Thursday, 31 August 2017

Ongekompliseerd

Oor ‘n heerlike koppie koffie gesels ons oor vriendskappe.

Vriendskap is so kosbaar. Dikwels word dit onderskat. En dikwels word dit misbruik. Of is dit dan vriendskap?

By my vriende wil ek sommer net kan ontspan. En raai, hoe ouer ek raak, hoe lekkerder kry ons vriende dit onder mekaar reg! Om sommer net langbeen te kan saamkuier.

Vir ‘n vriend kan jy maar sê jy het ‘n foutjie begaan. Of jy voel nie op jou beste nie. Jy kan jou bekommernis deel sonder dat dit opgelos hoef te word! Net die vertel van jou frustrasie, is reeds genoeg om die las te verlig.

Met sommige van my vriende kommunikeer ek miskien net een of twee keer per jaar. Ja, sowaar! Maar as ons met mekaar kontak maak, gaan ons aan met gesels waar ons laasjaar opgehou het!

Hoezit het sowaar ‘n webtuiste “Word ‘n beter vriend”. Uit nuuskierigheid gaan loer ek. Dis nogal ‘n oulike een vir tieners. Of vir diegene wat minder volwasse optree.

Was altyd vir my interessant dat seuntjies minder dramas het oor vriendskappe. En mans kan mos by mekaar aankom met ‘n klop op die maag en ‘n aanmerking soos: Sjoe, maar jy het darem dik geword! Sê een vrou nou dit vir ‘n ander, dan kan jy maar koes vir daai hou met die handsak! Dogtertjies kondig soms aan: “Ek wil nie meeer jou maatjie wees nie”. En dan klim die mammas heerlik onder mekaar in! (Dankie tog dat ons daai stadium gemis het!)

Een woord wat dit vir my opsom: ongekompliseerd. Dis hoe vriendskap vir my moet wees!


Dankie, liewe vriende, vir vriendskap! Na aan my hart!

Tuesday, 29 August 2017

Wat is vir jou belangrik?

Vanoggend lees ek met hartseer – en groot begrip – Annelie Botes se skryfstuk in Van Alle Kante.

Wat is vir jou belangrik? Met wie assosieer jy? Oor wie of wat maak jy ‘n bohaai? Hoe beoordeel jy jou medemens?

Stephan Joubert noem dit: Waar jy bly, hoe jy ry, wat jy kry. Of so iets. Ons onthou dikwels mense – of onthou hulle nie – afhangende van hoe belangrik hulle in die samelewing se oё is. En die sogenaamde “onbelangrikes” word soms om verkeerde redes onthou – die skandes en die verleenthede wat deurgeworstel moes word. In teenstelling met die “belangrikes” wat die who’s who lys gehaal het.

Maar ek wil daai stil, sagte een onthou wat met min die maand op ‘n eerlike manier kan deurkom. Wat met ‘n glimlag hulp aanbied sonder om vergoeding te eis. Wat die deur oopmaak sodat ‘n ouer persoon eerste kan stap. Wat lag ten spyte van seer en swaarkry.
Lank, lank gelede het ek by argiteksfirma gewerk. Die jong assistent kon my nie help om die swaar houer boeke uit my motor tot in die kantoor te dra nie omdat dit nie “by sy posisie” gepas het nie. Ek kan net dink hoe ‘n pyn in die dinges hy is vandat hy argitek is! Of miskien het hy “mens” geword en besef dis nie die status van hier en nou wat hoegenaamd saak maak nie.

Die vrou wat die gebou se vloere vee en was, se vriendelike groet maak my hart warm. Die man met sy hoogmode pak klere wat sy rug draai en medereisigers in die hysbak so ver moontlik vermy, laat my koud. Yskoud.


Vir wie gaan jy onthou? Mag dit die vloerwasser wees wat my onthou. 

Monday, 28 August 2017

Maandag moontlikhede

 ‘n Goeie vriend van weleer het Maandagaande sy inname beperk. ‘n Gekookte eier is wat hy vir aandete geniet het. Hy het geglo dis reg vir na die naweek se overdaad.
Hier in die stad adverteer ‘n paar dapper eetplekke spesiale aanbiedinge met gesonde opsies vir Maandagaande. Sommige plekke maak sommer summier hul deure toe op ‘n Maandagaand. Na die naweek se spandabelrige uiteet word die beursies styf toegeknyp aan die begin van die nuwe week. En die personeel moet seker een of ander tyd ruskans kry.

