Thursday 31 August 2017

Ongekompliseerd

Oor ‘n heerlike koppie koffie gesels ons oor vriendskappe.

Vriendskap is so kosbaar. Dikwels word dit onderskat. En dikwels word dit misbruik. Of is dit dan vriendskap?

By my vriende wil ek sommer net kan ontspan. En raai, hoe ouer ek raak, hoe lekkerder kry ons vriende dit onder mekaar reg! Om sommer net langbeen te kan saamkuier.

Vir ‘n vriend kan jy maar sê jy het ‘n foutjie begaan. Of jy voel nie op jou beste nie. Jy kan jou bekommernis deel sonder dat dit opgelos hoef te word! Net die vertel van jou frustrasie, is reeds genoeg om die las te verlig.

Met sommige van my vriende kommunikeer ek miskien net een of twee keer per jaar. Ja, sowaar! Maar as ons met mekaar kontak maak, gaan ons aan met gesels waar ons laasjaar opgehou het!

Hoezit het sowaar ‘n webtuiste “Word ‘n beter vriend”. Uit nuuskierigheid gaan loer ek. Dis nogal ‘n oulike een vir tieners. Of vir diegene wat minder volwasse optree.

Was altyd vir my interessant dat seuntjies minder dramas het oor vriendskappe. En mans kan mos by mekaar aankom met ‘n klop op die maag en ‘n aanmerking soos: Sjoe, maar jy het darem dik geword! Sê een vrou nou dit vir ‘n ander, dan kan jy maar koes vir daai hou met die handsak! Dogtertjies kondig soms aan: “Ek wil nie meeer jou maatjie wees nie”. En dan klim die mammas heerlik onder mekaar in! (Dankie tog dat ons daai stadium gemis het!)

Een woord wat dit vir my opsom: ongekompliseerd. Dis hoe vriendskap vir my moet wees!


Dankie, liewe vriende, vir vriendskap! Na aan my hart!

Tuesday 29 August 2017

Wat is vir jou belangrik?

Vanoggend lees ek met hartseer – en groot begrip – Annelie Botes se skryfstuk in Van Alle Kante.

Wat is vir jou belangrik? Met wie assosieer jy? Oor wie of wat maak jy ‘n bohaai? Hoe beoordeel jy jou medemens?

Stephan Joubert noem dit: Waar jy bly, hoe jy ry, wat jy kry. Of so iets. Ons onthou dikwels mense – of onthou hulle nie – afhangende van hoe belangrik hulle in die samelewing se oё is. En die sogenaamde “onbelangrikes” word soms om verkeerde redes onthou – die skandes en die verleenthede wat deurgeworstel moes word. In teenstelling met die “belangrikes” wat die who’s who lys gehaal het.

Maar ek wil daai stil, sagte een onthou wat met min die maand op ‘n eerlike manier kan deurkom. Wat met ‘n glimlag hulp aanbied sonder om vergoeding te eis. Wat die deur oopmaak sodat ‘n ouer persoon eerste kan stap. Wat lag ten spyte van seer en swaarkry.
Lank, lank gelede het ek by argiteksfirma gewerk. Die jong assistent kon my nie help om die swaar houer boeke uit my motor tot in die kantoor te dra nie omdat dit nie “by sy posisie” gepas het nie. Ek kan net dink hoe ‘n pyn in die dinges hy is vandat hy argitek is! Of miskien het hy “mens” geword en besef dis nie die status van hier en nou wat hoegenaamd saak maak nie.

Die vrou wat die gebou se vloere vee en was, se vriendelike groet maak my hart warm. Die man met sy hoogmode pak klere wat sy rug draai en medereisigers in die hysbak so ver moontlik vermy, laat my koud. Yskoud.


Vir wie gaan jy onthou? Mag dit die vloerwasser wees wat my onthou. 

Monday 28 August 2017

Maandag moontlikhede

 ‘n Goeie vriend van weleer het Maandagaande sy inname beperk. ‘n Gekookte eier is wat hy vir aandete geniet het. Hy het geglo dis reg vir na die naweek se overdaad.
Hier in die stad adverteer ‘n paar dapper eetplekke spesiale aanbiedinge met gesonde opsies vir Maandagaande. Sommige plekke maak sommer summier hul deure toe op ‘n Maandagaand. Na die naweek se spandabelrige uiteet word die beursies styf toegeknyp aan die begin van die nuwe week. En die personeel moet seker een of ander tyd ruskans kry.

