Friday 29 September 2017

Huiskos

Huiskos. Koshuiskos. Darem naby mekaar as mens dit skryf. Maar daar hou die ooreenstemming op!

Ek ruik nog daai donker skoolkoshuisgange. En nee, al was dit net vir ‘n kort tydjie, was dit nie vir my lekker tye nie. Dis dalk hoekom die hawermoutpap wat ek soggens maak, vir my nie lekker smaak nie… Maar ek doen dit. Hulle vertel my dis gesond en goed vir my. Hoe sal mens nou ook ooit regtig weet?

Van die lekkerste lekker vir my is om my kinders en hul liefies om my tafel te laat aansit met huiskos. En ons gesels en kuier en geniet sommer net mekaar. Omdat dit baie raar is dat ons al agt gelyktydig bymekaar is, des te meer kosbaar. Dan raak huiskos sommer koesterkos.

Toe manlief die groot vraag vra, het hy een versoek gehad: “Ek weet jy wil graag ses kinders hê, maar kan ons maar probeer vir vier?” Nou het ons ses met die liefies wat deel is van ons gesin. En komende van ‘n man wat enkelkind was, was dit sekerlik ‘n redelike versoek. En natuurlik het hy geweet ‘n onderwyser se salaris is net soveel.


Nou verlang ek sommer na my ma se tafel. Haar kos. 
Tyd dat ek die spyskaart bedink…..

Tuesday 26 September 2017

Die regte stukkie op die regte plek


Ons is mos maar elkeen soos ‘n legkaartstukkie. Elkeen het ‘n plekkie waar ons – net ons – inpas. Dis soos dit bedoel is. As jy in die regte plekkie is, voel jy gemaklik en tuis. En jy weet jy is daar om die groter prentjie te voltooi.

Maar nie altyd so maklik nie! 

Soms pak mens daai rand stukkie vir stukkie en is ingenome omdat dit eintlik so maklik is. Net om later agter te kom daai stukkie wat klaarblyklik daar ingepas het, was toe nie 100% die regte een nie. Ja, dit gebeur ook in die lewe. Soms dink ons dis nou regte plek, regte tyd, regte ding. En dan word ons ontnugter en besef dis toe nie heeltemal reg nie!

So kuier ons die afgelope naweek saam met nuwe kennisse. Heerlik ontspanne en vrolik. En so interessant om almal dop te hou en na elkeen se storie te luister. En om te weet elkeen is spesiaal. Elkeen het ‘n spesiale plekkie. En nee, moenie probeer om in ‘n ander een se plek in te pas nie. Daar is een soos jy. Uniek. En nodig om die groter geheel in ‘n kunswerk te omskep!


So het onse pragtige land se mense elkeen ‘n deeltjie wat pas in ons kleurryke prent. En so pas ons ook in die grote wêreld – om te sorg vir ‘n reёnboog!

Friday 22 September 2017

My erfenis

Die boodskap word gister gestuur:
Let’s show off our heritage at work tomorrow!
Bring a traditional snack to share with your unit, wear a traditional item of clothing or simply come as yourself. If you feel that it represents your heritage, share it with us.

En ek wonder: Wat sou ek saamneem om te eet? Wat sou ek dra? Wat is my erfenis – die deel wat ek graag wil saamvat verder?

Ja! Sekerlik Tannie Corrie se koeksisters!!! En melktert!

Klere? Nee, dit weet ek werklikwaar nie. Manlief soek dadelik na sy groen Springbok sportbaadjie. En sy kepsie met die bokkie op. (Na die afgelope Bokke vs Jy-weet-wie wedstryd is ek nogal verbaas dat hy dit wil dra!) Maar ek dink nie daar is enige tradisionele klere waaraan ek vashou nie. My ouma het wel middae haar Voortrekker-kappie opgesit om die son weg te hou as sy gaan hoenders kosgee het. Maar ek dink dis omdat sy niks anders gehad het om die werkie mee te gaan verrig nie.


