Friday, 29 December 2017

Vier met vonkel (in die oog)

Hier is dit nou: laaste Vrydag van die jaar.  En wat ‘n jaar!

Vanoggend luister ek op RSG hoe die jaar deur die kundiges bedink word. Die intree-spreker is positief. En ek skep sommer moed vir die nuwe jaar wat voorlê. As ‘n Suid-Afrikaner – wat weet van – positief kan reageer op 2017, sien ek ook kans. En ek besef net weer dis belangrik met watter ingesteldheid mens na iets kyk. Die man noem dat ons in 2017 ervaar het dat die juridiese stelsel in onse mooie land ruggraat het. En ja! Dis goed om dit te weet!

Kyk, onse land en onse mense is keer op keer omgekeer in 2017. As dit nie ander land se mense is wat hier ingevlieg kom en maak of hulle plek het op ons werf nie (sjoe, dit was amper!) is dit hoge mense met perdekarre vol geld wat ons so gerus gemaak het met hul kundigheid, dat ons verstom gestaan het met wat man-alleen (werklik?) die ekonomie se pilaartjies laat kantel. En dan was daar natuurlik nog die kantelings in ons buurstaat. En ons sien uit na wat die politiek in die toekoms inhou hier op ons eie werf.

Maar intussen moet ons ons eie huishoudinkies se boeke laat klop.  En ons moet ons bes doen om veilig tuis te kom en veilig in ons eie blyplekke te woon.

En sorg vir nog iemand(e) in die nuwe jaar? Bietjie hoop gee vir iemand anders? Dalk iemand wat bietjie “anders” is as ek self?


Maar kom ons vier met ‘n vonkel die wonder van die lewe. Die oorvloed, die vreugde – ten spyte van. En sien uit na wat die nuwe jaar ons kant toe gooi. Soms met 'n vonkel in die oog.

Wednesday, 27 December 2017

Tyd om jou vere reg te skud

Uiteindelik is die kalkoen se laaste boudbeen skoongesny. Van die laaste skyfie ham is ‘n middagete-broodjie gemaak – met mosterd en ‘n pikante piekeltjie.

Nou kan ons fokus op die jaareind.

Maar iewers, so met die jaar se draai, is daar sekerlik ‘n partytjie te hou? Lekker opskop om die lewe te vier?

Dit laat my dink aan my ma se mooie rooi rok. Ek onthou een van die danse waarheen sy gegaan het as Queen of Hearts  met dié einste rok. Daar was speelkaarte – natuurlik net dié van koningin van harte – oral op die rok se onderkant vasgewerk. Een of ander tyd was die rok langer – so net bokant die enkels. En toe word dit vir ‘n later partytjie afgesny tot so net onderkant die knie. Gewaagd!!!

En toe kry my kinders die rok om mee konsert en tannie-tannie te speel. Maar ai, dis so ‘n harde materiaal. Krapperig. Grof. Ek kan net dink hoe mens hier by die onderarms voos geskuur moes wees teen die einde van die aand. Dis nou van al die dans.


Nou ja, gaan skud jou vere reg vir die opskop! Dis nou tyd vir joligheid en vrolikheid. Later raak ons weer ernstig as die nuwe jaar ons vasvat met al die nuwe uitdagings.  

Tuesday, 26 December 2017

Hier gaan ons alweer!

Kersfees is verby. (Ek hoop joune was ook heerlik en vol vreugde.)

Teen die tyd is die koekieblikke ook al meer vol krummels as koekies, die vullisdrom is vol geskenkpapier en die blinkertjies lê oral op die matte.

Hier waar ons vakansie hou, is dit die “in-ding” om jou huis en tuin se buitekant te versier met wat jou plesier gee. Soos jy dalk gedink het, is dit in ‘n sekuriteitsarea. Anders het die opgeblaasde kersvader van die bure inderdaad die eerste dag al sy ry gekry!

Altyd interessant om te sien wat die industrie nou weer uitgedink het om die verbruiker te verlei. Iets nuuts wat die koper sal laat hand in die sak steek. Hierdie jaar is hier nogal baie takbok-effekte.  Gelukkig is dit nie hierdie somer warm in Natal nie, so die takbokke kry nie te warm nie.

En hier gaan ons alweer! Op galop na die einde van die jaar.

Gelukkig is dit ons gebruik om ons kersboom nog tot 1 Januarie te probeer hou soos dit aanvanklik staangemaak en versier is. Dit laat die blinkigheid in ons oë en ons harte nog bietjie laat stand hou. En onse boom herinner ons aan die lekker staptog in die woud hier naby waar ons kon stokke bymekaarmaak sodat manlief ‘n eksklusiewe boom kon bou. ‘n Onthou-boom. Van ‘n Kersfees wat nie net blink is nie. 

Friday, 22 December 2017

Mooi getooi

Teen hierdie tyd is jou Kersboom seker al opgeslaan en mooi getooi. En jy het darem al so ‘n ietsie vir al die gaste wat om jou tafel gaan aansit vir die Kersete.

