Lieflike herinneringe
Gister het ek die
voorreg gehad om bietjie van vergange se dae te “onthou” by ‘n baie spesiale
tannie in onse lewens se totsiens-sê geleentheid. Die tannie wat ons as kinders
leer fietsry het. En vir ons leer swem het in die oseaan – hondjie-swem oor die
branders! Wat saam met ons sokker gespeel het en vir ons geleer het om “prentjies
te maak”.
By ‘n gasteplaas
in die Strandveld het ons bymekaargekom. Die plek was spesiaal – naby die paaie
waar ons saam teen kliprandjies en tussen fynbos gestap het.
Lieflike bosse
proteas en fynbos in emmers het my sommer ekstra laat verlang na plekke en tye
van ander dae. Na my ma wat so lief was vir die natuur en blomme.
Maar dit was nie ‘n
moedelose, hulpelose verlange nie. Dit was spesiale kans vir terugkyk en
koester. Om weer te kan gesels met die versorgers wat destyds beide my ouers
versorg het. Om te gesels met die vrou wie se ouma baie jare gelede vir ons
galjoen oor die kole gebraai het. Wat patroontjies uit koerantpapier geknip het
vir die spensrakke van die strandhuis waar ons vir ‘n paar jaar gewoon het.
Dinge van eenvoud.
Heerlik gewees om
weer al die familie te sien. En ja, ons sê dit mos maar gereeld by sulke
geleenthede vir mekaar: “Hoekom sien ons mekaar net by begrafnisse?” Maar dis,
soos altyd, lekker om saam te onthou.
En skielik merk ‘n
niggie op: “Ons is die volgende linie.” En neef meen die blare in sy boom
word nou bietjie geskud….
Lieflike
herinneringe. Kosbaar om te besef dis waarmee ons nou besig is.
No comments:
Post a Comment