Dan is daar ook die Meatless Monday beweging.
Meatless Monday is global movement with a simple message: once a week, cut the meat. Launched in 2003, Meatless Monday is a non-profit initiative. Our goal is to reduce meat consumption by 15% for our personal health and the health of the planet. We provide information to help individuals and entire communities to start each week with a commitment to eating healthy, environmentally-friendly, meat-free meals. Now entering its second decade, Meatless Monday is embraced in 36 countries.

Alles goed en wel. Om verskeie redes klink dit vir my soms na ‘n gawe opsie. Na te veel ryk kos en ‘n kuier om die braaivleisvuur oor ‘n naweek, klink dit so edel. Om net die spysverteringskanaal bietjie rus te gee. Aan te help met meer groenvoer en minder kitskos. En dan is dit goed vir die omgewing ook - so meen die wat weet.

Tot ek die yskasdeur oopmaak en gister se bakkie kos sien wat oorgebly het. So maklik om dit net in die oond te sit vir vanaand. En selfs ‘n bakkie oorskietslaai ook wat reg staan.

Miskien kan ons volgende Maandag dink aan Meatless…. Daai koue tjoppie lyk darem so aanloklik vir vanaand!

Friday, 25 August 2017

Speeltyd

Daar is nogal baie terapie daarin om fisies potlood of pen (of bordkryt!) in die hand te neem en te skryf. Of te teken. Op papier, op karton, op die koerant se kantlyne…. Ja, om nie net altyd met die rekenaar te “skryf” nie, maar om weer terug te gaan na die begin.
Die eerste prente wat kinders teken as hulle skoene met veters “ontdek”, is so kosbaar! Sulke lang stokkiesbeentjies met groot skoene en nog groter veters! Hoe trots om te leer om ‘n veter te knoop en te strik!

Vanoggend het ek weer ‘n slag lekker gespeel met kwas en kleur. Maar ai, is ons tog nie krities op onsself nie!!! Hoe ouer, hoe erger.

Nou eers weer al die kwassies gewas (nie goed daarmee nie en manlief altyd ywerig om dit vir my te doen) en alles weggepak. Die naweek stel ander eise aan die kasteel as ‘n vertrek vol spatsels.


Dis nou eers tyd vir ‘n paar resepte nadertrek. Die seuns en hul mooie meisies kom vir Sondagete. Altyd lekker om iets nuuts op die tafel voor te sit vir die spul. Hulle is almal kranige kokke en smulpape. Goed om my grense bietjie te verbreed. Maar eintlik doen die kleine stofie en minimale kookapparaat genoeg vir my wat uitdagings betref! En die meisies het nog nie al my ou staatmakers geproe nie. Hier sak ek alweer terug in my heel gerieflike gemaksone…..


Lekker naweek! Lekker speeltyd!! 

Thursday, 24 August 2017

Winterslaap

Ek is lui en kan nie aan die gang kom nie. Dalk is dit hoe die diertjies voel as hulle besig is met hul winterslaap!

Dis snerpend koud buite. Winter. Ek trek warm aan en trotseer die bibberweer om te gaan proviand aanvul. Die kombuiskaste is dolleeg. Die yskas kyk my haasbek aan as ek die deur oopmaak…

Dis vandag weer markdag op in die steeg. Altyd lekker om die positiewe vibe te voel. Almal vriendelik. Die verkopers kry koud en die reёntjie het net betyds opgeklaar dat hul hul ware kan uitstal en begin verkoop. Maar niks kan hul onderkry nie. Lyk of die reёn vir eers aangeskuif het.

Maar, soos dikwels, raak ek “wakker” met die gedagte aan lekker kos. Sodra ek die kapplank naderskuif en die groot mes uithaal, is die energie terug! Vanaand net die regte weer om ‘n lekker hoenderdis aan ‘n vriendin voor te sit. Dis kuierweer.


