Friday 28 October 2016

Sommer net met vreugde


Vandag wil ek sommer net vrolik wees. Dis Vrydag. Dis naweek. Dis tyd vir pret en plesier.

Ons vat die pad. Kuiertyd.

Soveel om voor dankbaar te wees!


En hoe eenvoudig om een deur toe te trek en die stad vaarwel te wuif – op pad see toe vir ‘n ongekompliseerde omgee-naweek.

Mag jy wat nou hier lees 'n vreugde-naweek geniet!

Thursday 27 October 2016

Lieflike herinneringe

Gister het ek die voorreg gehad om bietjie van vergange se dae te “onthou” by ‘n baie spesiale tannie in onse lewens se totsiens-sê geleentheid. Die tannie wat ons as kinders leer fietsry het. En vir ons leer swem het in die oseaan – hondjie-swem oor die branders! Wat saam met ons sokker gespeel het en vir ons geleer het om “prentjies te maak”.  

By ‘n gasteplaas in die Strandveld het ons bymekaargekom. Die plek was spesiaal – naby die paaie waar ons saam teen kliprandjies en tussen fynbos gestap het.  

Lieflike bosse proteas en fynbos in emmers het my sommer ekstra laat verlang na plekke en tye van ander dae. Na my ma wat so lief was vir die natuur en blomme.

Maar dit was nie ‘n moedelose, hulpelose verlange nie. Dit was spesiale kans vir terugkyk en koester. Om weer te kan gesels met die versorgers wat destyds beide my ouers versorg het. Om te gesels met die vrou wie se ouma baie jare gelede vir ons galjoen oor die kole gebraai het. Wat patroontjies uit koerantpapier geknip het vir die spensrakke van die strandhuis waar ons vir ‘n paar jaar gewoon het. Dinge van eenvoud.

Heerlik gewees om weer al die familie te sien. En ja, ons sê dit mos maar gereeld by sulke geleenthede vir mekaar: “Hoekom sien ons mekaar net by begrafnisse?” Maar dis, soos altyd, lekker om saam te onthou.

En skielik merk ‘n niggie op: “Ons is die volgende linie.” En neef meen die blare in sy boom word nou bietjie geskud….  


Lieflike herinneringe. Kosbaar om te besef dis waarmee ons nou besig is.


Monday 24 October 2016

Welkom in ons mooie land

Een laatmiddag verlede week besluit ons om met die bus te ry tot verste punt van Seepunt en rus-rus terug te wandel kasteel se kant toe. Menende dat ek vroeër die dag ook al ‘n stadstoertjie gedoen het, sal ons nie te ernstig wees met die treë nie. Manlief voel hy het nog nie genoeg oefening vir die dag ingekry nie. So raak die afstande tussen die bankies vir rus bietjie meer en meer.

Daar is ‘n hele paar walvisse wat ons vermaak met hul manewales. En die kano’s swiep skynbaar moeiteloos oor die waters.

Tot die wind skielik van nêrens af opkom en my bos hare beetkry! Goeie teken dat dit tyd is vir iewers skuiling soek…. En skielik is daar sushi op die tafel…

Dis toe net daar dat ons besluit dis tyd vir ‘n lekker fliek. Al is dit “skoolaand” soos jongste die weeksaande noem, laat ons ons verlei deur die media en vriende se aanbeveling en geniet “Sully” terdeë. ‘n Lekker fliek is darem sommer net goeie vermaak!

By die busstop op pad terug, knoop ons ‘n geselsie aan met ‘n Duitse jongmeisie en haar pa. Daar kan ek toe nogal my matriek-Duits uitgespoeg kry sodat hulle ‘n sin of wat kan verstaan! Ons nooi hulle om saam met ons bus te ry siende dat hulle hotel baie naby aan ons kasteel is. Heerlik om so laataand deur die stad te kan stap. En ja, mens moet ogies agter jou kop gebruik en radars aanskakel om te weet wat rondom jou aangaan en beslis nie alleen in die stad rondfoeter nie. So lekker om van hulle te hoor hoe positief hulle Suid-Afrika en die vriendelike en hulpvaardige mense van onse mooie land ervaar.


Een van manlief se kollegas merk die volgende dag op: “Ek het jou en jou vrou gisteraand in die Waterfront sien stap. Julle lyk soos toeriste.” Ja! Wat ‘n heerlike voorreg!!!


