Musiek in my ore
Geen radio. Geen CD’s.
Vandag luister ek na die oorverdowende donderslae hier van Seepunt se kant
af En dan die reënbuie wat so heerlik
hier verby my neerstort.
Lanklaas, indien
ooit, dat ek sulke swaar weer in Kaapse omgewing beleef het. Iemand stuur ‘n
foto van ‘n palmboom wat deur ‘n weerligstraal getref is en aan die brand
geslaan het. Sjoe, sal ons ooit die krag van die elemente besef? Ek wonder of dit harder klink hier tussen die hoë geboue? Of dalk omdat ek redelik hoog in die lug sit? En alleen is???
En toe hoef ons
ons ook nie te steur aan die selfoon app wat vertel dat dit nie vandag gaan
reën nie (nadat dit vroeër die week almal opgewonde gehad het oor beloftes van
reën). Dit bewys maar net weer – waar onse waters vandaan kom, word nie deur
mense bepaal nie. Voorspel, ja. En raai, ja.
Hier in onse kasteel kan sommige van die vensters
glad nie van binne af gewas word nie. Ja, ons het al daai affêretjie probeer
wat hulle so op die kassie adverteer. Maar toe nou nie so suksesvol en maklik
soos wat dit op die advertensie lyk nie. My ma het mos hoeka altyd gesê:
“Papier is geduldig”. Al raad wat manlief bedink het, is om dié vensters op hul
wydste oop te stoot as die reënwater val sodat die ergste stof kan afspoel. En
as mens lang arms het en betyds is, kan jy selfs bietjie Windowlene so op ‘n
afstand spuit en hoop vir die beste om die saak aan te help.
Vriendin vra of ek
al gehoor het hoe 1 800 kinders gelyk gil ná ‘n donderslag naby hul skool.
Sy meen hulle is niksgewoond Kapenaars! Voorwaar is dit deesdae die geval,
liewe vriendin!
Hier my kant is
die berg nou ontsluier en ou Van Hunk het so ‘n ligte stopseltjie ingesit.
Seker om te kyk hoe daai fynbos nou aan die groei gaan daar teen die berg se
skuinsste.