Tuesday 27 March 2018

Voorregte van Vye en Vreugde

Om te kuier is ‘n groot voorreg. Om op ‘n vyeplaas te kuier is n verruklike voorreg!


Die afgelope naweek het ‘n hele bondel van ons op die lieflike Weltevrede vyeplaas buite Prins Albert gekuier, gesels, gelag, geniet! Tog te heerlik as ‘n dogter besluit om haar familie en vriende nader te hark om saam te kuier. Dit was net pure vreugde!

Van ‘n twee maande oue baba, ‘n jongman op krukke, ‘n swetterjoel kleingoed, tot ons “oueres van dae”. Die kinders het genoeg speelplek gehad. En slaapplek was ruim met ‘n reuse badkamer vir elke kamer. Elke huis het ‘n groot, ronde swembadpoel van koelte – diep genoeg vir die grotes om in af te koel en vlak genoeg vir die kinders om in te baljaar.

Selfs die drie ysterkatels op die groot huis se stoep was oorgetrek met spierwit beddegoed. En van die dogtertjies het alleen op die stoep geslaap – veilig en knus na ‘n dag se rondhardloop in die buitelug.

Die lekkerte van so ‘n ongekompliseerde kuier, is dat almal ontspanne is. Daar is geen “nou-moet-dit” gebeur nie. En geen elektrisiteit het beteken dat ons weer die mooi van ‘n parafienlamp geniet het! En ook agtergekom het dat om in die donker op ongelyk grond te loop, ‘n uitdaging op sigself is.

Met geen selfoonontvangs, was dit ‘n gekuier en gesels met die een op daardie stadium langs of voor jou – geen gedoente met ‘n sms of ‘n boodskap of ‘n foto of ‘n gelollery van enige werksaard nie!

So ‘n naweek kan ek vir ieder en elk aanbeveel. Eintlik behoort dit ‘n noodsaaklikheid te wees. Elke nou en dan. Ai, maar dit was lekker! 

Friday 23 March 2018


ducks-in-a-row-3.gif (446×209)
Spartel jy (ook) soms?


Met my koppie suurlemoen-en-rooibostee sit ek vroegoggend op die stoep en hou die gediertetjies dop. Die drie pragtige wit eendjies hier onder op ons werf geniet dit om in die water te baljaar. Met die dam wat dolleeg is, het van die inwoners plastiek baddens vir die geveerde vriende uitgesit. Nou plas die eende dat die water sulke boë deur die lug trek!

Die eende moet beurte maak om te bad. Dit is ‘n gespartel. Die bak is effe kleiner as waaraan hulle gewoond is.

Ek sit en wonder oor die gespartel. Soms spartel ek ook. Soms is die bak te klein. Maak nie saak of daar goedhartiges om my geskaar is wat “bakke met water” aandra as dit droogte is nie, as daai bak te klein voel, pla dit.

Hoekom maak ons soms die lewe vir mense om ons moeilik? Dis dan tog vir ons so heerlik as alles net lekker is?

Maar is “altyd net lekker” noodwendig goed? Hmmmm, tyd dat ek uit daai bak klim, my droogskud en aanwaggel. Iemand anders se beurt om by die waterbak uit te kom.

Monday 19 March 2018


Die lang tou

Nee, dis nie die ding waarmee ons vriend sy woonwa se deur vasgebind het sodat dit nie oopklap terwyl hulle ry nie (ja, daai was ‘n lang tou, want dit moes buietekant om die woonwa gaan…).

Die tou waarvan ek vandag baie bewus is, is die ry waarin jy staan, sit, beweeg, weer sit wanneer jy by SARS ‘n draai moet gaan maak. En dis ‘n stywe draai. Sonder afdraaipaadjies, want dan is jy jou plek in die ry kwyt.

Vanoggend is ons hier weg met al die nodige dokumente. Om dit in die hande te kry, was op sigself ‘n saak wat my ou bloeddrukkie se sake gewerk het…

Manlief is so dierbaar om my op die tog te vergesel. Dit help baie. Ons kan immers met mekaar gesels, want die vrou aan my anderkant “Hum” en “Ha” net as sy absoluut op ‘n vraag van my kant af moet antwoord – en nee, ek het nie veel gevra nie en toe maar later haar in haar stilte oorgelaat.

Uiteindelik is ons toe geholpe. Dit was twee uur se sit waarvoor ek nie omgegee het nie. Eintlik het ons ons ingestel vir langer sit. Dankbaar dat dit vriendelike mense was wat baie behulpsaam was en in onse mooie taal die saak afgehandel het, is ons met ‘n huppel in ons stap daar weg.

