Tuesday 28 February 2017

Antjie, liewe Antjie

Vandat ek kan onthou, het ek ‘n toegeneentheid teenoor die veerpootjies. Hoendertjies is vir my pragtige goed! En die kuikens, o, die kuikens!!! Lieflik! En dan koop mens daai kuikentjies vir die kinders en hulle dra hulle rond en gee kos en water … tot die gediertetjies groot en uitgegroei is en nie meer so snoesig en sag is nie! Skielik is dit “werk” om hulle te versorg!

Kleintyd op my oupa se plaas het ons gaan eiers uithaal op die werf. Soms het ons ver van die huis af gestap om by al die neste te gaan kollekteer. Pragtige vars goudbruin eiers. Nou en dan is ek geroep om die eier uit ‘n spesiale nes uit te haal. Net ek het die voorreg gehad. Want sien, die eier het soos ek gelyk. Of ek het soos die eier gelyk. Dan was dit ‘n kalkoeneier. Vol spikkels.

Hoe kan julle dan nou nie verstaan dat ek ‘n totale minderwaardigheidskompleks gehad het nie?! Wie wil dan nou soos ‘n eier lyk?!

Ek glo dit was goed bedoel.

In ons agterplaas in Langstraat – aan die onderpunt van die erf ver van die huis af – was ‘n dammetjie met eende en hoenders. Ongelukkig was dit ook die plek waar die Sondag-hoendertjie geslag is. Dit bly my by…. Gelukkig het dit nie my smaak vir hoender belemmer nie.

So nou en dan kuier ek en niggie oor middagete by Joostenbergvlakte. Die hoendertjies en kuikens kry altyd spesiale aandag.  En ons meen ons herken elke keer die een spesiale hoendertjie met die deurmekaar veredos! Met ‘n yslike houding op daai lyfie skrop sy en kom wys haar kleintjies. En elke keer word foto’s geneem. Al lyk dit presies soos die vorige keer, kruip hulle ellke keer diep in ons harte. Ouderwetse goedjies!


Tyd dat ek die oond aanskakel vir aandete. Raai wat is op die spyskaart?

Monday 27 February 2017

So spesiaal

Ons staan sy aan sy in my kombuis en maak toffie-appels vir een of ander fondsinsameling. Dalk vir die Kinderkrans? Te lank gelede om te onthou waarvoor daardie keer se arbeid ingesit is.

Maar ek onthou vir seker haar woorde: “Staan bietjie daai kant toe, want jy mors baie oor my hande met die warm (en taai!) stroop!”

Met die kindertjies wat deur die huis hardloop, uit by die voordeur, oor die parkie – met die swart Labrador agterna. Hulle gaan sekerlik weer ‘n tent bou op die parkie. Lekker speel en lag. En koekies en koeldrank kom soek as die huisie klaar gebou is en bewoon moet word.

Lekker dae van lank gelede.

Vandag is my hart seer omdat my buurvrou van drie dekades ons finaal gegroet het.

Maar my hart loop ook oor van dankbaarheid omdat ek haar kon ken en baie dinge saam kon beleef. Haar lus vir die lewe het vir vele vrolike partytjies en pieknieks gesorg. Altyd reg vir ‘n lekker op-dress. Haar liefde vir haar maat sal haar kinders inspireer. Haar dapperheid en geloof sal ons vir ewig onthou.    


Friday 24 February 2017

Waters van rus

Soos die son sak en die skadu’s langer word, word Langstraat bedrywiger en donkerder. Letterlik en figuurlik. Dis nie nodig dat mens ‘n toergids het om jou te vertel wat alles daar aangebied word nie.

Langstraat is kuierplek. Vermaak te kus en te keur. Vir elke smaak is daar ‘n geur. Heerlike kos en interessante kuierplekke. Dit vind die baie toeriste vinnig uit!

Maar ongelukkig is Langstraat ook ‘n hartseer plek. Van mense wat seer het en dit op gevaarlike maniere probeer vergeet. Die stad krap oop wat seer is. Hier is dit “in your face” – die ellende, die oppervlakkigheid, die gebrokenheid, die moedeloosheid te midde van geraas en gerumoer. Hoe helderder die liggies in die donker nag, hoe meer sigbaar die mense se soeke na iets om te help vergeet.

