Wednesday, 13 December 2017

Hoe goed is jou connection(s)?
Tuis is mens se elektroniese goeters min of meer uitgesorteer en in plek.
Wanneer mens op reis is, is dit gans en al ‘n ander saak. ‘n Perd van ‘n ander kleur. A total different ball game. Eintlik sommer net ‘n frustrasie.
Of die kabel is te kort om by te kom, of die ontvangs is swak, of die battery is nie gelaai nie. Een of ander uitdaging wat mens in die gesig staar. Eintlik is dit die rekenaar se dooie skerm wat vir ‘n mens terugstaar….
So dat ek sommer belangstelling in die besigheid verloor.
Maar sonder my rekenaar en my tegnologiese wonderbaarlikhede en lekkertes, is ek ook maar ‘n ekstra vaal meisie.
Ek hou van bietjie weet wat aangaan. En nou deesdae sonder koerant van papier, is dit ‘n groot aanpassing. Eerstens vergeet ek om “koerant” te lees omdat dit nie iewers op die tafel of stoel lê nie. En indien ek onthou, is dit eers ‘n uitdaging om ordentlike ontvangs te hê – om eers reg te connect – voor ek kan lees. Eers nog mik en druk en die regte plek kry voor ek kan lees. Nee wat, glad nie dieselfde nie.

Hier waar ons tans in die boendoes rondkuier, is dit net nog veel erger. Op die oomblik ontspan ons in die Oribi Gorge omgewing. Grys en vaal en koud. En as ek gou bietjie wil inhaal met my rekenaarsakies terwyl die reentjie buite neersif, is dit nogal ‘n taamlike stryd. 
Manlief vang ‘n middagslapie. Dalk moet ek unplug en vergeet van moderne tegnologie…. 

Friday, 8 December 2017

Wasgoed wapperdag

Vandag was dit die ideale dag vir wasgoed was. Die reёn is vir eers weg en die sonnetjie het alte lekker kop uitgesteek. ‘n Ligte briesie het gesorg dat die wasgoed vinnig droog word.

Ek verstaan maar te goed wat ‘n vriendin bedoel het toe sy meen sy sal nie wasgoed kan was as daar nie ‘n wasgoedlyn en sonskyn is om dit in op te hang nie. Op ‘n tv program sit en luister ek na die jong egpaar wat besluit hulle wil ‘n bietjie in Afrika gaan woon en werk. Mannetjie is in ‘n pos aangestel in een van die groter stede in die noorde van Afrika. Wyfietjie sal vir eers tuis bly om gewoond te raak aan die vreemde. Synde Britte te wees, is dit nogal ‘n taamlike aanpassing wat op hulle wag. Hulle kyk na ‘n paar huise en vroutjie wil weet waar die tuimeldroёr is. Waarop die huisagent opgewonde beduie na die agterdeur: “Look at the wonderful washing line in the backyard!” Maar die jong vroutjie verstaan glad nie wat dit beteken nie….

Vandag kon ek my hare was terwyl die wasmasjien sy ding doen. En terwyl die wasgoed opgehang word, blaas die windjie sommer my hare droog. Dit kan dalk vir ‘n Britse meisie bietjie erge blootstelling wees. Maar ai, vir ‘n boeremeisie is dit darem alte lekker om so die natuurlike elemente te benut!


En die middagslapie daarna is een van die voordele van afgetree wees! Hier op die werf is dit rustig genoeg ... nie eens die vinke kan my wakkerhou nie!!!


Thursday, 7 December 2017

Groen is die land van Natal

Voorwaar ‘n lieflike groen land hier waar ons in Natal rondkerjakker.  En uiteindelik verstaan ons ook hoe dit moontlik is dat dit hier so grasgroen en welig is.
Dit reёn dae aaneen. Tussendeur is dit grys. En die weerlig en donderweer laat nie op hul wag nie.

Die klowe vang my heeltyd onkant. As ek dink ek is dié kant van die kloof, is ons aan die ander kant. En omdat dit bewolk is, is wes en oos ook glad nie waar ek dink dit moet wees nie. My rigting is totaal van koers af.

Maar mooi is dit vir seker! Die staproetes in die klowe en reservate is baie en hou ons aan die gang. Watervalle en stroompies oraloor.

Anton de Waal se liedjie oor Natal kom in my gedagtes op. En ja, ek verstaan nou vir die eerste keer hoe dit is dat die land van Natal so immergroen is!

GROEN IS DIE LAND VAN NATAL

Groen is die land van Natal;
wyd lę die velde omheen.
Wolke seil hoog in die blou hemelboog

en 'n arend vlieg na die son...

Wednesday, 6 December 2017

As die skoolklok lui

Heerlike lang, lui vakansiedae wat voorlê vir derduisende kindertjies! Toe die klok vandag gelui het om die somerskoolvakansie aan te kondig, was daar sekerlik baie voetjies wat gespring en gehuppel en gedans het!

Maar ai, dis ‘n lang vakansie om kinders besig te hou! Ek kry altyd die werkende mammas baie jammer. Groot uitdagings wat vir hulle wag. En ‘n dure storie is ‘n skoolvakansie – of mens nou tuis bly of gelukkig is om iewers heen met vakansie te gaan.