Ek kon my steunpilaar met ‘n heerlike cappuccino bederf om dankie te sê. Met 'n sny wortelkoek daarby. Hy het dit dubbel en dwars verdien!

Friday 16 March 2018


Geniet! Geniet! Geniet!

Voel soos gister dat ek vir die buurmannetjie gesê het: “Dis Vrydag! Geniet jou naweek!”
En hier is dit voorwaar alweer Vrydag! En naweek! En dit was ‘n week gelede wat ek hom die vreugde toegewens het.

Dis nou nie asof ‘n naweek so ‘n groot opgewondenheid in onse lewens meebring nie. Ons is immers elke dag “met naweek”. Die lekkerte van die afgetrede lewe is net so ‘n voorreg! Alles is net rustiger en elke oomblik is spesiaal. Nie nodig om te wag dat dit naweek – of vakansie – moet raak nie.

Dis mos hoekom die lewe al vinniger verbygaan hoe ouer ons word. My verduideliking hiervoor is dat ons, soos ons ouer word, die geleentheid het om meer dinge te doen wat vir ons lekker is. Bevoorreg. En ons het meer nonsies uitgeskakel. Hang-ups van ontslae geraak. Gemorsies weggewerk. Moontlik geleer om beter keuses te maak?

Nou ja, dis naweek. En die vliegtuig het pas hier oor ons gevlieg….

Wednesday 14 March 2018


Soos sake staan

Skielik kan ek nie byhou nie. Dis net te veel.

Van pure lekkerte en groot bederf het ek nou heeltemal agter geraak met wie ek graag op my stoep en om my tafel wil bederf. En nie net wil nie. Soms raak dit ‘n moet.

Manlief verstaan nie so lekker hoe dit werk nie. Ek kan ook nie verduidelik nie.

Maar op een of ander manier en tyd het sake handuit geruk. Ek (en my begroting) kan net nie die besigheid gebalanseer kry nie.

Vanoggend sit en kuier ek oor heerlike koffie en kaaskoek saam met ‘n vriendin in ‘n mooie koffiewinkel. Dis ‘n verjaardaggeskenk aan haar – want wat gee mens nou elk geval present aan iemand in ons jare wat alles het wat nodig is (hoe bevoorreg en bederf is ons tog!).  So met die gesels praat ons oor ‘n datum en ek besef met ‘n skok daar is dinge wat ek nagelaat het. Dinge wat ek myself voorgeneem het om te doen. Helaas totaal en al dit laat verbygaan. Deels omdat ek oud is en vergeet (dis waarvoor mens nota’tjies oraloor kan vasplak ter herinnering) en ter versagting dat ek deesdae dikwels nie weet wat die datum is nie (deel van die afgetrede leefwyse).

Maar dis ook waar ware vriendskappe inkom. Hulle ken my mos. Hulle weet dis nie omdat ek nie lief is vir hulle nie. Dis net dat ek soms sommer net wil hê hulle moet hier instap en sê: hier is ons vir ‘n kuier! En om te kyk wat die koskas oplewer vir ‘n lekker kuier!

Friday 9 March 2018

.Die verlede
My oog vang vanoggend Die Burger se berig oor wat 50 jaar gelede nuuswaardig geag is: “Min mense weet waar die eerste burgemeester van Kaapstad begrawe lê.”

Vir ‘n oomblik wonder ek daaroor, maar onthou dan dat dit Pieter van Breda was. Sy graf is in die stadstuin in Oranjezicht. Daar waar hulle deesdae die lieflike groente verbou en verkoop.  Dit was vir my en manlief ‘n spesiale oomblik toe ons vir ‘n wyle daar by die grafsteen stilgestaan het en weer besef het hoe onse dorpie van herkoms daar aan die suidste punt ontstaan het.

Ek onthou nog goed hoe ons op laerskool geleer het van Michiel van Breda (Pieter, synde die eerste burgemeester van Kaapstad, se seun) wat met sy skapies sy staanplekkie kom afbaken het teenaan die lieflike Soetendalsvlei.
So saam met die terugkyk in die verlede, ontdek ek toe ook die volgende:
ORANJEZICHT – “ORANGE VIEW” – WAS PROBABLY SO CALLED EITHER BECAUSE IT OVERLOOKED THE ORANJE BASTION OF THE CASTLE, OR DUE TO THE SIGHT OF ABUNDANT ORANGE TREES GROWING IN TABLE VALLEY.
Ek dink ek verkies die eerste verduideliking. Ek kan my nie Kaapstad indink met baie lemoenbome in die vallei nie….
Hoe ouer mens raak, hoe meer wonder mens oor die verlede. Of hoe? Skielik is vyftig jaar gelede vir my glad nie lank gelede nie! Maar ai, het daar baie gebeur in die afgelope vyftig jaar!
vanbredatablebay
View from Oranjezigt towards Table Bay, 18th century.