Maar verder op in Langstraat is ‘n hawe van stilte en rustigheid. ‘n Lieflike Victoriaanse gebou wat omring is van koelte en kalmte. ‘n Lafenis in ‘n lawwe wêreld. Hulle vertel my dit was destyds ‘n klooster - deesdae woonstelle.


Die rustigheid en vrede wat mens met die instap deur die pragtige ou hekke ervaar, die lieflike tuin, die heilige teenwoordigheid wat mens nie anders kan as aanvoel nie. Wat ‘n wonderlike hawe van vrede te midde van die mallemeule-lewe straataf.


Dit gee my hoop. Want iewers in die geharwar is daar waters waar rus is. ‘n Plekkie waar vrede heers. Gaan soek jou plekkie waar jy rus kan kry. Daar is water wat jou dors kan les. Weer en weer en weer ‘n keer!  Sommer net ‘n plek waar jy kan stil word. En nee, die “waaroms” gaan ook nie daar in “daaroms” verander nie. Maar glo my, jy gaan rus kry.

Thursday 23 February 2017

Die soet en sag

Soms (nogal dikwels vir sommige) moet mens dit wat om jou is, uit ‘n ander hoek beskou. Nie net die voor die handliggende raaksien nie.

Soos met pere. Daai klipharde, groen of bruin misvormde vrugte wat as pere verkoop word. Mistroostige goedjies. En moenie dink hulle word – soos die handelaar jou verseker – sommer ryp op jou rak by die huis nie.

Maar so nou en dan kry ek die pere te koop wanneer hulle ryp en sag en heerlik is! Dan kan ons dit geniet soos wat dit van die boom af kom. Eers byt mens daai langnekkie morsaf! Daarna ‘n hap in die vet lyfie dat die soet sap so teen jou ken af drup.

En dan is daar natuurlik die bederf van pere in rooiwyn gestowe. Dis nou van daai soort wat nog nie heeltemal eetbaar sag is nie. Met kaneel en steranys en geurige speserye. En ‘n ruim hoeveelheid rooiwyn uit manlief se versameling. Opgedien met ‘n lieflike sous en die lekkerste roomys…. Mmmmm, met goeie geselskap is dit darem net alte heerlik om ‘n kuier mee af te sluit.

So, as die pere op die winkelrak nie so gebruikersvriendelik lyk nie… maak ‘n plan! Skil hulle en vorm hulle met jou skerp messie dat hul weer soos pere lyk! Stowe hulle liefderik in daai sousie!


Moenie dat kliphard of misvormd jou onderkry nie! Kyk verder! Droom en doen dat dinge beter raak! Nog ‘n skeppie roomys oor – dit kan net nog lekkerder raak! 

Wednesday 22 February 2017

As die pappotjie die dag aanbrand…

Daar is mos nou maar net sulke dae.

Die dae as die kastrolletjie nie op die regte oomblik aandag kry nie.

Die dag wat hy oorkook. En jy net vir daai oomblikkie vergeet het van die potjie op die stoof.

En suster, as hy oorkook, is dit ‘n gemors! Maar as hy aanbrand! Ag tog, nog veel erger!
Vanoggend so met die skoonmaak van die stoof – ja, die besigheid het gelukkig net oorgekook en nie aangebrand nie – begin ek toe pappotliedjies hier vir myself sing…

En ek wonder oor daai lepel wat in die pappot staan. Waar kom dit tog vandaan? En volgens HAT is dit die verklaring:

so lank as die lepel in die pappot staan = opwekking om moed te hou  

Sou dit nou wees dat daar nog pap in die pot is en dus kan die lepel regop staan in die pap? As daar nog pap in die pot is om die lepel regop te hou, dan gaan dit nog goed met ons?


Vanmiddag gaan die man wat respek by my afdwing, sy begrotingsrede in die parlement lewer. Hoeveel pap is in daai pot?

Monday 20 February 2017

Wys jou ware kleure

Saterdag verlustig ons ons weer in die heerlike vars produkte wat by die V&A mark aangebied word. Inspirasie vir die kok is altyd welkom en nodig!

