Thursday, 9 June 2016

Dans, dans, dans!

Hoe lekker het ons gisteraand gelag en die vreugde van sing en dans geniet!

Kanala in die Fugard Teater hier in die stad is aan te beveel! David Kramer kan maar!

Die manne van die veld glo dat sport mense bymekaarbring, maar sing en dans doen dit darem op ‘n baie spesiale manier!

Distrik Ses se leed sal my altyd aanraak. Die stories wat dit voortbring, is kosbaar. En dit gee aanleiding tot interessante gesprekke en gedagtes.


En altyd is dit die mense van Distrik Ses se ritme en humor wat harte verbly! En voete laat jeuk! O, die Kaap is ‘n spesiale plek! En die Kaap se mense is kosbaar!



Wednesday, 8 June 2016

Plekke om te onthou…

Onlangs lees ek van ‘n man wat ongelukkig nie erkenning ontvang het vir sy kuns en argiteksontwerpe op sy dag nie. Muller Optometrist word vanaf 1890 bedryf uit die Art Deco gebou op die hoek van Parlement- en Langmarkstraat wat hierdie man ontwerp het. Ek het die artikel in Die Burger gelees en gedink ek sal graag meer oor hom wou lees. Maar toe maak ek mos (alweer) die ou foutjie om die koerant toe te vou en op die stapeltjie te plaas. En soek soos ek wil, selfs die Universiteit van Google help my nie om die man se naam weer op te spoor nie. (En daai koerant is al lankal saam met die aartappelskilletjies die vertes in.)  Altyd interessant hoe sommige geken en herken word en ander net sommer die ding doen en so effens verdwyn.

So is daar baie interessante geboue hier om ons. Maar dis nodig om met dapper en stapper te wandel as mens dié juwele wil raaksien.

In een van Kalkbaai se baie antiekwinkeltjies, is ‘n boek met ou hotelle van Kaapstad en elkeen se storie. Baie interessant en heerlike leesstof.


Een van die hotelle wat vir my nostalgies is, is die Metropolitan Hotel van ouds. As kinders het ons ‘n paar keer die voorreg gehad om saam met ons ouers daar tuis te gaan. Deesdae bekend as The Grand Daddy Hotel in Langstraat, vertel die naam al klaar dat dit in ‘n klas van sy eie is. As jou liefie nie hou van “vreemd” nie, moet jy liewer nie hier verblyf bespreek vir ‘n nag in Airstream Trailer Rooftop Park nie! Die Pink Flamingo Rooftop Cinema is deel van die ondervinding – as jy nuuskierig is, gaan fliek een aand daar bo-op die dak van die gebou tussen die interessante “karavane”. Jy sal verstom staan oor wat bo-op daai dak aangaan!




Monday, 6 June 2016

Daai laaste hou!

Was dit nou nie opwindende tennis nie!!!!  En wie kon nou raai wat die uitslag van die vroue finaal sal wees! Ek het selfs vir ‘n oomblik gedink die man uit die koningin se kamp het ‘n kans, maar toe nie!

Onlangs stap ons in Kloofstraat in by Salon 91 se kunsuitstalling. Heerlike vars idees op papier en doek geverf. En die tennistoneel van Kirsten Beets vang my aandag. En sjoe, dis ‘n uitklopprys wat daarvoor gevra word. Sekerlik is dit teen hierdie tyd teen iemand se muur. Sal nogal interessant wees om te sien wie dit gekoop het en waar dit hang! Dit kan nogal ‘n interessante tv realiteitsprogram raak…

Kunstenaar : Kirsten Beets
 En nou sien ons uit na die volgende tennistoernooi!

Sunday, 5 June 2016

Elkeen uniek!

Dit het my nogal ‘n paar jaar – ‘n hele paar jaar – geneem om van myself te hou.

‘n Gebrek aan selfvertroue en gevoel van minderwaardigheid was maar die las waarmee ek myself as kind en tiener gekniehalter het.

Onlangs staan ek in die hysbak saam met twee pragtige moderne jongmense. Ek druk ingedagte die hysbak se knoppie … die verkeerde een … en lag so half verleë met die verskoning dat dit nou maar die dinge is wat oumense doen. Ek gee toe sommer raad vir die twee jonges: “Enjoy your youth! It passes so quickly!” En hulle openbaar toe beide aan my dat hulle hul kinderdae meer geniet het. I don’t like the adult thing volgens die een, word toe deur die ander een beaam. En ek kan eerlik erken dat ek my volwasse lewe meer geniet as wat ek my tienerjare geniet het. Ek was so onseker van myself!

Met die jare het ek ook die wysheid ontvang dat dit ‘n geestelike opdrag is om mensself lief te hê. Hoe dan  kan ek anders my naaste liefhê as ek voortdurend myself afkraak?

So met die verhuising na ‘n woonstel en uit die bekende omgewing, is ek skielik baie meer aangewese op myself. Manlief geniet sy nuwe kontrak en gaan soggens met ‘n lied in sy hart en met ‘n huppie in sy stap werk toe. Ek moet myself bedags vermaak.