En skielik raak ek so aan die kook dat ek heeltemal vergeet van die takies wat ek eintlik vandag wou doen.

Gelukkig het ek darem onthou om 'n sakkie biltong by die mark te koop. Net so vir in die kies tot die kos gaar is. (Tog so bly 'n goeie kok moet altyd proe aan die kos!)

Tuesday, 22 August 2017

Wense wat warmte bring

Dis koud en nat en grys in die Kaapse moederstad. Lieflik. Maar saam met die klammigheid kom die hunkering na bietjie warmte.

‘n Potjie rooi blomme is net wat nodig is om die dag op te vrolik. Om saam met die rooi kussing op die bank bietjie kleurvolle inspirasie te gee. Om die gemoed mee op te helder.


Die lenteblomme wat begin kop uitsteek herinner aan die lente wat naderkom. Freesias se eiesoortige reuk doen dit vir my!
  
Rooi is nie verniet die simbool van passie nie! Dit gee sommer nuwe woema. Rooi – die simbool van liefde en romanse, sekerlik omdat rooi met die hart geassosieer word. Natuurlik is rooi ook die kleur van ons wange … moontlik oorspronklik agv bloos. Mmmm, soos die jare mens slaan, beslis ook agv die own personal summers wat ons vrouens moet deurswoeg! Maar rooi is ook die kleur wat sterkte en dapperheid versinnebeeld. En dit het ons Eva’tjies mos! Soos puisies die teken is van puberteit, is gloede seker die teken van menopause. Heeltemal natuurlik. Of hoe? 

Monday, 21 August 2017

Hou die posbus dop!

Wanneer my pa middae van die kantoor af huis toe gekom het vir middagete, het hy die pos op die kombuiskas neergesit. Altyd groot opgewondenheid om te sien of daai kêrel wat jy die vakansie by die see ontmoet het, toe die langverwagte brief geskryf het! Toe is skoolrapporte nog gepos en menige bekommerde kind het die posman ingewag om daai posstuk te onderskep! En dan was daar later die brief van die universiteit om die wonderlike nuus te bring dat jy ouderwets genoeg is om uit die nes geskop te word!

Later jare, toe ons as pasgetroudes ons eie kaia’tjie gekry het, het ons ‘n PVC pyp in die heining gehad wat as posbus gedien het. Van ons fênsie vrinne het nogal ‘n probleem daarmee gehad en wou dikwels weet:  “Hoekom kry julle nie vir julle ‘n ordentlike posbus nie?” Maar vir manlief was dit goed genoeg en daai pyp het vir 41 jaar heel goeie diens gelewer. Ek was altyd so bang dat iemand met ‘n gholfbal-posbus of ‘n dobbelsteen-posbus daar aankom. Dis mos nou nie of een van ons gholf speel of dobbel nie….

Die afgelope twee jaar het ons ‘n posbus by die poskantoor. Mettertyd kon ons sake so reёl dat daar daar geen pos meer in is nie! Alles word nou elektronies afgehandel. Baie gerieflik! So pas ons aan by nuwe tendense. Watter nuwe ontdekking sal volgende wees om ons lewens te vergemaklik?

Die posman met sy bultende sak op sy fiets. Dit sal een van die “onthou-jy-nog” stories bly. En hoe nader Kerstyd geraak het, hoe swaarder was daai sak. In daai dae het mense nog vir mekaar Kerskaartjies gestuur!

En die mooie posseёls! Is daar nog mense wat deesdae posseёls versamel?


Ek het nog een briefskrywer wat so een maal per kwartaal vir my ‘n netjiese brief uit Engeland gestuur het. Na ‘n beroerte sal sy seker ook nie meer kan skryf nie. Maar ‘n handgeskrewe brief bly darem maar baie spesiaal. So met die uitpak en sorteer van al my aardse opgaarsels, kom ek op ‘n brief af wat my sus vir my geskryf het toe ek op universiteit en sy huisvrou in Transvaal was. Lank gelede. Ek bêre die brief en gee dit vir haar dogter. Ek kan net dink hoe lekker hulle sal lag oor die onskuld van daai brief! Kosbaar!