Friday 21 October 2016

‘n Boer maak ‘n plan

A dolos (plural dolosse- approximate translation "knuckle bones"; Afrikaans with approximate pronunciation "dohl-awe-sah") is a concrete block in a complex geometric shape weighing up to 20 tons, used in great numbers to protect harbour walls from the erosive force of ocean waves. They were developed in East London, a port city in South Africa, in 1963.  - Wikipedia
Dolosse word so na as moontlik vervaardig aan die plek waar dit gebruik word – natuurlik omdat dit so swaar is. Hulle word gebruik om hawemure en kuslyne te beskerm.  10 000 dolosse word gebruik vir elke kilometer kuslyn.
Maar het jy al gaan lyf meet teen hulle?


Die dolosse word mbv hyskrane bo-op mekaar geplaas. Met verloop van tyd raak hulle meer en meer in mekaar verstrengel soos wat die branders hulle skuif. Die ontwerp verseker dat hulle ‘n ineenverstrengelde muur vorm wat water op 'n "sagter" manier wel tot 'n mate deurlaat en die geweld van die branders temper. In baie ekstreme storms sal hulle teenmekaar stamp en uiteindelik verkrummel. Dit vertel nogal iets van die krag van water en die magtige oseaan.
Individuele eenhede word dikwels genommer om hul beweging te monitor. Sodoende kan ingenieurs bepaal in watter areas meer dolosse opgestapel moet word.
Kontroversie ontstaan oor wie van twee Suid-Afrikaners (beide oorlede) hul naam kan koppel aan die ontwerp. Dis interessante leesstof, maar dat dit wel trots Suid-Afrikaanse ontwerp is, is ‘n feit! En dat niemand patentreg op die ontwerp het nie, is ‘n ander interessante storie.

Genoeg geleer vir die week. Dis naweek en tyd om te dink aan kuier….

Thursday 20 October 2016

What’s in a name?

Mense moenie my “Meisie” noem nie. En ‘n man moet my glad nie “my meisie” noem nie. Dit gril my verby my skurwe hakskene….

So ontmoet ek vir Bollie. Natuurlik is dit nie haar naam nie. En heel waarskynlik is haar persoonlike mening: Niemand noem my Bollie nie! Maar sy het om ‘n baie spesiale rede daai naam van my gekry.

En ja, sy noem my: Meisie! En dis heeltemal reg so! Die afgelope jaar het my naam eintlik verander na: Meisie van die Kaap en heel dikwels sommer Meisie van die Bo-Kaap!

Dis wat gebeur as mens gemaklik is met ‘n vriendin. Jy lag saam oor die lewe! En jy verstaan van bid vir mekaar. Julle mag mekaar maar daai “nooit!” naam noem en saam giggel daaroor! Immers weet julle waar daai naam vandaan kom. Ek en Bollie het saam harde bene gekou om daai name te verdien! Ag wat, daai bene was nie heeltemal so hard nie, maar ons was saam oor dieselfde dinge gefrustreerd en het mekaar deur die drif gedra.


Vandag is Bollie se verjaardag. Ek weet sy geniet dit saam met mense wat vir haar lief is. Soos dit hoort. Maar een van die dae drink Meisie van die Kaap weer saam met haar koffie iewers in die platteland! Dan vier ons opnuut die lewe!


Wednesday 19 October 2016

Vir vriende

Heerlik om te wag vir vriende wat kom kuier. Die uitsien na ‘n heerlike weersiens, die afwagting, die slapies tel en uiteindelik die ontmoeting!

Ware vriende is darem maar een van die grootste geskenke. Om sommer – na baie dae en nagte van verwyderd wees – sommer net weer aan te gaan met die gesels waar ons laas opgehou het…. Moeiteloos.

Een van die lekkerte van vriendskappe is sekerlik die aanvaarding van mekaar. Onvoorwaardelik.  Jy hoef nie jouself te bewys nie. Jy is uitgekies as vriend / vriendin juis oor jy jy is! Oor jou andersheid of enersheid.

Wat my altyd interesseer en beslis amuseer van mans se vriendskappe met mekaar, is die manier van reguit ‘n ding op sy naam noem. So met die groetslag is dit gewoonlik: “Kyk hoe oud het jy geword! En daai pens wat doer staan? Ek het darem nog hare op my kop!” En dan lag hulled at die trane loop en klop mekaar op die rug! Sê jy dit nou vir ‘n vriendin….