Gister stap ons by ‘n winkel in wat die mooiste kleurryke materiaal en Afrika-artikels verkoop. Een van die winkels met die mooier produkte van hoё gehalte na my mening. Lieflike tafellopers en laslapwerk. Maar ai, die prys etikette laat my uitstap sonder die lappies waarna ek soek. Alhoewel die lieflike Shweshwe materiale nie deel van my kultuur is nie, is dit tog deel van Afrika en synde ‘n kind van Afrika, is dit tog deel van my. Die heerlike reuk van daai lappe maak my opgewonde! Ek is verstom hoe die kleremakers daai stewige, onrekbare kleedstof kan omtower in skeppings wat elke kurwe ekstra beklemtoon. Sekerlik meesters van ontwerp en baie pylnate! Sondae se kerkdiens is een van die plekke waar die vroue met hul nuutskeppings opdaag. Verstommende vakmanskap aan elke uitrusting.


En dan het Jan Braai natuurlik sy eie stempel op die dag geplaas! Voel my so hy het man-alleen die vleis op die kole kom pak! Of die puriste nou daarvan hou of nie – Braaidag het deel van ons erfenis geword.

Thursday 21 September 2017

Ek wip my

Manlief se baas het opdrag gegee dat hy meer dikwels met sy vrou koffie drink. Dis om te oefen vir die aftrede. Wie kan dan nou so ‘n opdrag ignoreer?

Ons drink koffie by die varsprodukte mark en gesels sommer so oor die dag se dinge. Daar val presies vyf druppels reёn. Die verkopers by die stalletjies steur hulle min daaraan. Net die man wat juweliersware verkoop, pak vinnig sy boksies opmekaar, sit dit weg…. en begin dit weer uitpak, want die reёn is verby! Voor ek nog kon bly wees oor die serp om my nek wat ek oor my kop kan gooi, is dit iets van die verlede. Met die hoop op stortreёn wat voorspel word vir die dag van môre, stap ek terug kasteel toe en wens vir manlief ‘n lieflike dag op kantoor toe om nog ‘n paar vergaderings af te handel.

So met die gesels oor die koffie, word die restaurant se vars produkte afgelewer. Trollie na trollie kom die lieflikste produkte – wortels, tamaties, kruie, aartappels en wat nog alles – om die draai. Gehalte produkte. Trots uit ons eie grond.

Gister stap ons in by ‘n winkel daar op onse platteland en giggel oor die belaglike goedjies wat hulle in sakkies as “appels” verkoop. En dan is daar nog ‘n slegte een in feitlik elke sakkie. Ek wip my gat sommer ordentlik as ek sulke goed te koop aangebied word. Is ons dalk te maklik tevrede met swak gehalte wat teen belaglike pryse aangebied word?

‘n Dogter in skoolklere is hewig aan die argumenteer met ‘n werker van die buurwinkel waar ons instap. Ek glimlag vir haar. Sy is só ontsteld omdat hulle nie die produkte vir haar op die rakke het nie! Ek vermoed sy doen aankope vir haar Huishoudkunde praktiese eksamen.  En ek hoop sy raak ‘n verantwoordelike kliёnt wat die winkel op hul tone hou.

Oor sekere dinge kan on sons maar wip. Maar dan moet ons op die regte manier - so saam met die wip - met waardigheid optree! Nee wat, vir vrot produkte gaan ek nie betaal nie. Ek pak die suurlemoene uit in die mooi blou bakkie. Enetjie glip uit die sakkie - muf wangetjie was na die binnekant verpak. Uitgevang!!!

Tuesday 19 September 2017

Romantiek

Of is dit?

Ewig dankbaar dat ek in die twintigste eeu gebore is! Daai opgepofte klere wat nie gewas kon word nie, die rytuie met harde wiele wat mens se binnegoed los skud, die stadige pas waarteen alles geskied het…. Nie vir my nie.

Image result for mr selfridge quotesEn tog geniet ek keer op keer die lieflike stories oor vergange se dae. Dalk romantiek?
Die flambojante Mr Selfridge het my vasgenael gehou voor die tv. En al die heerlike herinneringe aan die winkels van lank gelede. Sjoe, dit het darem baie verskil van vandag se winkels! Destyds het my ma en haar vriendinne hul uitgedos vir hul besoeke aan die stad: handskoene, polfytjies, opgedress. En sekerlik dankbaar aan die einde van die dag as daai hoёhakskoentjies uitgeskop kon word! In Selfridge’s sou jy geensins anders gesien wou word nie!