Die pers boontjies trek dadelik my aandag. Nog nooit so iets gesien nie! Dit kos dubbel die prys van die groenes, maar ‘n handvol sal darem nie die begroting skade aandoen nie.

Die verskillende kleure klein tamaties is ook pragtig en ek skep handevol in die papiersakkie: rooi, oranje, geel, swart! Die tamaties word teen halfprys uitverkoop en ek kry genoeg vir ‘n lekker slaai @ R10.

Teen die einde van die markdag word daar altyd ‘n winskopie aangekondig. Vandag is die lieflike donker vye afgemerk. Aanvanklik was die vye te duur na my smaak, maar met die spesiale prys raap ek ook ‘n boksie mooie vye op.

En toe maak ek die boontjies gaar. Die pers boontjies. Ek wys dit eers vir die gaste by hul aankoms: Kyk die interessante boontjies! Het julle al ooit pers boontjies gesien? En net voor opskeptyd dompel ek die boontjies vinnig in die kookwatertjies voor hulle bietjie botter kry.

En daar verkleur die boontjies…. die boontjies is groen!!!!

Is ek met ‘n slap riempie gevang? Hulle smaak presies soos hul (altyd) groen maters. Weet die boer dat die boontjies eintlik verkleurmannetjies is?

Verander ek ook met kleur as die warm watertjies my raak? 

Thursday 16 February 2017

Die gawe van gesondheid

Die afgelope naweek verlustig ek en manlief ons in ander mense se sportiwiteit. Ons is toeskouers by die Driekamp Wêreldkampioenskappe wat in en om die V&A Waterfront in Kaapstad aangebied word.

Wat ons glad nie kan verstaan nie, is dat dit nêrens (sover ons kan sien) geadverteer word nie en dat daar feitlik geen mediadekking is nie. En dit terwyl ons twee top atlete van Olimpiese formaat het wat deelneem. Richard Murray (nogal van Durbanville) en Henri Schoeman wat die medalje van hom beroof het tydens die Olimpiese Spele.

En met ‘n fikse meisie (vir wie ons in ons familie kon verwelkom) wat ook deelneem, is dit vir ons heerlik om die klomp entoesiastiese deelnemers te gaan aanmoedig.


So loop en wonder ek hardop of ons ooit ons gesondheid genoeg waardeer. Dis een van daai dinge wat mens as geskenk kry en wat jy sommer as gegewe aanvaar. Soort van dink dat dit mos nou jou reg is.

Later die dag sien ek gestremdes wat deelneem. Mense met baie deursettingsvermoë.


En ek is skielik intens bewus van my beweeglikheid. My gesondheid. ‘n Voorreg. 

Monday 13 February 2017

Stappie teen sononder

Vrydagaand het ons die heerlike vreugde gehad van ‘n stappie teen sononder in die lieflike Kirstenbosch. Wat bekend staan as “Moonlight Walk”, was een heerlike ondervinding. Iets wat ons beslis graag weer sal wil doen.

Ons Kaapse vriende het ons genooi om saam met hulle die volmaan te gaan besigtig. Wat ‘n heerlike manier om die week mee af te sluit!

Teen vroegaand het al die stappers by Kirstenbosch se amfiteater-trappies bymekaar gekom. Dis toe baie meer mense as wat hulle verwag het, so almal is genooi om sommer teen hul eie pas op te stap na die boonste grasterasse. Die trekker met sleepwa het ons rugsakke met proviand en die nodige voggies opgelaai en vir ons vervoer.

Om die massas te vermy, besluit ons toe om regsom te stap deur die minder bekende Braille roete vir gesiggestremdes. Wat ‘n lieflike paadjie tussen die welige varings en groot bome deur. Maar steil was dit beslis en met baie kreune en steune en sweet wat getap het, het ons gekom waar ons moes.

‘n Uiltjie het kom groet. Die tarentale het met hul kuikens kom spog.

En die volmaan het met ‘n knipoog tussen die wolkies deur vir ons kom nagsê.

Friday 10 February 2017

Wat is jy?

Daai troetelnaampie vertel ‘n storie.

Is jy “My skapie?”
Of “My skat?”

‘n Spesiale een wat ek hoor hier onder my hartsmense, is “My lief”. Dit doen my hart goed.