Die son skyn heerlik en dit is absoluut die regte dag vir middagete in die Tuine. Luilekker kuier. Vriend is baie lief vir sy kamera en neem absoluut kompetisie-wen foto’s (eendag sal hy dalk homself genoeg glo om van daai in te skryf vir kompetisies). Ek en vriendin gaan tyd hê om te ontspan en gesels en kuier. Daar is genoeg eekhorings met houdings in die omgewing om enigeen met ‘n kamera goed besig te hou!


Gister het ek ‘n interessante plant gesien wat ek vir hulle moet gaan wys. Ek weet dit gaan nog ‘n wenfoto wees en nie soos myne sommer net mik-en-druk-in-die-verbystap nie.  Sal vir tuinbou vriendin moet uitvra oor die plant – broodboom? - se vrug en sade …. 


Tuesday 18 October 2016

Koelte poele

Vanoggend sit ek hier in my universiteit se naslaanafdeling. Dis botanie vanoggend.

Ek soek plante wat in die skadu floreer in kleinboet se tuin. Wat kan rank. Wat blomme voortbring – nie te veel nie, want dan gooi dit mos weer daai dooietjies af. Wat nie te skerp ruik nie, want sommige mense kry hooikoors. Wat natuurlik nie baie water soek nie, want dis droogte en ons is immer verantwoordelik. Verkieslik inheems en beslis immergroen. Dan moet dit mooi ook wees, hoor! En vinnig groei, maar nie te veel oorneem nie… Sjoe, soveel voorskrifte en beperkings en uiteindelik ‘n baie klein lysie plante waaruit om te kies!

So het ons ons lysies van moets en moenies. Met plante, maar dikwels ook met ons self.

En heerlik lees ek vanoggend in Psalm 119:45 in Die Boodskap van die heerlike vryheid:

“Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap”.


Om met blydskap te kan stap! In oop ruimte! In oop ruimte van liefde! Met voorskrifte wat vryheid beteken en nie inperking nie! Heerlik!  

Monday 17 October 2016

Met ‘n bietjie humor

Die mense by die mark wat plante verkoop, sorg vir ‘n glimlag. Mooi lees:



Dis dalk nodig om met ligter tred in jou tuin en met jou plante om te gaan. Plante groei immers beter as mens met hulle gesels. Ook blykbaar as mens vir hulle mooi musiek speel. So vertel die slimmes.

Ek het nooit genoeg met my plante gesels nie. Seker ook maar skrikkerig gewees oor wat die verbylopers dink van die vrou as sy so op haar eie in die tuin loop en gesels. Deesdae is dit heeltemal anders – mens sien en hoor mos gedurig mense wat skynbaar met hulself gesels. Net om agter te kom hulle is besig met ‘n gesprek met iemand anders oor ‘n selfoon met draadjies in die ore en konneksies wie weet waar oral en waarheen oral.

Die plantjies wat die somer moet opvrolik, is in die grond. Kos gegee, natgegooi, vertel hoe om te groei. My ma se tuinier het vertel hy sit die prentjies van die pakkies saad op ‘n stokkie langs die akkertjie waar dit gesaai is sodat hulle kan sien hoe hulle moet lyk. Klink vir my heel logies.


Nou ja, geniet die lente! Gooi daai blommetjies nat, maar hou ‘n ogie oor die water…

Friday 14 October 2016

Hoekom doen ek dit?

Ek weet sowaar self nie! Ek dink my vriendin – die een wat my “sielkundige” is – moet dringend kom kuier. Sy is goed daarmee om my kop sommer 1 – 2 – 3 uit te sorteer. (Of so dink sy…!)

Verlede naweek gaan kamp ouboet en sy vriende. Wil kyk of vriendin die kamp-ding kan doen. (Altyd ‘n goeie toetsie vir ‘n meisie met ‘n maat wat hou van daai tent-besigheid.) Ek kyk na die foto’s van die groep om die vuurtjie. Heerlik gesellig. Ontspanne. Altans, so lyk dit.

En daar maak ek sowaar my mond oop en die volgende glip uit (in teenwoordigheid van my tentdeler van ouds): “Dit lyk darem lekker! Ek kry sommer weer lus vir kamp.” Gits, het ek dit kwytgeraak????? Oe, daai tong!!!!

Gister hoor ek hy noem aan ‘n vriend dat ons volgende naweek gaan kamp. O ja?
En hier is ons kampeerplek bespreek. Vra bietjie wie het die telefoonnommer vir manlief gegee om die bespreking te doen….