En dan is daar die studente wat studies voltooi het. Nuwe, vars leerkragte wat volgende jaar voor ‘n klas moet staan. Gegradueerdes wat in ‘n nuwe pos moet instap. Matrikulante wat hard moet werk om ‘n aanstelling te kry.

Met ons onlangse kuier in die Karoo was hierdie skoolklok by Rietbron se laerskool so oorspronklik! As daar nie meer water is wat die windpomp kan uitpomp nie, is dit ‘n gawe plan om die skoolklok te monteer. ‘n Boer maak ‘n plan. En ‘n slim juffrou ook.


Tuesday, 5 December 2017

Skop jou skoene uit

Tog te lekker om mens se skoene uit te skop.

Nie nodig vir opdress vir kantoor toe of vergadering toe of winkel toe nie.

En saam met die skoene-uitskop-stadium kom ‘n heeltemal nuwe stel reёls. Amper soos toe die kinders nog tieners was en ons enigste reёl by die strandhuis was: As iets jou pla, maak dit reg.

Skielik kan mens boek lees wanneer jy wil, so lank jy wil.

Dit voel kompleet soos skoolvakansie van ouds. Sonder die rapport.

Maar dan kom die verantwoordelikheidsin. Die stukkie wat ek moet uitvind: wat maak my lewe op hierdie stadium sinvol? Wat is dit wat ek moet doen wat ‘n verskil maak aan die nabyheid en nabywees hier om my? En verder weg?


Want net skoene uitskop kan tog nie al wees nie. Daar is immers iewers ‘n klippie met ‘n skerp randjie of ‘n dorinkie wat iewers pla. Met reg. Iets wat iewers dringend aandag vra. Die keuse bly myne: ignoreer ek dit of doen ek iets daaraan? Sekerlik nie nodig om oorboord te gaan nie, maar soms tyd om weer die skoene aan te trek. Al is dit vir net ‘n rukkie. Om weer later die skoene uit te kan (en te mag) skop.

Monday, 4 December 2017

Die lig in die tonnel

Sal daar altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel wees? ‘n Stukkie hoop?

Skoonseun gaan wys vir ons die tonnel waardeur die trein ry. Dis in die Shongweni area by die lieflike waterval by Dellville Wood. Maar voor ons by die mooie waterval kan kom, moet ons deur die tonnel. ‘n Mensgemaakte tonnel. Vir voertuie. Baie oud. Piknagdonker. Ek wil uit die motor klim om ‘n foto te neem, maar dis erg grillerig. Ek kan nie my hand voor my sien nie!

Uiteindelik is ons deur die tonnel. En daar is die lieflike waterval! Met water wat neerstort! Die trein ry by ons verby – ons is opgewonde dat daar nog treine is wat vir mens “toet-toet” in die verbygaan! Ons waai vir die "oom in die lokomotief" soos lank, lank gelede.

Vroegmiddag staan ons by jongmense se huis – vriende van ons kinders. Inbraak. Ontsteltenis. En ek wonder oor daai lig voor in die tonnel.

En ek bid dat hulle ‘n lig voor in die tonnel sien waarop hulle kan fokus. 

Friday, 1 December 2017

Verskeidenheid

Die verskeidenheid blaartipes het my verras!

Manlief het my oorreed om die Drakensberge te oorwin. Wel nie “kaalvoet oor die Drakensberge” nie, maar ewenwel erg genoeg na my sin. So mor-mor met die eerste paar honderd tree, wonder ek toe hoekom ons dit nou weer doen? Liefie noem vinnig ‘n hele paar redes: om die natuur te geniet; vir oefening; omdat dit lekker is; sodat ons hierna weer lekker kan eet; vir ‘n koue bier…. Mmmm, sommige van die redes klink vir my meer aanvaarbaar as ander.

Dis ‘n heerlike koel dag. Bewolk. En die humiditeit glad nie hoog nie.

Ons hoop om nie nat te reёn nie en om nie in die mistigheid ingesluk te word nie. Nie verdwaal nie. Nie van die paadjie afdwaal nie. Nie val nie. Oorleef.

Dis stil en wonderskoon mooi. (Dis nou nadat ek my gesindheid bietjie aangepas het.)

Maar steil. Die stappaadjie is gerieflik uitgekap uit die rots en stap eintlik heel gemaklik – selfs ek moet dit erken! ‘n Ouerige paartjie kom van voor af en gee uitstekende raad. En ek beskou hulle so op ‘n afstand: as hulle kan, kan ek ook. Altyd goeie motivering.

Die plantegroei verras my. Ek het nog nooit soveel verskillende blaartipes om my gesien nie! En dit lig die staptog tot 'n nuwe hoogte! Dit maak die tred effe ligter. En die veld is vrolik en blom oraloor. Tog te mooi! En elke hier en daar ‘n blommetjie of plant wat ons nog nooit gesien het nie! 

En die bier aan die einde van die stap was heerlik yskoud en verfrissend. En met dié merk manlief so ewe op: die motor is nog so ‘n halfuur se stap van ons af….