Toe ons kinders was, het die tannie af in die straat ‘n suster (?) gehad vir wie hulle “My hondjie” genoem het. Regtig waar! Dit was haar naam! Ek wonder of sy geblaf of gebyt het toe sy die eerste lig aanskou het….

As ek as “Skatte bôôôôl” aandag kry, spreek dit boekdele. (Gewoonlik ‘n effe irritasie in die stemtoon….) En as manlief my op my naam aanspreek, is dit nie die vrolikste geleentheid nie.

My pa kon die pippelêllekoors kry oor al die sogenaamde gledmaakdae. Valentynsdag het nie in sy woordeskat bestaan nie. Maar ai, dis darem maar lekker om so ‘n ekstra soetigheidjie op die oor te hoor (en te proe!) in die maand van die liefde!

Gister het ek oorgenoeg gehad van “Your honourable” wat toe glad nie ken van honour nie en die woord goedkoop maak.

Vandag sal ek die mense oraloor om my sommer net met die sagtheid van witte wolletjies aanspreek. Genoeg van mense wat op mekaar trap, mekaar verskree, geen respek het nie. Ek en jy sal maar op grondvlak moet werk aan die omgee vir mekaar. Elke dag ‘n sagte skapie wees. Troos uitdeel. Met sagte oë na ander kyk. Met groot geduld.


Thursday 9 February 2017

In belang van my land

Soos dit ‘n goeie landsburger betaam, doen ek vandag wat van my verwag word.

Ek bly tuis en maak die kasteel van hoek tot kant skoon. Nou ja, nie heeltemal so goed soos wat Maria M se dogter sou doen nie, maar goed genoeg volgens my standaarde. En dis alles te danke aan my President.

Vandag loop mens nie sommer vir die lekker rond in die stad nie. Glad nie berg se rigting van hier af nie. En as jy nie met jou voertuig hier hoef te wees nie, uitstekend! Hier is genoeg goed met wiele en sirenes en alarms en dinge. En dit sal sekerlik meer word soos die dag vorder.

Soos ons almal gewaarsku is, is hier gewapendes ontplooi. En in daai plooi wil ek nie vasgevang word nie, dankie!

Manlief praat van namiddag gaan stap. See se kant toe sal seker nie sleg wees nie.

Al die informele besigheidsmense is vandag met vakansie. Geen stalletjies langs die strate hier rond nie. Ai, foeitog, ek wonder hoe hulle nou hul dag se loon gaan verdien?

Hier is dit elk geval nou vars en vrolik om my heen. En alles te danke aan my President.

Wednesday 8 February 2017

Knorrers

Mense wat knor. Sommer knollers.

Verlede week stap ek in by ‘n baie deftige firma. Ek moet namens iemand anders ‘n waardevolle artikel neem vir diens.

Nadat ek deur ‘n hele paar sekuriteitshekke en –wagte en dinge moes deur, is ek uiteindelik in by die veiligheidsdeur. En ‘n stortvloed woorde en skril stemme tref my. Ek wonder vir ‘n oomblik of ek op die regte plek is. “Welkom” is glad nie wat ek ervaar nie.  
Maar die kliënt wat daar midde-in die luide woordewisseling staan, lag en ek glimlag maar saam. Hy ken hulle. Hy laat dit soos water van ‘n eend se rug af loop en met ‘n opmerking teenoor my oor wat hy van hulle dink, is hy lag-lag daar uit.

Uiteindelik, nadat ek die vrou wat nie kan ophou met praat nie, saggies aan haar arm vat en voorstel dat sy bedaar voor sy ‘n hartaanval kry, hoor ek darem ek is by die regte plek. En ja, ek is welkom (al moes ek dit twee maal vra!).

Wel, dis toe die eienaar haarself wat so gal braak oor kliënte wat nie optree soos wat sy graag sou wou hê hulle behoort te doen nie. Wel, ek is glad nie in my skik hoe sy my behandel nie! Maar uiteindelik is sy agter haar lessenaar in haar groot kantoor. Een van die werkers bring vir haar ‘n lieflike koppie koffie en dis my beurt.