So van die tafel gepraat. Dis een van die lekker dinge vir my – om daai tafel te dek. En so lekker dat daar nie reels en regulasies is van hoe dit moet lyk nie. Dis jou eie keuse. As jy die messegoed op ‘n hoop wil stapel of in ‘n boksie wil staanmaak, en of jy formeel wil tafel dek – dit bly jou keuse.

Wat jy ookal doen, die belangrikste is dat jy dit moet geniet! Daar is gans en al te veel goeters wat ons moet doen omdat ons dit moet doen!


Dek jou tafel, maak jou lippe rooi, gooi jou voordeur oop en nooi jou gaste binne na ‘n maal geskik vir ‘n Koning!

Thursday, 21 December 2017

Bedreigde spesie?

Na aanleiding van die kunswerk van Clarke & Duffield se kunswerk in 1989, is dit ‘n bedreigde spesie om so onder die sonsambreel te sit. Sal dit die “sit in die son” wees, die persoon self of waarom sal die naam van die werk “Endangered species” wees?

Dis voorwaar ‘n voorreg om agteroor te sit en niksdoen. Vra my. Ek weet van daai voorreg.
Maar dalk is die betekenis totaal iets anders. Die kunstenaar(s) het waarskynlik ‘n agenda van heeltemal ‘n ander aard gehad. Dis mos wat sommige kunstenaars doen. Hul kuns is vir hulle ‘n platform om hul sê te sê. Sommige meen selfs as jy net “mooi” prentjies wil maak met die talent wat jy ontvang het, kan jy maar liewer laat staan. Die ekstremiste glo mens moet bietjie omdolwe en skok met wat jy as kuns ten toon stel.

Genadiglik mag ons almal verskillende menings hê! Ek dink nie ek sal ooit enige van daai absurde kunswerke – daai soort wat jou in jou spore laat vassteek om terug te draai en weer te gaan kyk of dit regtig is wat jy gesien het / besluit jy loop liewer verder aan en maak asof jy glad nie gesien het nie - teen my huis se mure hang nie. En tog is dit dikwels die werke wat fenomenale pryse op veilings behaal en kunskenners na gallerye laat stroom.

En wat ook al die bedoeling was met “Endangered Species” destyds op ‘n uitstalling in Stellenbosch, bly die uitbeelding vir my kostelik en dierbaar. Kan myself absoluut daarmee vereenselwig.


Lekker sit onder die sonsambreel! 

Wednesday, 20 December 2017

Wat ek sou wou doen

Om saam met vriendinne om ‘n tafel te kuier, is baie spesiaal. Ek dink ek het dit te min gedoen in die verlede. Beslis te min in die afgelope twee jaar. Dalk moet ek dit meer dikwels doen in die jaar wat kom.

Mmmm, maar dan moet ek eers ‘n sleutel kry wat ‘n huisie se voordeur kan oopsluit. En ‘n stoof om ‘n koek in te bak. Ek het darem een koekpan. Nie meer ‘n menger nie, maar daarvoor is manlief mos naby met stewige spiere in sy bo-arms en altyd ‘n entoesiastiese bereidwilligheid.

Met manlief se aftrede het ek vir hom ‘n geskenk gegee. Die nuutste Kook en Geniet. Hy wil meer dikwels kosmaak. Ons albei sien uit na die eksperimente en die disse wat opgetower gaan word. Sus en skoonseun is al verras met ‘n heerlike moussaka. En vandag vir middagete het ek ‘n heerlike geposjeerde eier bo-op die slaai gekry. Pure Dijon-styl!

Dalk leen hy my sy resepteboek om ‘n koek te bak.


Maar eers moet ek die huis kry.

Tuesday, 19 December 2017

KERSINKOPE

So van markies en dinge gepraat… Hierdie tyd van die jaar is daar mos om elke hoek en draai ‘n Kersmark.

Oor die naweek loop ons rond en snuffel oral waar ‘n plek interessant lyk. En vind ook plekke wat van naderby geensins interessant lyk nie! Kan nie glo wat sommige verkopers aanbied vir moontlike klante nie! Wat gaan die mense doen met al die goed wat oorbly na die Kersseisoen? En hoeveel uitgawes het hulle gehad toe hulle met groot drome beplan het vir hul “marktafel”? Volgende jaar is dit immers “uit die mode”. Iewers gaan iemand finansieel swakker daaraan toe wees as wat hulle was voor markdag.

Hier en daar is daar tog iets nuuts en interessants wat dalk iemand se kerskous kan vol maak en dalk kan sorg vir 'n glimlag.

En hier en daar loop ons selfs Kersvader se werkertjies raak.


So loop ons onder andere ‘n tipiese hippiemark raak. Dit voel vir my ek is terug in die 70’s! En nee, dis nie my smaak nie. Ek was sekerlik na aan ‘n hippie op my dag, maar dié mark in Botha’s Hill is een te erg vir my. Kostelik om die mense dop te hou. Daar is heelwat van my ouderdom. Wat is die definisie van ‘n droё rangskikking? ‘n Bejaarde hippie. Ja, so kom daai ding ons almal oor – of jy nou wil of nie, of jy nou hippie is of nie, die blommetjies verlep uiteindelik almal….