Dan is daar ook die Meatless Monday beweging.
Meatless Monday is global movement with a simple message: once a week, cut the meat. Launched in 2003, Meatless Monday is a non-profit initiative. Our goal is to reduce meat consumption by 15% for our personal health and the health of the planet. We provide information to help individuals and entire communities to start each week with a commitment to eating healthy, environmentally-friendly, meat-free meals. Now entering its second decade, Meatless Monday is embraced in 36 countries.

Alles goed en wel. Om verskeie redes klink dit vir my soms na ‘n gawe opsie. Na te veel ryk kos en ‘n kuier om die braaivleisvuur oor ‘n naweek, klink dit so edel. Om net die spysverteringskanaal bietjie rus te gee. Aan te help met meer groenvoer en minder kitskos. En dan is dit goed vir die omgewing ook - so meen die wat weet.

Tot ek die yskasdeur oopmaak en gister se bakkie kos sien wat oorgebly het. So maklik om dit net in die oond te sit vir vanaand. En selfs ‘n bakkie oorskietslaai ook wat reg staan.

Miskien kan ons volgende Maandag dink aan Meatless…. Daai koue tjoppie lyk darem so aanloklik vir vanaand!

Friday 25 August 2017

Speeltyd

Daar is nogal baie terapie daarin om fisies potlood of pen (of bordkryt!) in die hand te neem en te skryf. Of te teken. Op papier, op karton, op die koerant se kantlyne…. Ja, om nie net altyd met die rekenaar te “skryf” nie, maar om weer terug te gaan na die begin.
Die eerste prente wat kinders teken as hulle skoene met veters “ontdek”, is so kosbaar! Sulke lang stokkiesbeentjies met groot skoene en nog groter veters! Hoe trots om te leer om ‘n veter te knoop en te strik!

Vanoggend het ek weer ‘n slag lekker gespeel met kwas en kleur. Maar ai, is ons tog nie krities op onsself nie!!! Hoe ouer, hoe erger.

Nou eers weer al die kwassies gewas (nie goed daarmee nie en manlief altyd ywerig om dit vir my te doen) en alles weggepak. Die naweek stel ander eise aan die kasteel as ‘n vertrek vol spatsels.


Dis nou eers tyd vir ‘n paar resepte nadertrek. Die seuns en hul mooie meisies kom vir Sondagete. Altyd lekker om iets nuuts op die tafel voor te sit vir die spul. Hulle is almal kranige kokke en smulpape. Goed om my grense bietjie te verbreed. Maar eintlik doen die kleine stofie en minimale kookapparaat genoeg vir my wat uitdagings betref! En die meisies het nog nie al my ou staatmakers geproe nie. Hier sak ek alweer terug in my heel gerieflike gemaksone…..


Lekker naweek! Lekker speeltyd!! 

Thursday 24 August 2017

Winterslaap

Ek is lui en kan nie aan die gang kom nie. Dalk is dit hoe die diertjies voel as hulle besig is met hul winterslaap!

Dis snerpend koud buite. Winter. Ek trek warm aan en trotseer die bibberweer om te gaan proviand aanvul. Die kombuiskaste is dolleeg. Die yskas kyk my haasbek aan as ek die deur oopmaak…

Dis vandag weer markdag op in die steeg. Altyd lekker om die positiewe vibe te voel. Almal vriendelik. Die verkopers kry koud en die reёntjie het net betyds opgeklaar dat hul hul ware kan uitstal en begin verkoop. Maar niks kan hul onderkry nie. Lyk of die reёn vir eers aangeskuif het.

Maar, soos dikwels, raak ek “wakker” met die gedagte aan lekker kos. Sodra ek die kapplank naderskuif en die groot mes uithaal, is die energie terug! Vanaand net die regte weer om ‘n lekker hoenderdis aan ‘n vriendin voor te sit. Dis kuierweer.


En skielik raak ek so aan die kook dat ek heeltemal vergeet van die takies wat ek eintlik vandag wou doen.

Gelukkig het ek darem onthou om 'n sakkie biltong by die mark te koop. Net so vir in die kies tot die kos gaar is. (Tog so bly 'n goeie kok moet altyd proe aan die kos!)