Harry Gordon Selfridge, Sr. (11 January 1858 – 8 May 1947) was an American retail magnate who founded the London-based department store Selfridges. His 20-year leadership of Selfridges led to his becoming one of the most respected and wealthy retail magnates in the United Kingdom. He was known as the 'Earl of Oxford Street'.

So ook het ek Downton Abbey tot in die fynste besonderheid geniet. Die fynste detail wat ingegaan het om die kombuise van destyds uit te beeld. Daar sou ek my meer tuis voel saam met die personeel as by die hoёlui met hul aansitterigheid!

Hoekom sou hierdie tipe reekse vir my soveel plesier verskaf? Moontlik omdat beide die reekse so uitstaande was. Gehalte van dekor, choreografie, akteurs. Ag, sommer net alles saam was so spesiaal.

Seker romanties, maar ek verkies tog die moderner weergawe van romanties as dit by my eie leefstyl en voorkeure kom!

Monday 18 September 2017

Kyk, alles is nuut!

Dis wat lente aan mens doen. Nuwe lewe wat uit elke bloeiseltjie en blaartjie uitbeur en oopbars! Nuwe hoop. Nuwe begin. Varsheid!

Die suidoos klits ons so nou en dan, maar dis ook deel van die koms van lente in die Kaap. Dis die tyd van die jaar dat die jongmeisies hul kort rokkies mooi vashou in die lawwe windjie. Ons Kaapse meisies weet al mooi hoe.


Oral kruip die nuwe jong lote van plante deur openinkies in die mure. Of dit nou droogte is of nie – dis tyd vir groei. En ook tyd om agter te kom watter plante ons moet aanplant hier waar die son feller gaan raak en die water minder. Dis goed om te sien hoe tuiniers op slim maniere plan maak om steeds mooi tuine te skep.

Een van die klein restaurantjies in Kloofstraat het ‘n watertenk styf teen die muur op die sypaadjie om die geute se water op te vang. As jy nie mooi oplet nie, loop jy daar verby sonder om dit op te merk.

So maak ons steeds planne om die waterverbruik te verminder. Daai bad waarsonder ons gedink het ons nie sal kan klaarkom nie, raak ‘n heerlike luukse – slegs op baie spesiale dae - en die badwatertjies word emmertjie vir emmertjie uitgeskep en benut.

Op die harde manier het ons geleer van elektrisiteit. En nou water. Mag ons dit deel maak van ons bestaan vorentoe. 

Friday 15 September 2017

The Story of my Life

Dis die heruitsending van Bobby en Karlien van Jaarsveld se tv-program op VIA wat my weer ‘n keer tot stilstand bring. Ek kyk dit vir ‘n tweede keer. Ek nooi manlief om saam te kyk. Hy ken sy vrou goed genoeg om te weet hy kan maar kyk – daar is iets spesiaals wat gedeel moet word.

So dikwels kyk ons vas in vooroordele. Ons besluit “dis nie eintlik ons ding daai nie”. En sonder dat ons dit weet, mis ons iets besonders wat ons lewens aanraak en ons manier van dink verander. Dis so met hierdie tv-reeks. Ek het nie belang gestel nie. Toe kyk ek eendag so in die verbygaan. En daar sien ek waaroor dit eintlik gaan. Genoeg gesê. Kyk self. Jy sal beslis nie spyt wees nie. Elke episode delf diep. Beslis nie oppervlakkige blinkheid nie.

Die episode met Vernon Barnard raak mens se hart aan. Vernon is die blinde jongman wat aan The Voice deelgeneem het. Met sy liedjie het hy harte geroer. So ook in die tv-program met die Van Jaarsveld celebrities wat sagte harte het.


My oё het oopgegaan.

Thursday 14 September 2017

Diep denkend

Vanoggend staan ek by die groentestalletjie by die varsprodukte mark en wonder oor wat gekoop moet word. Sal ek boontjies koop vir groen op die bord? Manlief is nie danig erg oor boompies nie … slegte ondervinding gehad wat hom nog bybly. Mmmm, die murgpampoentjies en ertjies lyk heerlik vars!