Maar die vrou kan nie ophou praat nie! Oor alles en nogwat! En ek wil so graag vir haar sê: “Hou op met praat, bedaar, kalmeer en ek is seker jy kan dubbel die hoeveelheid werk gedoen kry in die tyd wat jy mors met knor.”

So neem ek manlief ‘n paar dae later saam om weer die kosbare stuk te gaan haal. Ek wil vir hom die lieflike houtwerk in die gebou wys en die vakmanskap wat daar gedoen word.

Die eienaar glimlag so skalks my kant toe – soos sy vroeër genoem het, ken en onthou sy elke kliënt! En sowaar, terwyl ons geduldig, gedienstig, gedwee ons beurt afwag, trap sy die een werker uit oor die “reuk” wat in die werkplek hang. Gits, ek kyk dadelik onder my skoene en wonder of dit ek is wat die mistigheid ingewerk het op haar Persiese mat. Maar ek ruik niks. Dis sommer net haar slegte gewoonte om fout te vind. Te knor.

En toe kom ons daar weg sonder om te veel klagtes oor die land van ons te hoor. Sy het darem genoem waarheen sy wil emigreer. Sy kan immers meer tale praat en sal oor die grens tuis voel. Maar dit sal jammer wees om die vakmanskap kwyt te wees.

Sjoe, om elke dag in so ‘n vrou se teenwoordigheid jou daaglikse brood te moet verdien, moet ‘n uitdaging wees!  Behoede as sy so by die huis ook is!!!

Monday 6 February 2017

Om te kan

Sekere dinge kan ek.
Baie wat ek nie kan nie.

Dis hoekom mens vriende het. Dis wat die woord “medemens” so spesiaal maak. Iemand wat die lewensreis met jou meemaak. Iemand wat op een of ander tyd saam met jou die pad loop. Tree vir tree.

So ‘n paar jaar gelede help ons ‘n skool met handwerkprojekte. Ons probeer sommer net inspireer. Dis ‘n spesiale skool met spesiale leerkragte (ook bekend as “engele”) vir kinders met spesiale behoeftes.

En op wonderbaarlike wyse raak ons ‘n klein groepie uiteenlopende vroue wat elke week saamwerk om die oorwerkte personeel so ‘n effense hupstootjie te gee. Saam kon ons.
Tydens een van die projekte, brei een van die helpers in ons groep se ma ‘n magdom poppies. Die soort wat mens in jou sak kan steek en aan kan vashou as die lewe jou druk. Of sommer net ‘n poppie om voor lief te wees. ‘n Poppie wat nie iets leliks vir jou kan toesnou nie.

Vandag blaai ek hier deur my rekenaar en kom weer op die foto’s af wat ons van die liewe poppies geneem het. En ja, soos die kindertjies wat met vreugde die poppies ontvang het, het elke liewe gebreide poppie sy of haar eie identiteit!


Ek dink vandag met deernis aan die tannie wat hulle gebrei het. Mooiste herinneringe wat sy agtergelaat het. 

Friday 3 February 2017

Sag soos ‘n vlinder

So was my ma vir my.

Natuurlik nie altyd nie! Ek was mos maar die gewone tiener met trane en tirades! En sy was die normale ma wat nie sommer nonsies gevat het nie.

Maar ons het ‘n hartslyn tussen ons gehad.

O, hoe verlang ek die bederftyd saam met haar. Sy kon die fyn kossies so met haar handjies vat. En saans, na ete met die afdekslag, het sy altyd vir haar ‘n bakkie van die oorskietslaai bymekaargeskep vir die volgende dag se “op ‘n broodjie”. Vandag maak ek vir my ‘n sagte broodjie met kaas en tamatie soos my ma daarvan gehou het. Met baie peper. 

My onthou van my ma is alles wat sag is.
Die lekkerruik van haar Worth parfuum.
Ek het graag saans voor haar spieëltafel gaan sit en die laaie oopgetrek om te ruik en te kyk en aan te smeer van haar sagte gesigroompies.

Blomme en die natuur waarvoor sy so lief was.


Soveel mooi herinneringe. Tot die einde toe. Kosbaar. Vandag, nege jaar nadat ons vir oulaas gegroet het, bly die mooiste mooi met 'n glimlag.

