos geniet het. En weet dat ek vanaand warm water en 'n bed het.

Monday, 7 November 2016

Hiervan is ek seker

Vanoggend stap ek deur een van die groot winkelsentrums. Verbeel ek my of is die “jingle bells” versierings van ouds bietjie getemper? Ek het nêrens die afgewaterde liedjies hoor speel oor luidsprekers nie. Ek het ook nie overdaad versierings gesien nie. Ja, wel klokke en blink, maar in ‘n meer stylvolle manier.

Verlede week luister ek so met een oor na ‘n radiopraatjie oor die onmin wat deel is van Kersvakansies. Hoe hartseer! Dis nou een van daai tradisies waaraan ons saam met die wêreld vasklou. Wat spesiaal kan wees as familietyd en omgeetyd, word dikwels ‘n bakleiery oor wie waarheen wil en moet of nie mag nie.

Onmoontlik om almal tevrede te stel!

Ja, die ou-ou raad van kommunikasie bly maar die enigste oplossing. Praat, praat, praat! En kies die regte tyd om daaroor te praat! Moenie wag tot almal oorhoeks gejaag en op ‘n knop is oor Kersfees nie! Doen dit sommer nou!

Maak dit weer ‘n fees van liefde. Eenvoud.

Dis regtig nie nodig om te baklei oor wie se beurt dit hierdie jaar is om vir die oumense te sorg nie! En ook nie nodig om jaloers te wees oor wie die grootste geskenk gee of kry nie! Laat ons die een dag wat ons onsself Jesus-volgelinge noem (die dag wat nêrens aangeteken is dat ons dit moet doen nie!) onthou van eenvoud. Van nederigheid. Van omgee. Want ai, hoe het ons onsself in so 'n komplekse klomp bog toegewikkel!


Hiervan is ek seker: dat dit eenvoudig ‘n dag van liefde – in eenvoud - moet wees! Dankie, my kinders, dat julle jul ma se hart verstaan.

Saturday, 5 November 2016

Wat is daar?

Wat is op jou bedkassie?

Dit vertel dalk bietjie meer oor jou. Oor in watter fase van jou lewe jy is.
‘n Glasie water. Met ‘n kraffie by? Dalk met ‘n gehekelde doilie oor? Om te drink. In vergange se dae was daar ook ‘n glasie om die tande in te sit. Die kunsgebit. Want, o wee, niemand mag mens sonder jou tande sien nie! (Nogal een of meer van die vroulike geslag wat my destyds laat belowe het ek moet hul tande in hul mond sit sodra hulle “bykom” na ‘n operasie!)

Dalk ‘n slaappilletjie langs die water? Enetjie wat so laat as moontlik gedrink word sodat die nagrus nie knap na middernag eindig nie. En dalk nog ‘n pilletjie vir die angstigheid of lastige pyn? Beslis ‘n leesbril om seker te maak die regte medikasie vir die regte moeilikheid.

En deesdae ‘n flits. Dis noodsaaklik. Nie meer vir die ESKOM eskapades nie, maar vir veiligheid. En pepersproei naby die flitslig? Moet net nie dit op onskuldiges gebruik nie.
Selfoon. Afgeskakel? Aangeskakel? Klank net af, maar byderhand vir wie-weet-wat? As jy jonk is, is dit op jou ore – hoe skadelik dit ook, volgens sekere kenners, mag wees. Jy moet in voeling bly. Dalk skakel vriendin om te vertel hoe haar aand verloop het. Of dalk wag jy vir daai spesiale nagsê-boodskap wat droomland verseker. Miskien moet jy in kontak bly met iemand wat op gevaarlike paaie diens doen.

Handeroompie om daai hardwerkende handjies mee te troos. Of ‘n pynwerende smeertjie waarmee manlief net daai seer skouer moet invryf om die spierspasma vir die oomblik weg te jaag.

En boeke! Ja, meer as een. Vir die siel. Vir stilte. Om tot rus te kom. En ‘n lekker leesboek. Die akademiese een wat kopwerk vereis, is nie langs die bed nie; dié soort laat mens se gedagtes dwarrel en formules uitwerk. Hier langs die bed is ‘n sagter storie nodig. Dalk oor reise na ver plekke. Of reise na binneplein.

Tyd dat ek my bedkassie ‘n slag afstof en weer kyk hoe sake staan….  

Friday, 4 November 2016

Het jy al uitgevind wat hulle dalk weet?

Dit gons hier om ons! Toeriste waar jy jou draai!

Hulle weet dalk iets waarvan jy nie weet nie? Kaapstad is ‘n bestemming om van te droom!
Kom kuier ‘n slag in jou moederstad! Hier is soveel om te sien en te doen! Ja, dit kos geld, maar mens kan op ‘n goedkoop manier die stad verken en die mooi beleef.

Met dapper en stapper het ek en manlief baie meer beleef as wat ons dit in ‘n voertuig sou doen. En dan is dit natuurlik gesonde oefening daarmee saam! Gratis! En as mens moeg is, is die MyCiti bus altyd naby – gerieflik en bekostigbaar.

Google discover cape town en kyk net wat ‘n heerlike klomp uitdagings om jou omgewing te leer ken!

Hoop ek sien jou binnekort!



Hierdie lieflike woonplek is in Cape Quarter omgewing. As ons nie gestap het nie, het ons dit gemis! En daai rooi hibiscus blom doen net die ding!

Thursday, 3 November 2016

Gits, dis ‘n foutjie!