Langs my staan ‘n vrou. Haar oё, soos myne, op skrefies getrek soos sy dink. Wat moet vanaand voorgesit word?


Om te koop en te kook volgens seisoen en wat in die omgewing verbou word, is altyd my inspirasie. Beter op die begroting ook. En help sommer om die spyskaart so op die ingewing van die oomblik te beplan.

Dis net daai ekstra plooie om die oё as mens so diep denkend is oor die aankope!

Wednesday 13 September 2017

Die pilletjies

Gister het ek die voorreg om vir ‘n paar uur in ‘n dokter se spreekkamer deur te bring. ‘n Onbenydenswaardige voorreg…

Aanvanklik is almal ‘n stil, stywe, ongemaklike, effe senuagtige groep. Dan word ons een-een geroep dat die toetse gedoen word. En so raak ons almal dieselfde. Dieselfde toetse, dieselfde vrae, dieselfde vrese. Onsekerheid doen vreemde dinge aan ‘n mens.

En ons begin met mekaar gesels. Sommige so met die jassies aan – vasgevat hier om die kaaltes (genadiglik die keer aan die voorkant oop wat die toehou makliker maak!). En ons raak vriendelik met mekaar. Sagter. Hoor wat die ander sê. En luister.

Die omie en tannie wat vanoggend in die platteland hul huisdokter besoek het en skielik moes stad toe en nou sit en wag vir ‘n hospitaalbed…. Die twee stuitige manne wat vir hul ses-weke ondersoek is na hul verblyf as buurmanne in die hospitaal. ‘n Dogter met haar bejaarde ma. ‘n Ou omie wat so vinnig via sy huisdokter met sy tingerige vroutjie in die rystoel aangekom het, dat hy heeltemal vergeet het om haar kunsgebit in te sit.
Die man uit ‘n ander agtergrond wat langs my sit, beaam ook: Uiteindelik het ons net mekaar. Die goetertjies is nie belangrik nie.

Een maal per jaar besoek ek die kardioloog. Ja, dis nodig. En met dankbare hart kan ek daar uitstap. Alle sakies wat verlede jaar aangespreek is, is onder beheer gebring. En sus sal so dankbaar wees, want sy sê juis: Ma is enige apteker se nagmerrie! Darem nie meer nie. Ek het geleer mens moet maar geduldig, gedienstig, gedwee die voorgeskrewe pilletjies sluk.

Diep dankbaar vir die voorreg om ‘n mediese fonds te hê. En diep dankbaar dat ek heerlike, gesonde kos kan eet en nog ver kan stap om die dinge van die oudheid bietjie teen te werk. Saam met 'n omgee-maat. Met die pilletjies.


Tuesday 12 September 2017

Ambidextrous

Seker omdat my onderwyser in standerd 4 (vir die wat jonk is: graad 6) met sy linker- en regterhand ewe goed op die swartbord kon skryf, dat die woord iewers by my vasgesteek het. Nie dat ons daai gewigtige Engelse woord daai dae geken het nie! Die onderwyser het geensins bohaai gemaak oor sy ambidextrocity nie! Vir hom was dit heeltemal natuurlik en logies dat hy nie voor die geskrewe deel op die bord moet staan as hy verder skryf nie – sit net die bordkryt in die ander hand en gaan aan met wat gedoen moet word! As kind is hy sekerlik, soos so baie ander, gedwing om regshandig te wees terwyl hy eintlik as linkshandige “geskep en bedoel” is. So neuk die samelewing soms om ons anders te maak as wat ons “bedoel” is. Genadiglik is linkshandigheid nie meer deesdae ‘n vreemde verskynsel nie! Daai linkshandige tennisspelers het altyd ‘n voordeel!

Tydens die afgelope US Tennis Ope het ek meer as een keer gesien hoe spelers sommer met die “ander” hand die raket gryp en probeer om daai bal raak te slaan. Enigiets om die punt te kry! Nie so maklik nie, maar tog moontlik. Hoe meer jy oefen….