Thursday 8 March 2018


Hoe ervaar jy dit?

Ons ervaar dat daar weer nuwe hoop in ons ou landjie en haar mense is. Die atmosfeer is sommer ligter. En minder fronse. So saam met ‘n nuwe president het menige mens weer moed.

Of hoe?

Vanoggend – so met die uitstap uit ‘n winkel - sug manlief weer: “Ons lewer darem swak diens in SA!” En moenie dink hy is negatief van aard nie. Gewoonlik is hy so positief dat dit sommige kenisse irriteer! Omdat hy voorheen te doen gehad het met ‘n help desk, hou hy maklik aan en gesels vriendelik met die persoon wat uiteindelik antwoord wanneer daar navraag gedoen moet word. Geduldig. Want hy weet ook hoe swaar daai arme mense aan die ander kant kry en hoe hulle beledig word. Onnodig.

Ek vat aan die kassier by die kettingwinkel se arm toe ek vir haar totsiens groet. Op daai stadium is sy al so diep in gesprek met die een langs haar, dat sy vergeet het sy het my betaling geneem. Ek herinner haar met ‘n gawe glimlag: “Thanks and goodbye! I am jealous and prefer to have all your attention!”  Dit het, soos gewoonlik, die gewensde uitwerking en sy vind dit amusant. Hoop sy onthou dit wanneer sy die volgende kliënt bedien.

Om my stert in ‘n krul te sit, gaan geensins help nie. Die antwoord van hoe ons die saak moet benader, ken ek ook nie. Ek weet net dit doen my gesondheid geensins goed as ek kwaad word nie. Vra maar – ek het dit onlangs weer heeltemal verloor in ‘n situasie in ‘n winkel. Om my bloeddruk nie verder op te jaag nie, het ek manlief by die winkelassistent gelos en omgedraai en uit die winkel uitgestap.

Heel waarskynlik vaar jy beter met dié tipe sake.  Intussen werk ek daaraan…..


Wednesday 7 March 2018


Spice of Life

Ons het elkeen een of ander tyd bietjie ekstra zing in ons lewe nodig.

Eergister stap ons saam met ‘n kosbare kuiergas vanaf Duitsland by Spice Route en Fairview rond. Dis so maklik om trots te wees op dit wat aan toeriste en besoekers opgedis word by dié spesiale plekke. En in die proses voel ek dan ook sommer soos ‘n toeris.

Met die wegry vra ek vir manlief om ook te stop by Brenda’s wat so half eenkant sit. Dis die mooiste winkel met die lekkerste goed! Speserye wat jou by die deur kom begroet! 

Ingelegde vrugte, allerhande vreugdes wat in botteltjies gebêre kan word. Sommer net mooi. En op ‘n baie spesiale manier uitgestal. Verleidelik.

En so is vriendin se kuier ook vir my: dit gee vir my diepte en verskaf geur aan my lewe. Opnuut verwonder ek my oor mense van oraloor wat oor my pad gestuur word. Mense wat my lewe verryk; wat my bietjie anders – en dieper – na die lewe laat kyk.

Mmmm, dis nodig dat ons mekaar aanmoedig tot beter en nie afkraak nie. Soos goeie speserye. Dit moet die dis oplig – ‘n nuwe dimensie gee. Lekkerder maak.  

Thursday 1 March 2018


Onbenulligheidjies

So met die uitpak is ek (weereens) verstom en verslae oor die goetertjies wat ek so met die jare bymekaarmaak en saampiekel.

Ai tog, mens leer ook nie maklik nie! Dis goetertjies wat nie gebruik word nie, wat nie nodig is nie, wat nie eens mooi is nie. Maar dis gekoop en iewers in ‘n laai of kas gestoor. 

En sowaar weer ingepak!

Maar ek leer so met die tyd! Stadig maar seker!!!

Daar is altyd mense wat sulke goetertjies koop en weer verkoop. Verstommend, maar voorwaar waar! Ek gee sommer die spul weg sodat dit op ‘n marktafel uitgestal kan word. Dalk is daar iemand wat dit nodig het. Want weggooi kan ek ook nie sommer net weggooi nie!