Tuesday 22 August 2017

Wense wat warmte bring

Dis koud en nat en grys in die Kaapse moederstad. Lieflik. Maar saam met die klammigheid kom die hunkering na bietjie warmte.

‘n Potjie rooi blomme is net wat nodig is om die dag op te vrolik. Om saam met die rooi kussing op die bank bietjie kleurvolle inspirasie te gee. Om die gemoed mee op te helder.


Die lenteblomme wat begin kop uitsteek herinner aan die lente wat naderkom. Freesias se eiesoortige reuk doen dit vir my!
  
Rooi is nie verniet die simbool van passie nie! Dit gee sommer nuwe woema. Rooi – die simbool van liefde en romanse, sekerlik omdat rooi met die hart geassosieer word. Natuurlik is rooi ook die kleur van ons wange … moontlik oorspronklik agv bloos. Mmmm, soos die jare mens slaan, beslis ook agv die own personal summers wat ons vrouens moet deurswoeg! Maar rooi is ook die kleur wat sterkte en dapperheid versinnebeeld. En dit het ons Eva’tjies mos! Soos puisies die teken is van puberteit, is gloede seker die teken van menopause. Heeltemal natuurlik. Of hoe? 

Monday 21 August 2017

Hou die posbus dop!

Wanneer my pa middae van die kantoor af huis toe gekom het vir middagete, het hy die pos op die kombuiskas neergesit. Altyd groot opgewondenheid om te sien of daai kêrel wat jy die vakansie by die see ontmoet het, toe die langverwagte brief geskryf het! Toe is skoolrapporte nog gepos en menige bekommerde kind het die posman ingewag om daai posstuk te onderskep! En dan was daar later die brief van die universiteit om die wonderlike nuus te bring dat jy ouderwets genoeg is om uit die nes geskop te word!

Later jare, toe ons as pasgetroudes ons eie kaia’tjie gekry het, het ons ‘n PVC pyp in die heining gehad wat as posbus gedien het. Van ons fênsie vrinne het nogal ‘n probleem daarmee gehad en wou dikwels weet:  “Hoekom kry julle nie vir julle ‘n ordentlike posbus nie?” Maar vir manlief was dit goed genoeg en daai pyp het vir 41 jaar heel goeie diens gelewer. Ek was altyd so bang dat iemand met ‘n gholfbal-posbus of ‘n dobbelsteen-posbus daar aankom. Dis mos nou nie of een van ons gholf speel of dobbel nie….

Die afgelope twee jaar het ons ‘n posbus by die poskantoor. Mettertyd kon ons sake so reёl dat daar daar geen pos meer in is nie! Alles word nou elektronies afgehandel. Baie gerieflik! So pas ons aan by nuwe tendense. Watter nuwe ontdekking sal volgende wees om ons lewens te vergemaklik?

Die posman met sy bultende sak op sy fiets. Dit sal een van die “onthou-jy-nog” stories bly. En hoe nader Kerstyd geraak het, hoe swaarder was daai sak. In daai dae het mense nog vir mekaar Kerskaartjies gestuur!

En die mooie posseёls! Is daar nog mense wat deesdae posseёls versamel?


Ek het nog een briefskrywer wat so een maal per kwartaal vir my ‘n netjiese brief uit Engeland gestuur het. Na ‘n beroerte sal sy seker ook nie meer kan skryf nie. Maar ‘n handgeskrewe brief bly darem maar baie spesiaal. So met die uitpak en sorteer van al my aardse opgaarsels, kom ek op ‘n brief af wat my sus vir my geskryf het toe ek op universiteit en sy huisvrou in Transvaal was. Lank gelede. Ek bêre die brief en gee dit vir haar dogter. Ek kan net dink hoe lekker hulle sal lag oor die onskuld van daai brief! Kosbaar! 

Friday 18 August 2017

Skop uit jou skoene!


Of jy nou die koue kaalvoet wil trotseer of heel naweek met pantoffels rondslof, maak nie saak nie! Skop uit jou skoene en geniet! Dis naweek!!!