Vroeër die week gaan ons vir ‘n stappie. Ek stel voor ons ry bus tot by die V&A Waterfront, stap ‘n ent langs die promenade, stap tot by die winkel om kosvoorraad effens aan te vul en kry die bus terug huis toe. Manlief het rugsak vir die aankope en ek halveer sommer dadelik my lysie.

Toe stap ons heelpad terug met my sandale ‘n ent in my hand omdat die wintervoetjies nie gewoond is aan die riempie tussen die tone nie…. So kom ons bietjie later tuis as gewoonlik.

Met die skottelgoed was later die aand, hoor ek ‘n gehamer aan ‘n deur. Ek wonder wie vir wie uitgesluit het. Gewoonlik is die bure baie stil en hoor ons hulle net wanneer hulle hul deur oop- of toesluit. Maar dit klink regtig soos ‘n gehamer aan hulle deur. En daar hoor ek ook ‘n roepstemmetjie en besef dit is van binne die deur.

Foeitog, dis toe al die tyd die vrou wat hul woonstel kom skoonmaak, van wie hulle vergeet het. Ek gesels bietjie met haar deur die toe deur en probeer haar tot bedaring bring. Sy is al van 07:00 die oggend in die woonstel toegesluit. Ons kry ‘n selnommer, maar hulle antwoord nie. Ek probeer die arme vrou bemoedig en stel voor dat sy probeer kalm bly en vir haar solank iets maak om te eet. “Here is nothing to eat…” En ek kan niks doen om te help nie. Dis al donker en die arme vrou moet nog ver paaie om weer tuis te kom. Dalk staan daar iewers by ‘n toegesluite huisie ‘n verlate kindjie en wag vir ‘n mamma…. Uiteindelik laat weet die bure hulle is op pad.


En vanoggend is daai vrou sowaar weer op haar pos…. Toe ek haar vanmiddag in die gang raakloop, lag sy vriendelik oor haar wedervaring. Sjoe, vergifnis is ‘n wonderlike ding! En as mens kos moet koop en skoene vir jou voete, kom jy sekerlik maar terug na die werk toe waar jy weet jy jou dagloon kry. Al vergeet hulle soms van jou….


Wednesday, 2 November 2016

‘n Jaar se dae en dinge

Gister het ons ‘n jaar se verblyf hier in onse kasteel gevier.

En skielik is daar moontlik net so 6 maande se bly hier neffens die groot klip oor…

Die een vraag wat seker die meeste in ons ouderdomsgroep gevra word, is: “Hoe lank gaan julle nog in jul huis aanbly?”  Maar vir ons word gevra: “Wat gaan julle doen nadat die broodwinner afgetree het?”

Ons weet nie! Die lekkerte is dat ons opsies het, maar nie nou hoef te besluit nie. Dus probeer ons werklik “in die oomblik” leef. Ons geniet die stad se energie. Die voorreg om in een van die mooiste stede in die wêreld te mag woon. Om saam elke dag die nuwe en vreemde en snaakse van hier om ons te kan beleef, is vir ons lekker! Om dit te kan beleef, maar veral om dit saam te kan beleef.

En hier is ‘n paar van die vele lesse wat ek die afgelope jaar geleer het:


Tuesday, 1 November 2016

Wat neem jy saam?

Kindertyd was die padkos ‘n groot en belangrike saak. Skaars buitekant die dorp teen die eerste bultjie was dit al tyd vir die eerste “bederfie” – gewoonlik ‘n paar skyfies biltong. Dan het kleinboet syne in sy hempsakkie gesit. Hy het tussen my en ousus op die agterste sitplek van die motor gesit. Dis voor die dae van veiligheidsgordels. Die afklapsitplekkie (seker bedoel gewees as armlening) was net reg vir hom. Ek dink my biltong was eerste op. En so ‘n myl of wat later (ja, daar was toe nog nie eens kilometers nie!) het boetie vermakerig sy skyfies biltong een vir een uit daai hempsakkie uitgehaal en dit knibbel-knibbel geniet. Moenie dink dit het my geleer om ook bietjie terug te hou nie!

Ons het nooit ‘n piekniekmandjie gehad nie. Daar was wel ‘n leertas met alles wat mens nodig gehad het vir ‘n propperse piekniek – en elke bord en mes en vurk en lepel het ‘n spesiale plekkie gehad waar dit met leerbanjies vasgemaak is. Maar dit was nie vir padkos langs die pad bedoel nie. Hardgekookte eiers, hoenderboudjies, toebroodjies, frikkadelletjies ….. dit was vir die stilhou langs die pad in die dae toe dit nog veilig was.

Onse groot vriend was altyd goed voorberei op ‘n stop langs die pad vir ‘n koffietjie. Die koffiefles en blikbekertjies gereed vir ‘n lafenissie langs die pad onder ‘n koelteboom. En as daar ‘n uitsig was, des te beter om die omgewing te verken terwyl die lang beskuite in die koffie gedoop en ‘n wysheid kwytgeraak word. Dit alles om te keer dat mens nie pienk kolletjies voor jou oë sien as die hongerte jou beetkry nie.

Ek en manlief pak minimum padkos in. Maar reis ons saam met dogter en haar man, weet ons daar is selfs ‘n gasstofie en alles wat nodig is om ordentlike koffie te maak. En hoe lekker is dit tog nie! Dit laat my sommer ekstra verlang en uitsien na ‘n vakansie met die kinders….. Dalk kan hulle ons weer leer van piekniek hou. Onder ‘n boom. Met ‘n uitsig. En tyd vir wyshede.