Waters van rus
Soos die son sak
en die skadu’s langer word, word Langstraat bedrywiger en donkerder. Letterlik
en figuurlik. Dis nie nodig dat mens ‘n toergids het om jou te vertel wat alles
daar aangebied word nie.
Langstraat is
kuierplek. Vermaak te kus en te keur. Vir elke smaak is daar ‘n geur. Heerlike
kos en interessante kuierplekke. Dit vind die baie toeriste vinnig uit!
Maar ongelukkig is
Langstraat ook ‘n hartseer plek. Van mense wat seer het en dit op gevaarlike
maniere probeer vergeet. Die stad krap oop wat seer is. Hier is dit “in your face” – die ellende, die
oppervlakkigheid, die gebrokenheid, die moedeloosheid te midde van geraas en
gerumoer. Hoe helderder die liggies in die donker nag, hoe meer sigbaar die
mense se soeke na iets om te help vergeet.
Maar verder op in
Langstraat is ‘n hawe van stilte en rustigheid. ‘n Lieflike Victoriaanse gebou
wat omring is van koelte en kalmte. ‘n Lafenis in ‘n lawwe wêreld. Hulle vertel
my dit was destyds ‘n klooster - deesdae woonstelle.
Die rustigheid en
vrede wat mens met die instap deur die pragtige ou hekke ervaar, die lieflike
tuin, die heilige teenwoordigheid wat mens nie anders kan as aanvoel nie. Wat
‘n wonderlike hawe van vrede te midde van die mallemeule-lewe straataf.
Dit gee my hoop.
Want iewers in die geharwar is daar waters waar rus is. ‘n Plekkie waar vrede
heers. Gaan soek jou plekkie waar jy rus kan kry. Daar is water wat jou dors
kan les. Weer en weer en weer ‘n keer! Sommer net ‘n plek waar jy kan stil word. En
nee, die “waaroms” gaan ook nie daar in “daaroms” verander nie. Maar glo my, jy
gaan rus kry.
No comments:
Post a Comment