As jou skoene papgetrap is van die week se geswoeg, verdien jy jou naweek. En as jy jou skoene vol stof gestap het om jou baas se wense te vervul, verdien jy dit ook. Ag wat, al het jy ook bietjie laat slaplê die week, is dit dalk net ‘n naweek se rus wat jou weer sal inspireer tot nuwe hoogtes in die komende week.


Wat jy ookal doen, maak tydjie iewers vir jouself. En geniet dit!

Thursday 17 August 2017

Wasdag

Vandag is ek ‘n wasvrou. ‘n Sakie wat bietjie beplanning benodig.

Na ‘n jaar se verblyf in onse kasteel, vind ek toe uit dat hier ‘n netjies laundry in die gebou is – kompleet met industriёle wasmasjiene en droeёrs. Maar teen hierdie tyd het ek al mooi geleer hoe om die sakie te bemeester. Die dag word mooi gekies dat hier nie gaste kom kuier nie - en siedaar! - skoon wasgoed teen slaaptyd!

Vandag is hier groot items in die was. Groot handdoeke, dubbelbedlakens, duvet oortreksel en wat nog meer. Maar ek pak die saak met moed aan. En ek is besig om te wen! En ja, ek kry dit reg sonder die wasgoedlyn waar die wasgoed in die sonnetjie en herfswindjie kan wapper!

Hoe kry die mense in die plakkerskampe dit reg om skoon en netjies by die werk te kom? In daai stof en sand sal ek niks skoon kry nie. Mens sien dikwels Sondae die groepe aanbidders wat met hul wit klere in groepe in die veld bymekaarkom. Dit laat my altyd wonder hoe hulle dit regkry. Ek kan nie eens ‘n wit handdoek wit hou nie.


Ek is maar taamlik onhandig as dit kom by wasgoed met die hand was. Gans en al te min murg in my pypies. In die dae van wasvrouens op die plase, is die wasgoed op die wasklippe skoongevryf. Deesdae se effentjiese materiale sou nie daai hardhandigheid kon teёstaan nie!

Maar die wassery by die rivier (en by die krane in die nedersettings) is ook die plek waar die gesels plaasvind. Dis waar die nuutste nuus uitgeruil word en na welstand verneem word. Onlangs gesels ons met mense in Mosambiek wat vertel van ‘n weldoener wat goed bedoel en vir die gemeenskap ‘n put naby hul huise wil laat sink sodat die vrouens nie so ver hoef te stap om te gaan water haal en wasgoed te was nie. Die vrouens is hewig ontsteld. Na gesprekvoering is die gevolgtrekking: die vrouens soek daai bietjie afstand van die huis af. Dis hul tyd en plek vir sosiaal met mekaar verkeer.


Dalk moet ek ons wasgoed in die laundry gaan doen sodat ek bietjie hier ons gebou se stories kan hoor…. Maar nou ja, deesdae doen die stadsmanne ook dikwels die wasgoed. Elkeen met oorfone. Nie tyd en plek vir sosiaal verkeer nie!

Wednesday 16 August 2017

Tafels

Oor die radio hier in die agtergrond is Antoniem se voorlesing met die onderwerp: Tafels. Ek is vir seker nie die enigste persoon wat ‘n spesiale gevoel oor tafels het nie!

Maar tafels bring ook ‘n nare beeld van ‘n wrede standerd 2-juffrou met ‘n hekse-aanslag. Sjoe, Juffrou Van der Merwe, jy was darem sonder ‘n greintjie genade. Geen naasteliefde het ek by jou bespeur nie. Siestog, wat was fout in jou lewe? Wie was lelik met jou toe jy ‘n klein dogtertjie of ‘n ontluikende tienermeisie was?
   
Nee, sy was nie met my lelik nie. Maar ek kan nie vergeet hoe sy veral een dogter in ons klas behoorlik bygedam het met haar aanvalle nie! As dit tyd was vir “tafels opsê” was dit nie lank nie, of dit was sulke tyd. Dié maatjie was van die min kinders wat ‘n skoolbaadjie gedra het. Sy moes daai baadjie oplig en die juffrou het geslaan! En dan het sy ook met haar lang naels agter haar slagoffers se ore gekrap. Daar waar mamma of pappa dit dalk nie sal raaksien nie? Want vertel jy tuis dat jy bygekom is omdat jy nie jou tafels geken het nie, is dit neusie verby met balskop en fietsry en speel.

