Onthou-dinge
Vroegoggend lê ek
in die bed en dink sommer lank verby se dinge. Dis mos deel van Kersfees!
En deel van Kersfees
is die kos.
Skoonma se
jelliering met dadels en piesangs en ertjies. My ma se Oukersaand seekos. En
die aand toe onse pa formeel na die saamkuier aankondig dat dit die laaste ete
is wat my ma vir ons almal saam voorberei het. Nogal ‘n emosionele sakie
gewees, maar ‘n realiteit ons elkeen wat een of ander tyd in die oë moet kyk.
Genadiglik is die
dae van swaar disse wat mens ongemaklik laat voel as jy van die tafel af
opstaan, nie meer mode nie! Dis tyd vir kosmaak vir ‘n Somer-Kersfees.
So maak ek
stuk-stuk ete vir ons bevoorregte kringetjie vir môre se Kersete. Ek het mos
baie tyd en manlief is fluks met sny en opkap en inpak soos wat ons vorder.
Lekker om so saam te werk. Ons pak die takie rustig aan – die kinders is eers
Kersdag almal hier teenaan ons.
Dit ruik soos
bederf in die woonstelblok se gange! Dis lekker om ‘n slag ‘n nuwe reseppie
nader te trek om die kroos mee te verras. Skielik is dit ‘n ander manier van
kook vir ‘n groep mense as die kastrolle en potte in hierdie kasteel effe aan
die skraps kant is! Maar ‘n boer maak mos ‘n plan! En deesdae se winkelrakke
bied vele oplossings vir uitdagings!
Lekker bak en braai saam met jul geliefdes, maatjies!
No comments:
Post a Comment