Anderdag stap ons in ‘n systraat op en kom op 'n man af wat besig is om die mure van ‘n kunsgallery met kryt te versier. Hy geniet my “oohs” en “aahs” en beduie ek kan maar foto’s neem. Die man teken ewe vaardig met sy linker- en regterhand. Dis nou ‘n heerlike voordeel vir hom as kunstenaar – sodra die doek te groot word en die verf nat onder sy hand, skuif hy die kwas na sy ander hand en gaan aan met speel!



Ambidextrous : using both hands with equal ease or dexterity

In Afrikaans word dit vertaal met “dubbelhandig” of “ewehandig” of “tweehandig” / vaardig met albei hande. Ek sou “ewehandig” kies, want die ander twee klink bietjie of daar twee van die soort links of twee van dieselfde regs is. So iets.

Thursday 7 September 2017

Om te gee en om te ontvang

Vanoggend het ek in oorvloed ontvang. Dit het gevoel soos verjaardag – een na die ander geskenk wat ontvang word en oopgevou word.

Nee, dit was nie die soort geskenke wat met groot oorweging van die winkelrak af uitgesoek word en met sorg toegedraai word in kleurige papier en fleurige lint nie.
Dit was ‘n paar boodskappies wat ek op my selfoon ontvang het. Van verskillende mense. Uit verskillende oorde. Niemand aan mekaar verbind. Sommer net. Sekerlik nie toevallig nie!

Hoe lekker om so bederf te word!

Onlangs sit ek en kyk hoe ‘n bruidjie haar vriendinne geniet by haar kombuistee. En hoe hulle haar bederf. Elke geskenk vir haar gekies. Sy sal die vriendinne onthou wanneer sy haar geskenke gebruik. Sommige met ‘n stoute glimlaggie!

Dis darem baie lekker om ‘n geskenk vir ‘n spesiale persoon uit te soek. En om die pakkie mooi op te maak, is ‘n lekkerte op sy eie!


En ‘n boodskappie van net letters uit die hart uit, is kosbaar! Hoe ouer ek word, hoe minder nodigheid het ek vir goeters. Vir my is ‘n opregte boodskap genoeg. Maar dis heerlik om vir daai jonges wat nog bymekaarmaak, te bederf met ‘n pakkie wat mooi getooi is!

Wednesday 6 September 2017

Stapelvoedsel

Die vrou skuins voor my in die bus stut ‘n sakkie aartappels teen haar been. Sy sit gemaklik agteroor in die wiegende bus. Kosbare rustyd.

Ek wonder waarheen sy op pad is. Klaar gewerk en op pad huis toe proviand aangekoop? Vir aandete? Alles vir een aandete? Hoe veilig is die stoorplek as dit moet hou tot ‘n volgende etenstyd? Hoeveel wag vir die welkome roep “Kos is op die tafel!”? Is daar ‘n tafel?

Aartappels. Stapelvoedsel vir baie. 
   
Eintlik ‘n koddige woord. Wat word gestapel? Kos? Opgestapel?

Stapelvoedsel verwys na kossoorte wat die skares moet volmaak. Elke kultuur se eie voorkeure - en natuurlik wat beskikbaar is. Nie die duur en skaars kossies waarvan dissies gemaak word nie. Die soort wat mens se maag vol maak. Aartappels kan darem baie gaatjies volmaak. En magies rondmaak. 

Hoeveel aartappelskyfies word hier om ons by al die wegneemeetplekke gebraai? Vir die skares gaan dit nie om low carbs nie. As mens honger is, is daai die laaste woord waaraan gedink word. My pa het dikwels opgemerk: Julle weet wat dit is om lus te wees vir kos, maar julle weet nie wat honger is nie. Ware woorde.

Manlief is geseёnd met ‘n vinnige metabolisme. 'n Paar jaar gelede, na ‘n operasie, het hy binne ‘n week 7 kg gewig verloor. Dit was ontstellend! Slim vriendin onthou toe dat sy in een van die ouderwetse kookboeke se agterblaaie gelees het om vir pasiёnte wat gewig moet optel, aartappels te voer. Ons het gedoen. Dit het gewerk! (Maar ongelukkig werk dit ook met die kok wat die kos moet voorberei en nie vooraf gewig verloor het nie!!!)