Op hoёrskool het die Wiskunde onderwyser sommer self besluit wie sy vak mag neem en wie nie. Hy het sonder skroom sommer vroeg in die nuwe jaar vir jou vertel hy soek jou nie in sy klas nie. En nee, daar was nie kans om die saak te bespreek nie. Vergeet maar of jy daaroor gedroom het om ‘n ingenieur of ‘n argitek te word! In sy klas sou jy nie sit as hy anders daaroor besluit het nie!


Maar dankie tog dat daar ook juffrouens is wat met die regte aanslag kinders van somme leer. Een nig skryf Wiskunde-boeke en het ‘n absolute passie vir haar vak. Sy maak deure oop vir vele en leer hulle hoe dit is dat a en b iets anders as die begin van die alfabet is. Mag daar nog baie van haar soort voor leerders staan om ons land se kindertjies te leer hoe opwindend syfers is!




Pure mathematics is, in its way, the poetry of logical ideas.
-Albert Einstein

Tuesday 15 August 2017

Strome van seёn

Met ‘n vorige besoek aan die mooie Meiringspoort, stap ons met die trappies op na die waterval. Mooie koele poel. So vredig. Almal praat so effe sagter om die skoonheid te respekteer.

Die hele poort se watertoevoer is weggespoel na stormreёns en dus is die toilette by sommige van die ruskamers buite werking. Uitdaginkie! ‘n Jongman kom benoud aangehardloop na die skoonmakers om te soebat vir ‘n kleedkamer. Hy is duidelik in nood. ‘n Groterige bus met toeriste stop. Hulle word ingelig dat die kleedkamers nie gebruik kan word nie. Uitdaging raak groter!! 

Later die dag gesels ons met oorsese besoekers en ons waarsku hulle oor die waternood en lig hulle in oor watter ruskamers wel gebruik kan word. Hulle vra uit oor die pad en die besienswaardighede. Manlief vertel entoesiasties oor the beautiful big waterfall. Met die wegstap kan ek nie help om te giggel nie. Die mense kom uit Kanada. Die stroompie water wat daar afbiggel is vir ons, komende uit die droogtegeteisterde Kaapland, pragtig! Maar ek weet darem nie van daai big nie.

Vandag sien ek hier vanuit my kasteel drie watervalletjies teen Tafelberg afloop. En ek is seker daar is baie, baie meer waterstroompies wat teen die berg af bokspring. Lieflik na die heerlike reёn wat geval het! Een van die dae klap die blommetjies oraloor handjies!


“Hy … wat die waters van die see in ‘n bondel bymekaarmaak in wolke wat reёn uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’.” Amos 5:8

Monday 14 August 2017

Groot bederf

Ons stap teen die bult op, anderkant af. Op soek na ‘n baie spesiale plekkie om sommer net tyd saam te geniet. Ek onthou dat ‘n kelner my eendag met die verbystap ingenooi het met ‘n “we have a fireplace inside” en ons besluit om te gaan kyk hoe dit lyk.

Heerlik knus kuier ons toe die res van die oggend by The Charles Café voor die kaggel. Beste beskryf deur hul eie webtuiste: Headed up by Justine Burger, The Charles Cafe is fast becoming one of De Waterkant’s most loved institutions. This could be credited to the Waiter’s friendly welcomes, the Barista’s delicious coffees, or the chef’s culinary delights or a combination of the lot that make the whole experience just perfect.

Die dag met ons kuier daar, is toe ook die eerste dag dat hulle high tea daar bedien. Volgens die eienaar wou sit dit lankal doen. Ek en manlief was ingestel op ontbyt, maar toe ons die versoeking voor ons op papier sien – met ‘n baie bekostigbare prys – besluit ons summier ons is hul eerste kandidate vir die groot bederf.

En baie groot het hul oё gerek toe hulle sien hoe goed ons weggelê het aan daai drievlak versoekings!

Sal beslis moet terug daarheen. Ek moet nog gaan uitvind waar die plek aan sy naam kom. En bo-op die gebou is ‘n oop kuierplek waar mens glo Maandagaande heerlike Kaapse kerrie-disse kan geniet,  en Dinsdagaande …..

Friday 11 August 2017

Die eenvoud

Vanoggend lees ek: Amos het in die suide van Israel met skape en vye geboer.