Ek wonder wie daai tent gaan opslaan. Ja, dis ‘n maklike een en ons weet ten minste dis in ‘n goeie toestand, want boeta het verlede naweek ‘n buitjie of twee moes deurstaan met die kampeerdery. En ons weet ook al die tentpenne en –pale is daar. Dis nou as ons nie vergeet om dit in te laai nie… Maar ons is styf en seer van die ouderdom en dis mos darem ‘n saak van trots om te maak of jy daai ding sommer so zirts opslaan! Veral as die bure by die kampeerplek biertjie in die hand onderlangs loer hoe jy die ding doen.

Vriendin laat val toe net so terloops dat die uitpakkery vir kampering darem ‘n gewigtige saak is. Maar sy hou van kamp! En ai, is ek nou nie dankbaar daaroor nie!!!

Maar hoekom doen ek dit? Om in die middel van die nag te moet maak of jy sterre kyk… En ja, my pa het ‘n punt beetgehad toe hy gesê het sy eie bed slaap die lekkerste. Ek wonder of daai kampeerplek “level” is…..

Thursday 13 October 2016

Kyk mooi na jouself

Iewers deur die dag is die televisie aan op ‘n program – iets soos “Dink jy dat jy op die voorblad van ‘n tydskrif sal kan wees?”  Ek raak aan die kyk met ‘n koffietjie in die hand. Interessante vrou wat hulle beet het. En sy blom en blom net al meer en die selfvertroue groei soos die sessie vorder.

Vanmiddag kuier ons om ‘n tafel in ‘n pragtige tuin saam met vriende van weleer. Hulle gaan een of ander tyd die naweek oorbly in ‘n gastehuis om haar verjaardag te vier. Om “spesiaal te voel”.

Tog te wonderlik wat dit aan mens doen as jy net weer ‘n slag moeite doen om spesiaal te voel. Al is dit dan nou net om die ou growwe hakskene ‘n skuur en ‘n salfie te gee, die ou naelpolitoer af te haal en die naelriempies terug te druk, daai toonnaels weer in ‘n somerkleur te verf, ‘n nuwe serp oor jou skouer te gooi….


Dalk is dit tyd om jouself so ‘n bietjie te bederf? Om spesiaal te voel?


‘n Vriendin stuur gister vir my ‘n boodskap: “Kyk mooi na jouself”. Dit laat my nogal dink. Komende van haar, weet ek dat sy dit nie net bedoel het op 'n oppervlakkige, fisiese vlak nie. Doen ek dit werklik?

Wednesday 12 October 2016

Soms is dit net so

Al skyn die son, is dit soms koud. Tot in die gebeendere koud. Niks lekker nie. Vandag is dit so ‘n dag binnenshuis. En wie is dan in middel Oktober nog lus vir ‘n verwarmer?

Dis wanneer mens kleur in jou lewe nodig het.

Kleur met blomme. Ek verlustig my weer in die pragtige foto’s wat ons in McGregor se strate en tuine geneem het. Pragtige malse kleure. Pers en rooi en blou en alles sommer so lieflik deurmekaar. En die Petrea is so mooi. Dis een van daai spesiale kleure vir my – die diep persblou. En nooit was ek suksesvol om ‘n Petrea in my tuin te kon laat groei nie. Ek het probeer. Meer as een keer. Baie meer! Vir seker het ek dit op die verkeerde plek geplant. En nooit die regte hoekie gekry nie. ‘n Lewenslessie.

Ek gryp ‘n kwas en helder kleure verf en maak ‘n paar lawwe hale oor die doek. Sommer net vir die lekkerte! Helder, vrolike kleure wat vertel van vreugde! Ook so dikwels nodig!

Kleur met musiek. Ek skakel summier die musiek oor na iets vroliker. Klassieke musiek is pragtig, maar ai, soms is dit net te swaarmoedig! Party dae kan ek na daai diep dinge luister, maar nie vandag nie. Dis te koud. Hierts, hier dans ek sommer om die tafel op maat van die vroliker deuntjie.


Ek wil altyd hierdie tyd van die jaar my “huis” se dak afhaal sodat die son in elke hoekie kan inskyn. Lus vir sonskyn en bietjie warmte op my vel. Mmmmm, ook maar so in die lewe. Bietjie warmte. Bietjie koestering. Ons elkeen het dit nodig. Ek gaan maak sommer dadelik my lippe rooi...

Monday 10 October 2016

Die vreugde van verloor

Dit was so ‘n rustige naweek! So rustig, dat ek nie eens by ‘n blog uitgekom het nie!