Thursday 2 February 2017

Hop jy saam?

Hops are the flowers (also called seed cones or strobiles) of the hop plant Humulus lupulus. They are used primarily as a flavoring and stability agent in beer, to which they impart bitter, zesty, or citric flavours; though they are also used for various purposes in other beverages and herbal medicine. The hop plant is a vigorous, climbing, herbaceous perennial, usually trained to grow up strings in a field called a hopfield, hop garden, or hop yard when grown commercially. 

Met ons reis deur die bergagtige dele rondom die mooie George en die Langkloof, kom ons weer af op die landerye met hops. Dit het ons Kapenaars destyds nogal ‘n tydjie geneem om uit te vind waarvoor die drade en stellasies is. En die bord met Outeniqua Hop Route het glad nie vir manlief sin gemaak nie. (Later wel!) Sonder die plante wat daarteen groei, is dit interessante raaiwerk! Maar hierdie tyd van die jaar rank die hopsplante lieflik en sprei hul groen slanke stele vol blommetjies of sade oraloor.

Op een van die plase teen die hoogste kranse van die Outeniqua bergreeks, is Herold Wyne. Die afgeleë plaas word aan drie kante omring deur ‘n natuurreservaat. Die fynbos is pragtig in blom en reisigers kan nie anders as om intens bewus te wees van die natuur nie.

Hier ontsnap mens in die somer van Oudtshoorn en die Karoo se hitte. Die hoogte bo seevlak en die gereelde mistigheid in die berge, sorg vir winterryp en -sneeu. Hulle word bederf met reën deur die jaar en die waterstroompies uit die berg wat die digte varings sproei, is sprokiesmooi.

As jy weer deur die Tuinroete ry en die natuur wil beleef, kies die Montagu Pas wat deur die berge by George deurkronkel. Dis die oudste pas wat deur Bain gebou is wat nog nie opgegradeer is nie. Met die kronkelende grondpad kan mens nogal jou gedagtes laat gaan en verbeelding laat loop. Ons voorsate was dapper en flukse mense.


By die mooie ou brug het ons hierdie kruisie raakgesien – half weggesteek tussen die varings, hoog teen ‘n krans op. Dit is met baie moeite daar vasgemaak en sou klim- en klouwerk vereis het.  Die een wat daai kruisie daar vasgemaak het, se storie sal ek graag wil hoor. 

Wednesday 1 February 2017

Eenvoud gee meervoud

Was dit nou ‘n heerlike ongekompliseerde naweek! (Ek spesialiseer deesdae in eenvoud en ogekompliseerdheid. Amper daar!)

Vrydagmiddag het ons ons bes gedoen om voor die druk stadsverkeer weg te glip, maar toe nou nie so nie! Maar ons het tyd aan ons kant – niks wat ons jaag nie en ons luister heerlik musiek en gesels sommer die week se dingetjies en die naweek se drome.

Dit reën heerlik en plasse water langs die pad is net ‘n vreugde! Dis goed om nattigheid op die verskroeide aarde te sien. Dit sal vir seker lewe gee in die fynbos en plante wat so wreed verbrand het.

Ons het ‘n halfwegstasie by Stilbaai en geniet die gasvryheid wat jarelange vriendskap bring. Tyd om bene te rek. Die vuurtjie brand al en die braaier is opgewonde om die rooster te draai!

Saterdag laatoggend vat ons die pad deur George en kronkel deur die lieflike Montagu pas by die piepklein dorpie Herold in die berge verby.

Die langsame middagete by Groot Brak het ons magies vol gehou vir die lang reis. Ná Willowmore draai ons links af Rietbron toe. En toe is dit mos nou so dat ons bestuurder vermoed daar is iets fout met een van die bande. Dit is toe ook so. Daai grondpad met sy skalie klip (?) eis sy tol. Maar tjoef-tjaf het ons die probleem opgelos - alhoewel tydelik – en is ons letterlik en figuurlik met ope arms in Rietbron ontvang.


Watter meervoudige vreugde het ons nie beleef nie! Dit was ‘n naweek om te onthou. Dierbare nuwe mense ontmoet, ou vriende weer omhels, sommer net die Karoo weer beleef. En asem geskep. Tenk volgemaak.