Hoe wonderlik klink dit. Eenvoudig. Onopgesmuk.

En watter wonderlike heerlike kos het Amos op sy werf gehad! ‘n Stukkie lamsvleis en ‘n ryp vy. Mmmmm, koningskos!

Ek wonder wat Amos se vrou met die vye gedoen het. ‘n Bak ryp vye op haar grasmatjie vir middagete. Opgedien met suurrooom of joghurt wat sy self gemaak het? Dalk gedroog vir wanneer die vyebome nie dra nie? Dalk kon sy op ‘n wonderbaarlike manier dit in ‘n kleipot preserveer vir later? Onder die vyeboom in die koelte lafenis soek as Amos van die veld af terugkom met sy skape.

Hoeveel male sonder tal is daar soveel lekkerte hier om ons wat ons nie raaksien nie. Wat ons soms minag. As kind het ons die lieflikste granaatheining in ons agtertuin gehad. En ‘n reuse moerbeiboom waarin ons kon klim en eet tot die pers soppies ons gesigte (en klere!) besmeer. Maar ons het nie gedink dis luuks nie! Vandag moet ek diep delf om bessies en granaatpitte te koop!


Die vyeboorde, granate, bessies wat deesdae op plase aangeplant word, is verblydend! Boere dink anders as paar jaar gelede. Hulle moet nuut dink. By die modes van kos en grille en giere aanpas – eintlik vooruit al weet, want wat vandag op die tafel moet wees, moes “eergister” al geplant gewees het!

Uiteindelik is dit kwaliteit wat tel as dit by kos kom. Hoe beter die kwaliteit, hoe minder hoef jy met die produk te sukkel. Souse en omgetowerde bestanddele mag indrukwekkend lyk en uitsonderlik smaak, maar ai, ‘n skaaptjoppie en ‘n vy bly darem maar lekker!  

Thursday 10 August 2017

Heeltemal anders

So in die verbystap hoor ek die kind oor die radio se verduideliking: “’n Museum is soos Google, maar in die regte lewe. Mens hoef nie op ‘n skerm daarna te kyk nie.” Ja, voorwaar ‘n goeie beskrywing! Maar heeltemal anderkant om van my kant van die ouderdom af! Ek moes onlangs vir ‘n antieke antie verduidelik wat Google is – ‘n museum (en sommer wat nou pas om jou en aan die anderkant van die wêreld gebeur het), maar jy kyk na die goed op ‘n skerm…! Dit sou dalk kon help met die verduideliking, maar tannie, dis baie, baie meer!!!

Vinnig verander baie dinge in ‘n mens se leeftyd. Vanoggend is ek so half giggelrig oor hoe ons kooppatrone oor die jare verander het. Pasgetroud in Durbanville, moes ons Bellville se OK toe vir groot aankope. Met R20 kon ek my winkeltrollie lekker laai. Daar was twee winkels in Durbanville se hoofstraat waar ons die nodige oor die toonbank kon koop of oorkant die straat in die rakke self kon kies. Melk is in glasbottels by die huis afgelewer – dis nou as mens onthou het om die koepons in die bottels te sit en betyds buite te los!  
In ons jong-huisvroutjie-dae, toe die eerste Hyper Market pas sy deure oopgemaak het, was dit die ekonomies korrekte prosedure om kruideniersware een maal per maand aan te koop. ‘n Stewige trollievrag as dit ‘n gemiddelde gesinnetjie vir so 30 dae moes hou. Groot dissipline aan die dag om daai versoekings te weerstaan van die pak lekkergoed wat vir jou loer terwyl dit heelmaand moet hou…. Soos julle seker kan dink, was ek nie baie goed daarmee nie. Nie met die maand se aankope nie en ook nie met die versoekings weerstaan nie!

Deesdae sal dit nogal ‘n ander storie wees om ‘n maand se voorraad in sommige van ons se kleiner wonings te probeer inpas! Dinge werk net nie meer so nie! My huis is kleiner, my kaste is minimalisties, my vrieskas is petite. En as ek ‘n maand se voorraad op een slag moet betaal, sal ek sowaar die res van die dag beswaard wees. Om daai duisende uit te tel by die kassier vir een trollievraggie……

En dan eet ons deesdae beslis meer vars kos en minder bevrore en verwerkte produkte. Tyd om my mandjie te vat en te gaan inkopies doen! Dis vandag weer vars produkte mark in St George’s Laan. Wat die mark oplewer, is my inspirasie vir die spyskaart!