En ek moes myself leer ken. Nogal ‘n voorreg om ‘n slag te kan voorraadopname doen van mens se lewe. Nie maklik nie, nie altyd lekker nie, maar ‘n goeie oefening.  


I’m glad I’m me

No one looks the way I do
I have noticed that is true!
No one walks the way I walk
No one talks the way I talk
No one plays the way I play
No one says the things I say
I am special!
I am ME!
There’s no one else I’d rather be!

Original Author Unknown

Saturday, 4 June 2016

Tye van verandering..

Bob Dylan se The Times they are a-changin is die afgelope week of wat gedurig in die rondte – in die boek wat ek lees, in die koerant vandag …

Come gather 'round people
Wherever you roam
And admit that the waters
Around you have grown
And accept it that soon
You'll be drenched to the bone
If your time to you
Is worth savin'
Then you better start swimmin'
Or you'll sink like a stone
For the times they are a-changin'.

Ja, dis so. Tye verander. Verskillende dinge vir verskillende mense op verskillende maniere.

Jongste het die geleentheid gehad om die afgelope paar dae in Parys te gaan werk. En sjoe, het daai waters around you have grown! Ek kan nie wag om al sy stories te hoor nie!

Intussen moet ek swem … of sink, for the times they are a-changin.


Dis mos vir my lekker om bietjie te vernuwe, so verandering is nie vir my sleg nie! Ek geniet die nuwe idees en die nuwe uitdagings. Soms is daar ook goete wat na die “verkeerde” kant toe verander – en dis waar die positiewe denke moet intree! En waar ons moet saamsing (en saamswem!): Swem, Jannie, swem!


Friday, 3 June 2016

Hoe nou gemaak?

Een van die dinge wat ek mis noudat ek hier op die tiende verdieping woon, is ‘n tuin en voёltjies. Sommer net om te kan uitstap in my tuin, ‘n takkie te pluk en in ‘n potjie op my kombuistoonbank neer te sit. ‘n Roos af te pluk en aan my ma te dink… In die sonnetjie te sit en die voёltjies se gekwetter te kan geniet.

Maar die Kompanjiestuin is binne stapafstand van my. So spesiaal om net deur die pragtige tuine te stap. En Kaapstad het ons verras metal die vele publieke tuine van hier tot by die V&A. Lieflike parke wat uitstekend in stand gehou word. Plek waar mens kan ontspan en die natuur kan geniet. Nie eens nodig om parkeerplek te soek nie – dis sommer ‘n lekker wandeling tot daar en terug. En heeltemal veilig, ja!

Dus kan ek die natuur geniet.

Nou staan sake so: manlief het hierdie dringende behoefte om ‘n kruietuintjie (weliswaar ‘n pot of twee) aan die gang te kry. Dit het tot vele reise na verskeie kwekerye opgelewer. Geplant, versorg, vertroetel. Nie suksesvol. En ons moes met ‘n skok besef dat dit nie so maklik is om ‘n bietjie grond in ‘n pot te kry op die tiende verdieping van ‘n gebou in die middestad nie! Maar dit is moontlik – met bietjie beplanning.

Op die oomblik kan ons darem elke aand twee slaaiblaartjies vir ons afknyp. Nou nie groot genoeg om die daaglikse vitamines aan te vul nie, maar wel om ‘n vars organiese dingetjie op die bord te kan hê. En eintlik om groot plesier te verskaf!

En dan het hy natuurlik ‘n ou spekboompie op die balkon.

Die probleem kom in by die vetplantjie.

Hier het twee stads-Starlings hul verskyning gemaak. Hulle is versot op die blaartjies van dese vetplantjie. Seker lekker sappig vir hulle en dis seker hul daaglikse uitstappie vir ‘n bederfie. Maar o wee, die goed verniel die ou plantjie!!!

Hulle gesels so mooi met my, maar ai tog, ek kan nou nie eens meer my deur na die balkon oop los as ek uitgaan nie – te bang hulle vlieg in en maak binne ‘n gemors.


Klink so ondankbaar as ek hulle verjaag… Ek verlang dan so na die voёltjies…


Wednesday, 1 June 2016

Masidlale – Let the children play

Oor die etensuur het ek die voorreg gehad om te gaan luister na die jong opkomende musici. Gratis, verniet en binne stapafstand van ons kasteel. Wat kan nou beter op so ‘n grys wintersoggend?

Die Kaapse Filharmoniese Orkes se Masidlale projek bied die jeug die geleentheid om voor ‘n gehoor op te tree. Die optrede is op die boonste vlak van die voorportaal van die Kunstekaap gehou en dit was oop vir ieder en elk.

Dit was ‘n ideale geleentheid vir kleiner kinders om te kom luister en te vra: Wat is daai groot ding wat daar voor staan? Dis toe ‘n harp. En wat ‘n groot bederf om te kon luister na harp en viool…. Hemels!

Die volgende gratis middaguur konsert word op 19 Julie tussen 13:00 en 14:00 gehou. Dit sal meer oor opera handel.


Maak ‘n aantekening in jou dagboek! Sien jou daar!