Wednesday 5 April 2017

Nes ek dink dis so naby

Die reën hang vanoggend soos ‘n dun gordyn hier om ons. Toegetrek om Tafelberg. Grys en sag en propvol belofte.

Ek sien dit naderkom. Dit voel of ek dit kan nadertrek soos wat ek die sagte gordyn sou kon toetrek. Ek wil-wil dit al so ampertjies ruik.

En die volgende oomblik is dit weer verder weg. Die son knipoog agter die wolke uit….
Interessant hoe die natuur ons almal op dieselfde vlak hou. So was dit ook met die uitdagings destyds rondom beskikbaarheid van elektrisiteit.

Maak nie saak hoe belangrik of arm ons is nie – elkeen word geraak deur die gebrek aan water. Ons basiese behoeftes is almal dieselfde.

Gisteraand kyk ek en manlief na wat beskryf word as 'n "biographical disaster-survival drama film", The 33, wat handel oor die 33 mynwerkers wat in 2010 vir 69 dae vasgekeer was in die San José myn in  Chile. Dit was ‘n goeie keuse. Die film was goed en soos ons verder kyk, onthou ons die nuusgebeure van destyds al helderder – hoe hulle met ‘n tipe kapsule onder uit die aarde gehaal is om met hul geliefdes herenig te word. En dit was ook ‘n goeie keuse om op ‘n dag waarop ons en ons landsburgers fokus op ‘n andersoortige oorlewing, te kyk hoe die mynwerkers die krisisse binne en buite die myn hanteer het.

Hier word dit weer donkerder om my. Ek is seker daarvan dat die mense aan die anderkant van die berg die klammigheid verwelkom! Maar vandag lyk dit nie na ons beurt nie!

[Om terug te kom na die fliek. Lees agterna ook die storie oor wat van die mynwerkers geword het – die universiteit van Google het interessante, maar baie ontstellende, inligting oor hul lewens 5 jaar na die drama. Hartseer hoe ons mekaar behandel.]


1 comment:

Anonymous said...

Die mooiste mooi!!!