Stappie teen sononder
Vrydagaand het ons
die heerlike vreugde gehad van ‘n stappie teen sononder in die lieflike
Kirstenbosch. Wat bekend staan as “Moonlight Walk”, was een heerlike
ondervinding. Iets wat ons beslis graag weer sal wil doen.
Ons Kaapse vriende
het ons genooi om saam met hulle die volmaan te gaan besigtig. Wat ‘n heerlike
manier om die week mee af te sluit!
Teen vroegaand het
al die stappers by Kirstenbosch se amfiteater-trappies bymekaar gekom. Dis toe
baie meer mense as wat hulle verwag het, so almal is genooi om sommer teen hul
eie pas op te stap na die boonste grasterasse. Die trekker met sleepwa het ons
rugsakke met proviand en die nodige voggies opgelaai en vir ons vervoer.
Om die massas te
vermy, besluit ons toe om regsom te stap deur die minder bekende Braille roete
vir gesiggestremdes. Wat ‘n lieflike paadjie tussen die welige varings en
groot bome deur. Maar steil was dit beslis en met baie kreune en steune en
sweet wat getap het, het ons gekom waar ons moes.
‘n Uiltjie het kom
groet. Die tarentale het met hul kuikens kom spog.
En die volmaan het
met ‘n knipoog tussen die wolkies deur vir ons kom nagsê.
No comments:
Post a Comment