Wys jou ware kleure
Saterdag verlustig
ons ons weer in die heerlike vars produkte wat by die V&A mark aangebied
word. Inspirasie vir die kok is altyd welkom en nodig!
Die pers boontjies
trek dadelik my aandag. Nog nooit so iets gesien nie! Dit kos dubbel die prys
van die groenes, maar ‘n handvol sal darem nie die begroting skade aandoen nie.
Die verskillende kleure klein tamaties is ook pragtig en ek skep handevol in
die papiersakkie: rooi, oranje, geel, swart! Die tamaties word teen halfprys
uitverkoop en ek kry genoeg vir ‘n lekker slaai @ R10.
Teen die einde van
die markdag word daar altyd ‘n winskopie aangekondig. Vandag is die lieflike
donker vye afgemerk. Aanvanklik was die vye te duur na my smaak, maar met die
spesiale prys raap ek ook ‘n boksie mooie vye op.
En toe maak ek die
boontjies gaar. Die pers boontjies. Ek wys dit eers vir die gaste by hul
aankoms: Kyk die interessante boontjies! Het julle al ooit pers boontjies
gesien? En net voor opskeptyd dompel ek die boontjies vinnig in die
kookwatertjies voor hulle bietjie botter kry.
En daar verkleur
die boontjies…. die boontjies is groen!!!!
Is ek met ‘n slap
riempie gevang? Hulle smaak presies soos hul (altyd) groen maters. Weet die
boer dat die boontjies eintlik verkleurmannetjies is?
Verander ek ook
met kleur as die warm watertjies my raak?
No comments:
Post a Comment