Die trane rol oor manlief se wange. Hy haal sy sakdoek uit om te help met die nattigheid. Hy lê behoorlik skuins oor die koerant soos hy lag! Dis trane van pure plesier!

As dit is wat dit kos om hom so lekker te laat lag, moet die Bokke maar weer verloor!

Sien, dis BlouWillem (Van Allle Kante in vanoggend se Burger) wat hom so vermaak.  Hy ken die slag om die volk-skokke om te sit in volk-skaterlag. Wel gedaan, Willem! Jy is die enigste hoop om van ‘n Blou Maandag ‘n skaterlagdag te maak! Doe zo voort!

As soap is to the body, so laughter is to the soul.

– A Jewish Proverb

Wednesday 5 October 2016

Hoe kan ons vorentoe hiersonder?

Op ‘n dag gesels ons weer oor daai een ding wat nodig is. In my lewe, in ander se lewens, in onse landjie se mense se lewens.

Ek reken respek is belangrik, ‘n ander meen liefde en nog baie wonderlike wyshede word kwytgeraak.

Verdraagsaamheid.

Dis toe die een woord waaroor ons almal saamstem. Dit sluit soveel in. En niemand uit. Dit gee my kans om myself te wees. Dit help my om nie ander te veroordeel. Dit help my selfs om nie te vinnig te oordeel nie! Dit laat my toe om ‘n ander te geniet soos wat hy/sy is.

Dit maak my vry! Omdat ek ander losmaak van my verknogtheid aan wat ek dink.


Seker ook dié dat dit so goed gaan met my. My liewe man is baie verdraagsaam. Mmmm, hoe gelukkig is ek dan tog nie!


Tuesday 4 October 2016

Flinke diens

Vanoggend wag ek vir ‘n pakkie wat per koerier afgelewer moet word. Eintlik moes dit al gister gebeur het. Soos dit maar dikwels gaan. Maar dis goed so en ek maar net te dankbaar dat dit (moontlik) vandag is en nie nog later nie.

Uiteindelik kry ek die man wat die werkie moet afhandel in die hande. (Dis darem ‘n snaakse manier van sê, want die man is nie binne “vat”afstand nie.) Ons spreek af dat hy my sal laat weet as hy by ons gebou is. Die vorige keer – ja, hy was toe blykbaar gister hier – het hy nie daaraan gedink om my te laat weet dat hy hier in die omte is nie. Ek wonder hoe hy en die sekuriteitswag se gesprek verloop het met verskillende mense uit verskillende kulture met verskillende tale.... G'n wonder die pakkie het nie gister by my uitgekom nie!

Nader aan die beloofde tyd, hang ek soos ‘n vink hier oor die balkonreling om te kyk of ek nie sy voertuig sien nie. Die voordeel van ‘n maatskappy-voertuig, is tog sekerlik die groot letters wat adverteer hoe vinnig die man sy pakkies by die regte adresse kan aflewer. En ek is verstom om – so hangende half onderstebo – te sien hoeveel voertuie hier verbywikkel om pakkies en nog wat te gaan aflewer. Die een naam belowe ‘n spoediger diens as die vorige.

So met my speurwerk vang my oog twee Starlings wat hier naby sit. Die een laat val ‘n redelik groot stuk brood so nege verdiepings ondertoe. Doer onder lê dit oop en bloot. Maar nie een van die twee stel verder belang nie. Daar was seker nie ‘n lekkernytjie op nie….

Maar my pakkie het ek gekry! Van ‘n gawe koerier. Met ‘n glimlag afgelewer. Hoop sy baas gee hom genoeg salaris om vir hom elke einde van die maand ‘n lekkernytjie op sy brood te kan sit. Hy verdien dit!   


Monday 3 October 2016



Stil stemming

Gister nog het ons ‘n wye draai deur die Karoo gestap en is van nuuts af bekoor.

Die stilte. Die eenvoud. 

En die skynbare niksheid. Tot jy jou afbuig en stilstaan. En stilword. Dis mos hoekom die Karoo daar is. Soos vriendin tereg opmerk: hier moet mens buig – op jou knieë gaan – om te sien en nie sommer net te kyk.

Wat ‘n voorreg om die sterre weer so naby te kan sien skitter dat mens dit soos ‘n bos blomme kan pluk en teen jou hart kan druk.

En bowenal die grootheid van God opnuut te kan ervaar.