Met ‘n bietjie humor
Die mense by die
mark wat plante verkoop, sorg vir ‘n glimlag. Mooi lees:
Dis dalk nodig om
met ligter tred in jou tuin en met jou plante om te gaan. Plante groei immers
beter as mens met hulle gesels. Ook blykbaar as mens vir hulle mooi musiek
speel. So vertel die slimmes.
Ek het nooit
genoeg met my plante gesels nie. Seker ook maar skrikkerig gewees oor wat die
verbylopers dink van die vrou as sy so op haar eie in die tuin loop en gesels.
Deesdae is dit heeltemal anders – mens sien en hoor mos gedurig mense wat
skynbaar met hulself gesels. Net om agter te kom hulle is besig met ‘n gesprek met
iemand anders oor ‘n selfoon met draadjies in die ore en konneksies wie weet
waar oral en waarheen oral.
Die plantjies wat
die somer moet opvrolik, is in die grond. Kos gegee, natgegooi, vertel hoe om
te groei. My ma se tuinier het vertel hy sit die prentjies van die pakkies saad
op ‘n stokkie langs die akkertjie waar dit gesaai is sodat hulle kan sien hoe
hulle moet lyk. Klink vir my heel logies.
Nou ja, geniet die
lente! Gooi daai blommetjies nat, maar hou ‘n ogie oor die water…
No comments:
Post a Comment