Tuesday, 23 January 2018

Meer verstaan

Wanneer my Karoo-vriendin deesdae vertel van “wag op reën”, verstaan ek heelwat beter. Daai wolkies wat so mooi opsteek…. En dan in die niet verdwyn…. Wat word van die water wat in daai wolk hang?

Ander vriendin wens iemand kan met ‘n vliegtuig daai reënwolk gaan aanhaak en nadersleep. Klink nogal na ‘n plan!

Gister sit ons die enkele paar houers wat ons hier het, buite neer. Met groot verwagting.  Groot teleurstelling toe ons vanoggend wakker word en sien daar is slegs bietjie wolke nog in die lug. Miskien? En toe glad nie! Nou is dit ‘n somersdag met geen hoop vir reën nie.

So lekker om te lees oor die donderstorms wat in die Baviaanskloof uitgebreek het. Daai waters sal darem bokspring oor daai klippertjies en klowe!

Op die harde manier leer ons om terug te keer na die basiese dinge. En as ek terugdink, weet ek hoe ek al water vermors het. Ten spyte van “Kinders moenie in die water mors nie, die oumense wil dit drink!”  Nooit kon dink dat ons werklik so 'n droogte sou beleef nie.
Onlangs is die kindertjies geleer om twee maal “Veels geluk, liewe maatjie” te sing terwyl hul hande was – dan is dit deeglik gedoen. Nou moet die arme goedjies leer om met ‘n sproeiseltjie water of selfs met waterlose middels hande te was. Sal interessant wees om te sien hoe dié jong geslag  in die toekoms met water werk.

En iewers is daar dalk net ‘n seuntjie wat lekkerkry omdat sy ma hom nie elke aand in die bad in boender om geskrop te word nie!

Friday, 19 January 2018

Wat is werklik nodig?
Slim om vir ander te herinner aan William Morris (1834 – 1896) se wyse woorde: Have nothing in your houses that you do not know to be useful, or believe to be beautiful.  
As mens alleen die besluite moet neem, is dit sekerlik haalbaar. Maar wat gedoen as iets vir die een huisbewoner wonderskoon mooi en sentimenteel is en die ander het daar geen erg aan nie? Dan is dit tyd vir ‘n ooreenkoms. ‘n Kompromis. Kommunikasie.
So leer ons (weereens) dat ons eintlik so min nodig het. Min wat noodsaaklik is.
Met die gewoel en –werskaf op ons werfie, moet ons mooi beplan. Wie het laas die meetband gehad? En wat daarmee gedoen?  Waar word die koffiebekers neergesit? Want alles is onder swart plastiek.
Alles is deeglik toegemaak onder plastiek. Drop sheets. En ai, hoe wonderlik help daai plastiekvelle om van die stof uit te hou. Maar o wee, sodra daai masjien aangeskakel word om deur die muur te sny, syfer daai fyn stoffies maar net weer oral deur. En as die droë windjie hier deurwaai en iewers ‘n puntjie plastiek vang wat nie stewig vasgeplak is nie, lyk dit soos ‘n wafferse rippeleffek brander!
Ons voel soos kampeerders! Sit op ons kampstoele oor die vlaktes met ‘n drinkdingetjie in die hand. Vuurtjie wat knetter vir aandkos. ‘n Bord, ‘n beker, ‘n lepel, ‘n bakkie vir die pap, ‘n mes en ‘n vurk. En natuurlik ‘n glas. Wat meer het mens nodig?

…. sê sy wat saam met manlief haar kombuiskassies beplan!

Wednesday, 17 January 2018

Stofstorms

As jy weet van stof, sal jy verstaan. As jy hou van Kgalagadi, sal jy kan.

Ek hou nie van stof nie.

Vandag is hier ‘n stofstorm. Ons hele huisie vol. Van hoek tot kant en weer terug tot in elke gleufie en ooptetjie.

Die bouers “grind” en “chase” en kap en slaan die hele besigheid tot dit pas in die nuwe vorm waaroor ons droom. En soms kom die droom en die werklikheid nie by mekaar uit nie, dan pas ons aan en maak ander plan. Maar dit woel en werskaf en werk teen ‘n spoed wat ons verras. (Dis nie 'n foto met swak beligting nie - dis stof!)

Ons span werkers is nie bang vir werk nie. En met die huisbaas wat saamwerk, is daar net middagete tyd vir ontspan.

Alles is netjies toegevou in plastiek, maar hierdie stoffie is fyner as die mooiste droomstrand se sandjies. Doppio Zero se fynste meel kan dalk kompeteer met onse stoffies op die werf…. (En die foto links is geneem voor die gekap vanoggend begin het! Toe lyk alles nog helderskoon!)

Genadiglik het die bure onlangs ook verbou en verbreek, so simpatie het hulle beslis en verder mag hulle nou nie kla as dit raas nie! En ja, alkant van hulle is daar verbrekings en verbouings.

Maar ons hou moed en sien die ster voor in die nag blink! Om die ster stofvry en blink te kry sonder water, is 'n ander saak....

Ek hou nie van stof nie, maar dis darem heerlik om ‘n droom te jaag!

Monday, 15 January 2018

Die Groot Trek (vergange se dae)

Gedurende ons verblyf in die stad, ry ons eendag so kruie-kruie agter ‘n voertuig wat hul bedryf adverteer: Two men and a truck.

Die naam bly my by. Om dapper genoeg te wees om ‘n besigheid te begin. Twee manne wat nie bang is om ‘n sweetjie op te werk nie en ‘n voertuig tot hul beskikking wat kan help om ‘n droom te laat waar word. Dis inspirerend!

