Flinke diens
Vanoggend wag ek
vir ‘n pakkie wat per koerier afgelewer moet word. Eintlik moes dit al gister
gebeur het. Soos dit maar dikwels gaan. Maar dis goed so en ek maar net te
dankbaar dat dit (moontlik) vandag is en nie nog later nie.
Uiteindelik kry ek
die man wat die werkie moet afhandel in die hande. (Dis darem ‘n snaakse
manier van sê, want die man is nie binne “vat”afstand nie.) Ons spreek af dat
hy my sal laat weet as hy by ons gebou is. Die vorige keer – ja, hy was toe
blykbaar gister hier – het hy nie daaraan gedink om my te laat weet dat hy hier
in die omte is nie. Ek wonder hoe hy en die sekuriteitswag se gesprek verloop het met verskillende mense uit verskillende kulture met verskillende tale.... G'n wonder die pakkie het nie gister by my uitgekom nie!
Nader aan die
beloofde tyd, hang ek soos ‘n vink hier oor die balkonreling om te kyk of ek
nie sy voertuig sien nie. Die voordeel van ‘n maatskappy-voertuig, is tog
sekerlik die groot letters wat adverteer hoe vinnig die man sy pakkies by die
regte adresse kan aflewer. En ek is verstom om – so hangende half onderstebo –
te sien hoeveel voertuie hier verbywikkel om pakkies en nog wat te gaan
aflewer. Die een naam belowe ‘n spoediger diens as die vorige.
So met my
speurwerk vang my oog twee Starlings wat hier naby sit. Die een laat val ‘n redelik
groot stuk brood so nege verdiepings ondertoe. Doer onder lê dit oop en bloot.
Maar nie een van die twee stel verder belang nie. Daar was seker nie ‘n
lekkernytjie op nie….
Maar my pakkie het
ek gekry! Van ‘n gawe koerier. Met ‘n glimlag afgelewer. Hoop sy baas gee hom
genoeg salaris om vir hom elke einde van die maand ‘n lekkernytjie op sy brood
te kan sit. Hy verdien dit!
No comments:
Post a Comment