Voorregte van Vye en Vreugde
Om te kuier is ‘n
groot voorreg. Om op ‘n vyeplaas te kuier is n verruklike voorreg!
Die afgelope
naweek het ‘n hele bondel van ons op die lieflike Weltevrede vyeplaas buite
Prins Albert gekuier, gesels, gelag, geniet! Tog te heerlik as ‘n dogter
besluit om haar familie en vriende nader te hark om saam te kuier. Dit was net
pure vreugde!
Van ‘n twee maande
oue baba, ‘n jongman op krukke, ‘n swetterjoel kleingoed, tot ons “oueres van
dae”. Die kinders het genoeg speelplek gehad. En slaapplek was ruim met ‘n
reuse badkamer vir elke kamer. Elke huis het ‘n groot, ronde swembadpoel van koelte
– diep genoeg vir die grotes om in af te koel en vlak genoeg vir die kinders om
in te baljaar.
Selfs die drie
ysterkatels op die groot huis se stoep was oorgetrek met spierwit beddegoed. En
van die dogtertjies het alleen op die stoep geslaap – veilig en knus na ‘n dag
se rondhardloop in die buitelug.
Die lekkerte van
so ‘n ongekompliseerde kuier, is dat almal ontspanne is. Daar is geen “nou-moet-dit”
gebeur nie. En geen elektrisiteit het beteken dat ons weer die mooi van ‘n
parafienlamp geniet het! En ook agtergekom het dat om in die donker op ongelyk
grond te loop, ‘n uitdaging op sigself is.
Met geen selfoonontvangs, was dit ‘n gekuier
en gesels met die een op daardie stadium langs of voor jou – geen gedoente met ‘n
sms of ‘n boodskap of ‘n foto of ‘n gelollery van enige werksaard nie!
So ‘n naweek kan ek vir ieder en elk aanbeveel. Eintlik behoort dit ‘n noodsaaklikheid te wees. Elke nou en dan. Ai, maar dit was lekker!