Wednesday 9 August 2017

Op hierdie dag

Dis weer daai dag waar menige mans van hulle laat hoor. Sommige met ‘n “nou wanneer is dit dan mansdag?” Van ander hoor jy net 'n gebrom (dis nou indien jy wel enige reaksie kry!). En die boodskappe tussen die vriendinne word wyd en geurig gesaai! Sommige vol kwinkslae, ander diep sake.

In ons gesin word die vrouens so ‘n ekstra meer bederf as gewoonlik – met ‘n blommetjie, ‘n lekker ete, ‘n bederfie. Sommer net ‘n gebaar van omgee. Omdat ons maats ons waardeer vir ons vrouwees, dit koester en ons kosbaar ag.

Maar vir baie, baie vroue is dit net nog ‘n dag waarop hulle verneder en verpletter word. Vroue wat sonder respek behandel word.

Verlede Sondag word een van die lidmate in die kerk vorentoe genooi om te kom vertel wat vrouwees vir haar beteken. Dis die vriendelike vrou met die sagte oё wat altyd maklik lag. En weereens besef ek hoe ons wêrelde verskil. Haar omstandighede totaal anders as myne. Haar boodskap is dat ons elkeen maar net meer liefde sal uitleef - soos wat God dit van ons elkeen vra. Hoe moeilik ookal die omstandighede.

Enkelouerskap, lang werksure, huishoudings in beknopte ruimtes met die minimum om mee klaar te kom, is maar van die enkele uitdagings waarmee elke dag gestoei moet word. En dan is daar die hartseer saak van mishandeling, verkragting en verinnewering.

Vanoggend oor die radio sluit Lynette Francis af met: “wees veilig waar jy vandag is”. En ek weet net weer dat Vrouedag so verskillend is vir verskillende mense. Ek is diep dankbaar vir die voorreg om in ‘n beskermde omgewing bederf te word deur die baie spesiale manne in my lewe. En ek weet Vrouedag is nie net daar om in 'n mooi omgewing gekoester te word nie. 


Monday 7 August 2017

Fluks en fiks

Sjoe, wat ‘n bedrywige naweek!

Ons is stokflou! Om so baie te spring, maak mens moeg! Van die een na die ander. Atletiek! Rugby! Tennis!

Is dit dalk onverantwoordelik om soveel spiere oor en oor in so ‘n kort tydperk te gebruik? Dalk ooreis ek my vingerspiere van daai kontroleknoppies druk?

So trots op ons sportsterre! Sterre in die oё! En hoe blink daai medaljes nie!!! Sien uit na nog baie meer!

Ag nee wat, ons gaan ons nie van rugby-tellings laat onderkry nie. Die jong skolespanne het ons weer moed gegee vir die toekoms! Wat ‘n pragtige klomp jong kinders!

En al het Anderson nie die finaal gewen nie, het hy sy klim teen die tennisleer op verseker met goeie spel die afgelope tyd. Sien uit na nog baie wedstryde!

Tussendeur het ons darem ‘n hele paar kilometer se stap ingekry hier in onse mooie stad. Mens moet darem stap tot by ‘n mooie uitkykpunt om saam met vriende te kyk of die verbouers en brouers nog op standaard is…

Ons werk aan ons fiksheid – binnekort is ons fiks vir aftrede! 

Friday 4 August 2017

So vat die jaar die draai

Kan nie dink dis al die agtste maand van die jaar nie! Dikwels hoor mens ouer mense wat sê die lewe (tyd) gaan vinniger verby hoe ouer mens word. Dit het nooit vir my sin gemaak nie. Tot ek verstaan: hoe ouer jy is, hoe meer het jy die luukse om te doen wat jy wil. En hoe meer jy besig is met dit wat vir jou vreugde gee, hoe vinniger gaan die tyd verby! Dit maak sin in my kop! En ek beleef dit ook deesdae!