Met aartappels kan mens soveel doen! Braai, kook, rooster, sop! Hoofgereg, slaai, bykos. Allerlei maniere. Ten spyte van wat die sportmanne hoor, bly aartappels ‘n wenner op enige spyskaart.  En met die lang fietsritte staan die bakke aartappels gereed vir daai fikses wat die yster pomp.

Moenie vergeet van die kreatiewe kant van daai uitgegroeide moer nie – onthou jy nog van aartappeldrukwerk?

Hoe ver sal sy daai 7 kg sak aartappels moet dra? 


Tuesday 5 September 2017

Wat doen jy dan?

So nou en dan – genadiglik nie dikwels – hang die miswolk van grysheid om en oor my.

Dan help dit nie om vrolike, jolige ligte musiek aan te skakel nie. Dis net te oppervlakkig. Dis dan tyd vir musiek wat die liggaam, siel en gees raak. Sommer diep aanraak. En heerlik, o so wonderlik, uitlig na ‘n nuwe vlak van menswees. Op ‘n plek waar die aardse gewoel en gewerskaf en geklingel nie saak maak nie.

Habakuk sluit sy gebed af met: “My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie…..”

Dit neem my terug na lank gelede. ‘n Jongman van die gemeenskap is dood in ‘n leeu-aanval. Dit was ‘n hartseer storie. Die boodskap van die ouers by die roudiens was: “…nogtans sal ek jubel”. Sjoe, dis ‘n boodskap om te onthou.

Gebeur dit soms met jou ook? Dat jy ‘n gryser as gewone dag beleef? Wat doen jy dan?


Luister na die mooi klanke! Die miskombers het gelig! Kyk op en wyd en sien die nuutheid raak!

Monday 4 September 2017

Wrede werklikheid

Sondagoggend drink ons koffie op die balkon. My oog vang die aktiwiteite oorkant die straat. Polisie. Probleme. Moeilikheid.

Sover ons kan sien, was daar ‘n ongeluk. Of dalk nie? Het iemand self gespring? Of is die persoon by die venster op die hoeveelste verdieping “gehelp” om te spring?

Wat ookal gebeur het, bly ‘n hartseer storie. En vanoggend se koerant is tjoepstil.

Later vang ons die bus Kampsbaai toe en stap verder kuslangs. Verstommende groot branders op die kuslyn. Die see lyk misleidend stil en rustig, maar elke nou en dan kom daar reusebranders – besonder lang branders wat op die sand breek en teen die rotse uitbars in spierwit bondels. En ons verstaan hoekom ‘n tienermeisie en twee vriende van die rotse afgeslaan is. Sy het nie oorleef nie.

Ons ontdek ‘n juweel! Bakoven. Altyd die naam gelees in die verbyry, maar nog nooit ingestap tussen die pragtige huisies nie. Huisies mag ek hulle wel noem, maar meer as ‘n plaas se prys nodig om een te koop!!!

Wat ‘n lieflike lentedag! Wat ‘n lieflike, mooie land! Maar ai, hoe hartverskeurend is die wrede werklikheid dikwels.

Friday 1 September 2017

Lieflike Lente!

Of dit nou droogte is en ons nog baie reёn begeer en of dit nog koud om die boud is hier in die Kaap – dis Lente!

Lente het darem net sy eie bekoring. Die sagtheid van nuwe blaartjies en blomknoppies wat uitgestoot word. Groenigheid en blommetjies wat oraloor kop uitsteek. Dit bly so mooi en spesiaal.

Nuwe lewe wat deur Lente versinnebeeld word. Hoop. Opgewondenheid in die lug. Die eekhorings is sommer ekstra vol lawwigheid met hul bollemakiesies!

En natuurlik al die nuwe uitrustings wat die jongmeisies nie meer kan wag om te vertoon nie! Gladde beentjies, lyfies wat draai en swaai.

Om nie van die liefde te vergeet nie! Dis mos wetenskaplik bewys dat die liefde werklik in die Lente blom!