So raak dit tyd om kwotasies te kry vir ons trek uit die stad terug na die platteland. En ek onthou die twee manne met hul trokkie.

Enigiemand of enigiets wat “om te trek” makliker maak, is altyd welkom. En dié firma slaag absoluut daarin. Professioneel. Op tyd. Vriendelik. Behulpsaam. Betroubaar. Billik.
Die afgelope twee maande het Two Men and a Truck twee maal vir ons gehelp om meubels te vervoer. Beide kere was ons baie beїndruk met hul diens. Ons hoor hulle het uitgebrei en het deesdae ses voertuie en ses spanne sterk en gewillige Zimbabwiërs wat vir hulle werk.

Met die laaste indra van ons pakkasies, besef ek dat ek darem ‘n foto moet neem vir die argiewe om die intrek te dokumenteer. Ek draf om die hoek om te vra of ek ‘n foto van hulle kan neem. Een van die manne het al sy oorpak uitgetrek en agterin die trok opgehang. Met ‘n groot glimlag trek hy weer aan en hulle geniet die fotosessie – ten spyte daarvan dat hulle pas, oor middagete, nogal hard gewerk het om alles uit te pak en rond te dra. Dit was ‘n lekker warm somersdag. (Ek het hulle belowe ek sal vir hulle adverteer. Dis maklik in die geval!)

Wednesday, 10 January 2018

Bring buite na binne
Een van die lekkertes van weer met ons voete plat en stewig op moeder aarde geplant te wees, is die vreugde van plante!
Skielik is dit so maklik en eenvoudig om iets in ‘n pot te plant! Indien jy dit nog nie probeer het nie, kan ek jou verseker: om op die tiende verdieping tuin te maak, kan nogal op ‘n ingewikkelde en uitdagende projek uitloop. 
Vele navorsing is gedoen oor die effek wat plante op mense het. Behalwe dat dit mooi is om na te kyk, is daar velerlei sielkundige effek. Uit ‘n studie wat by ‘n Universiteit in Kansas gedoen is, is die volgende bevind:
Based on several experimental studies, the presence of potted plants has been found to be helpful in many different settings including work, school, and hospitals. In particular, plants have been shown to...
·         Lower blood pressure (systolic)
·         Improve reaction times
·         Increase attentiveness
·         Improve attendance (at work and school)
·         Raise productivity (at work)
·         Improve well-being
·         Improve perceptions of the space
·         Lower levels of anxiety during recovery from surgery
·         Raise job satisfaction

Nou gaan julle darem sien hoe ons perform hier in nommer 20! Ons plantjies staan sterk! Die vraag is net of die eende ook dink die blaarslaai is sappig.

Tuesday, 9 January 2018

Hoe klop jou hart?

So met die koms van die nuwe jaar, is daar mos maar altyd “dinge”. Al vertel jy my jy het nog nooit ‘n Nuwejaarsvoorneme gehad nie, is daar tog so iewers diep in jou binneste ‘n gedagtetjie oor wat jy in die nuwe jaar anders wil doen of nie wil doen nie.

Gedurende ons tog deur die land, kom ons op ‘n droë, warm dag op Oudtshoorn af op ‘n lieflike kuierplek. Ons geniet ‘n allerheerlikste koppie koffie – dit word op die werf gerooster – en ‘n yslike stuk koek – dit word op die werf gebak. Lekker, man, lekker! Dit was aan die begin van die vakansie toe ons nog nie moeilikheid gehad het om die lyfband in die “nuwe gaatjie langs die uitgerekte gaatjie” in te haak nie.

So met my besoek aan die klein vertrekkie (voor ons vertrek), sien ek die lieflike beeld van die hart wat tussen die hande vasgehou word. Ek neem dadelik ‘n foto vir my vrolike vriendin wie se kind ‘n hartoorplanting gehad het. Ek weet sommer ek moet dit met haar deel. Dit sal vir haar spesiaal wees.


En ek wonder: hoe klop my hart? En dit laat my dink: hoe klop jou hart?

Wednesday, 3 January 2018

New Beginnings

Nuwe dag
Nuwe week
Nuwe maand
Nuwe jaar
Nuwe blyplek.

So het ons op Maandag 1 Januarie 2018 die dag begin. Op pad “huis toe” na twee maande en 4 dae en 6 000 km van rondrits in onse mooie land.

Die Natalse kinders verdien hul medaljes – hulle het immers die “voorreg” gehad om ons meeste van die tyd op hul werf te vermaak. En ons het besef hoe belangrik dit is om tog bietjie langer as net ‘n dag of wat by mens se kinders te kuier. Bietjie saam te bly onder een dak om mekaar weer van naderby te kan leer ken. Hulle is mos nou volwassenes met hul eie styl en eie huishouding. En dit doen ‘n ma se hart goed om dit waar te neem. En ‘n pa se hart ook.

Hoe voel ons oor ons nuwe uitdaging? Propvol nuwe gedagtes? Eintlik nie. Ons vat dit dag vir dag. Geniet wat die oomblik oplewer.

Gister het ons geskrop en geskuur en skoongemaak dat die skuimbolle so staan. Die ruite blink, die eendjies en ander gediertetjies het al kom groet en ek en manlief het al die skadu- en sonkolletjies uitgekyk.


Op hierdie oomblik sit ek en wag vir die vragmotor wat die trek moet bring hier na ons nuwe klein huisie (twee woorde!) neffens die groot boom. Hier waar ons wil kuier en klets met kosbares.