Een van die dinge waarna ons verlang hier in ons kasteel, is ‘n wintersonnetjie. Die enigste skynseltjie wat ons hier kry, is die weerkaatsing van die Cape Sun se reuse-glasvensters. En ja, dit maak sowaar effe warm as mens in daai kolletjie sit! Dalk meer sielkundig as iets anders, maar elk geval diep dankbaar daarvoor!

Die afgelope week was dit bewolk en redelik donker hier om ons. Gister het die sonnetjie geskyn en laatmiddag is ek verras om te besef die son skyn op ons piepklein balkonnetjie. So in die een hoekie net om daai drie en ‘n half potplante bietjie op te kikker. En ja! Ons besef die jaar het gedraai en lente is op pad. Met ons stap deur Die Kompanjiestuin, sien ons die eerste bloeisels.

Maar moenie dink dis somer nie! Met die spierwit wolkebondels wat oor die Hottentots Holland bergreeks tuimel, weet ons die suidoos is met ons. Onplesierig! Winderig! En laasnag het ons dit beslis geweet toe die deure en vensters se geklap deur die gebou weerklink. Ongelukkig voorspel dit nie reёn vir ons nie, maar ek sien volgende week kan ons maar weer ons sambreeltjies uithaal en ons steweltjies aantrek. Vol hoop vir nog reёn.

Thursday 3 August 2017

Statistiek

Manlief meen mens kan met statistiek enigiets bewys! As die ekonome so fluks voorspel oor die toekomstige stand van sake wat ons pennies en ponde betref, is daai statistieke ook maar net wat die woord beteken: voorspel. En beslis hoogs onvoorspelbaar!

Met aftrede is die realiteit: Niemand weet wat die ekonomie gaan doen nie; niemand weet hoe lank ons nog gaan leef nie; niemand weet of ons siekesorg gaan nodig hê nie. Die makelaar kan voorspellings maak oor ons spaargeldjies, maar niemand weet nie. En statistiek kan ook nie help nie. Vanjaar is nie soos verlede jaar nie en volgende jaar is nog opgesluit in sy eie geheimenis. Nog nie vir ons om te weet nie.

Die geheim is om te weet wat is noodsaaklik, wat nodig om ‘n bestaan te maak, waarmee mens kan klaarkom, waarsonder jy nie sal kan oorleef nie. Iets in daai lyn. Maar glad nie eenvoudig nie!

Om nie net te bestaan nie, maar om ook lekker te leef, is sekerlik ieder en elk se droom. Maar dan is “lekker leef” ook verskillend vir verskillende mense. Gelukkig tog! As ons dieselfde dinge nagejaag het, sou die lewe maar saai wees! 

Wednesday 2 August 2017

Nog ‘n vrolike viering!

Daar is altyd nog iets wat gevier kan word! Hierdie keer is dit die vierduisend-merk wat my blog viewers gehaal het. Nou moet ek aan jou dankie sê dat ons dit toe heerlik kon gaan vier! Ek kan (gelukkig!) nie sien wie my blog lees nie, maar kan die statistiek sien van hoeveel daagliks gelees word.

Hier om die draai van ons, in Breёstraat, is ‘n hele klomp eetplekke so op ‘n streep. Alkant van die straat. Mens kan elke dag van die maand ‘n ander een besoek. Dis nou as jy die finansies daarvoor het. Altyd vir my snaaks hoeveel mense vra of ons elke dag uiteet terwyl ons in die stad woon. Nee, ons doen nie, ons kan nie en ons wil ook nie.

Daar is so iets soos winter specials waarop ons sterk steun! Dis nou vir die van ons wat onsself inperk met uiteet en genadiglik hou van kosmaak! As mens nie hou van kosmaak nie, gaan die versoekings net eens te erg wees! Elke maand is daar ‘n nuwe eetplek wat oopmaak. (En dalk net soveel wat deure moet toemaak?)






BURGER & LOBSTER het die keer aan die beurt gekom!






Aan die einde van elke week is daar op die internet ‘n verskeidenheid spesiale aanbiedinge vir uiteet. En dan is daar ook die happy hour wanneer kos goedkoper is. Dit werk goed vir ons. Dis nou vir as daar ‘n viering is wat gevier moet word. Wat daar altyd is. Ons doen ons bes om daai viering nie meer as een maal per week te doen nie. Dis luuks! En ons besef dit en waardeer dit! En weet een van die dae, as ons wegtrek uit ons kasteel, is dit verby!