So spesiaal
Ons staan sy aan
sy in my kombuis en maak toffie-appels vir een of ander fondsinsameling. Dalk
vir die Kinderkrans? Te lank gelede om te onthou waarvoor daardie keer se
arbeid ingesit is.
Maar ek onthou vir
seker haar woorde: “Staan bietjie daai kant toe, want jy mors baie oor my hande
met die warm (en taai!) stroop!”
Met die
kindertjies wat deur die huis hardloop, uit by die voordeur, oor die parkie –
met die swart Labrador agterna. Hulle gaan sekerlik weer ‘n tent bou op die
parkie. Lekker speel en lag. En koekies en koeldrank kom soek as die huisie
klaar gebou is en bewoon moet word.
Lekker dae van
lank gelede.
Vandag is my hart
seer omdat my buurvrou van drie dekades ons finaal gegroet het.
Maar my hart loop
ook oor van dankbaarheid omdat ek haar kon ken en baie dinge saam kon beleef.
Haar lus vir die lewe het vir vele vrolike partytjies en pieknieks gesorg. Altyd
reg vir ‘n lekker op-dress. Haar
liefde vir haar maat sal haar kinders inspireer. Haar dapperheid en geloof sal ons vir ewig
onthou.
No comments:
Post a Comment