Welkom in ons mooie land
Een laatmiddag
verlede week besluit ons om met die bus te ry tot verste punt van Seepunt en
rus-rus terug te wandel kasteel se kant toe. Menende dat ek vroeër die dag ook
al ‘n stadstoertjie gedoen het, sal ons nie te ernstig wees met die treë nie.
Manlief voel hy het nog nie genoeg oefening vir die dag ingekry nie. So raak
die afstande tussen die bankies vir rus bietjie meer en meer.
Daar is ‘n hele
paar walvisse wat ons vermaak met hul manewales. En die kano’s swiep skynbaar
moeiteloos oor die waters.
Tot die wind
skielik van nêrens af opkom en my bos hare beetkry! Goeie teken dat dit tyd is
vir iewers skuiling soek…. En skielik is daar sushi op die tafel…
Dis toe net daar
dat ons besluit dis tyd vir ‘n lekker fliek. Al is dit “skoolaand” soos jongste
die weeksaande noem, laat ons ons verlei deur die media en vriende se
aanbeveling en geniet “Sully” terdeë. ‘n Lekker fliek is darem sommer net goeie
vermaak!
By die busstop op
pad terug, knoop ons ‘n geselsie aan met ‘n Duitse jongmeisie en haar pa. Daar
kan ek toe nogal my matriek-Duits uitgespoeg kry sodat hulle ‘n sin of wat kan
verstaan! Ons nooi hulle om saam met ons bus te ry siende dat hulle hotel baie
naby aan ons kasteel is. Heerlik om so laataand deur die stad te kan stap. En
ja, mens moet ogies agter jou kop gebruik en radars aanskakel om te weet wat
rondom jou aangaan en beslis nie alleen in die stad rondfoeter nie. So lekker
om van hulle te hoor hoe positief hulle Suid-Afrika en die vriendelike en
hulpvaardige mense van onse mooie land ervaar.
Een van manlief se
kollegas merk die volgende dag op: “Ek het jou en jou vrou gisteraand in die
Waterfront sien stap. Julle lyk soos toeriste.” Ja! Wat ‘n heerlike voorreg!!!
No comments:
Post a Comment