Kan nie help om te help nie
So middel van die
dag staan ek en luister hoe ‘n man probeer om vir ‘n Duitse toeris te help met
waarheen sy wil. Sy weet self nie so lekker hoe om vir hom in Engels te
verduidelik waarheen sy wil nie. Met haar kaart van die omgewing in haar hande,
haar rugsak wat so half skuins wil afglip en die bus wat enige oomblik gaan
stilhou vir die opklimslag, beduie sy iets van bid en ‘n drukkie gee. Maar nee,
sy wil nie die man ‘n drukkie gee nie, want sy is kwaad omdat sy so baie vir
die buskaartjie moes betaal. En sy kan nie eens op die rooi bus ry met daai
kaartjie nie.
Ek sien daar is
nie veel vordering nie en vra of ek haar kan wys waarheen sy moet gaan, want ek
is daai kant toe op pad. So meen ek met die bietjie wat ek kon hoor. Sy is
dapper genoeg om my te vertrou en glip wettiglik deur om by die bus in te klim.
Sy is toe
heeltemal verkeerd met haar aanname oor die buskaartjie se prys. Sy wys vir my
die strokie en ek verduidelik aan haar dat dit haar eintlik niks gekos het nie.
Vir ‘n Europeër is R30 peanuts. Sy
besef haar glipsie van berekening en is in haar nappies.
Ons klim op die
bus en die gehaperde gesprek duur voort.
Dis die langste busrit wat ek nog van punt A tot punt B gemaak het. Dis warm.
Dis ‘n staaaaadige gesprek met baie Uhm en Ah tussendeur, maar met handgebare
en geluide kom ons uiteindelik reg.
Die toeris is ‘n steward (in ons taal seker ‘n bediende)
op ‘n Duitse navorsingskip wat in die Kaapse hawe lê. Daar is 44 bemanningslede
en 44 navorsers / scientists op die
skip. Hulle reis heen en weer tussen Arktika en Antarktika om navorsing te doen
oor alles en nogwat.
Ek wys vir haar
waar sy weer die bus moet haal om terug te kom by haar skip en ons stap verder.
Voor ons woonstelblok kry ek ‘n dankbare hug.
Ons besef skielik dat ons nie mekaar se name ken nie. Haar naam is toe elk
geval te moeilik om uit te spreek of te onthou. Klink nie vir my na ‘n Duitse
naam nie. Maak ook mos nie saak nie!
Sy is flink op pad
weg om te gaan doen wat haar missie vir die dag is: om iewers in ‘n kerk te
gaan bid (ek het St George’s Katedraal voorgestel) en om iewers ‘n boom ‘n
drukkie te gaan gee (ek glo een van Die Tuine se bome gaan ‘n liefdevolle hug kry). En hoe meer ek vir haar vertel
dat sy die dag moet gebruik om op Tafelberg te kom, hoe meer vertel sy my dat
sy baie poskaarte het wat geskryf moet word. Dalk, net dalk, het sy my raad
gevolg en sit sy met haar beentjies oor Tafelberg se rand en swaai en skryf
haar poskaarte daar!
‘n Liewe vriendin
van my het ook die begeerte om toeriste te help. Doe zo voort, suster!
No comments:
Post a Comment