Saturday 24 December 2016

Onthou-dinge

Vroegoggend lê ek in die bed en dink sommer lank verby se dinge. Dis mos deel van Kersfees!

En deel van Kersfees is die kos.

Skoonma se jelliering met dadels en piesangs en ertjies. My ma se Oukersaand seekos. En die aand toe onse pa formeel na die saamkuier aankondig dat dit die laaste ete is wat my ma vir ons almal saam voorberei het. Nogal ‘n emosionele sakie gewees, maar ‘n realiteit ons elkeen wat een of ander tyd in die oë moet kyk.

Genadiglik is die dae van swaar disse wat mens ongemaklik laat voel as jy van die tafel af opstaan, nie meer mode nie! Dis tyd vir kosmaak vir ‘n Somer-Kersfees.

So maak ek stuk-stuk ete vir ons bevoorregte kringetjie vir môre se Kersete. Ek het mos baie tyd en manlief is fluks met sny en opkap en inpak soos wat ons vorder. Lekker om so saam te werk. Ons pak die takie rustig aan – die kinders is eers Kersdag almal hier teenaan ons.


Dit ruik soos bederf in die woonstelblok se gange! Dis lekker om ‘n slag ‘n nuwe reseppie nader te trek om die kroos mee te verras. Skielik is dit ‘n ander manier van kook vir ‘n groep mense as die kastrolle en potte in hierdie kasteel effe aan die skraps kant is! Maar ‘n boer maak mos ‘n plan! En deesdae se winkelrakke bied vele oplossings vir uitdagings! 

Lekker bak en braai saam met jul geliefdes, maatjies!

Thursday 22 December 2016

Kom sing saam!

Ja, kom sing saam! ‘n Lied van liefde en vreugde en vrede! So saam met die liedjies van takbokke en ‘n slee en klokkies en gedoentetjies – kom ons laat die irritasies van die blink blikkerigheid by ons verbygaan – kan ons hemelse musiek wat rondom Kersfees geskryf is en gespeel word, geniet.

Verskille kan mense uit mekaar skeur. Laat ons nie dat die dinge hier om ons ons van mekaar laat vervreem nie. Gee maar ook kans vir die een wat anders dink en doen.
Liefde is al wat ons kan saambind.

Kom ons vergeet van die stigmas wat ons lewensvreugde inperk. Kom ons vergeet van “toe” en leef die “nou”. Kom ons maak dit ‘n beter plek waar ons is. Met liefde.

En geniet die blink en die mooi van Kersfees! Die vrolikheid, die vreugde! En uiteindelik die vrede. Ja, daai soort wat alle verstand te bowe gaan.


Kom sing saam! Met ‘n lied in jou hart! Met ‘n klokkespel in jou ore. Dis Kersfees! Dis ons kans om te wys wat Kersfees beteken. Die ware betekenis. 


As ons in liefde saam dieselfde lied sing, is dit 'n melodieuse koor - al het ons verskillende stemme.  Kom, kom sing saam!

Tuesday 20 December 2016

Somerkuier

Dis ‘n lieflike somersdag en dis tyd om te gaan kyk of die bome in die Tuine nog hul arms wyd oopgooi vir ieder en elk.

Twee vriendinne kom kuier en ons geniet dit om weer al die drade op te tel. Om te hoor hoe hul paaie geloop het van destyds tot nou. So lekker om sommer net ontspanne te kan saamkuier. Ek tel my seëninge weer ‘n keer – en kom nie naasteby by die eindtotaal uit nie, want sien, hulle is te veel!

En die Kaap is op haar beste! Met ‘n ligte windjie wat deur ons hare speel, stap ons deur St George’s wandellaan. Oral is tekens van vakansietyd en vrolikheid. Lieflik!

En die heerlike stuk koek wat pas weggeslaan is, laat my herbesin oor my spyskaart vir aandete…


Dalk is dit tog ‘n goeie plan om van nou tot Kersdag bietjie dop te hou wat mens inskep. Net sodat daai stywe broekie tog nog kan pas teen die tyd dat die oujaar sy draai vat!

Friday 16 December 2016

Die dag

16 Desember: Versoeningsdag

Vandag se dag laat gemengde gevoelens in my gemoed.

Hoe en waar dit oorspronklik ontstaan het, is een saak.
Hoe besluit is om ‘n belofte te maak wat ‘n nasie verbind, is nog ‘n saak.
Wat intussen hier in onse mooie land gebeur het, is ‘n belangrike saak.
Wat op die oomblik in onse mooie land plaasvind, is die saak wat dalk saak maak.

Of is dit?

Kyk bietjie wat is mieliestronk.com (wat hulself “die ensiklopediese webwerf” noem) se verklaring oor die naam van vandag se dag.

16 DESEMBER is tradisioneel deur Afrikaners eers as Dingaansdag en later as Geloftedag gedenk, in navolging van die gelofte wat ’n groep Voortrekkers aan God afgelê het voordat hulle op daardie dag in 1838 ’n Zoeloemag in die Slag by Bloedrivier in die teenswoordige KwaZulu-Natal verslaan het. Hulle sou naamlik, as hulle die oorwinning sou behaal, daardie dag in ere hou soos ’n Sondag en dit aan hul nasate opdra om dieselfde te doen. Geloftedag as vakansiedag was dus ononderhandelbaar vir baie Afrikaners.
ANC-aktiviste het egter op hul beurt 16 Desember onthou as die dag in 1961 toe die ANC sy soldate begin bewapen het om apartheid omver te werp.

In die nuwe Suid-Afrika is hierdie dag toe hernoem tot Versoeningsdag—’n dag waarop die klem daarop moet val om die konflikte van die verlede te bowe te kom en ’n nuwe nasie te bou.


Wednesday 14 December 2016

Kan nie help om te help nie

So middel van die dag staan ek en luister hoe ‘n man probeer om vir ‘n Duitse toeris te help met waarheen sy wil. Sy weet self nie so lekker hoe om vir hom in Engels te verduidelik waarheen sy wil nie. Met haar kaart van die omgewing in haar hande, haar rugsak wat so half skuins wil afglip en die bus wat enige oomblik gaan stilhou vir die opklimslag, beduie sy iets van bid en ‘n drukkie gee. Maar nee, sy wil nie die man ‘n drukkie gee nie, want sy is kwaad omdat sy so baie vir die buskaartjie moes betaal. En sy kan nie eens op die rooi bus ry met daai kaartjie nie.

Ek sien daar is nie veel vordering nie en vra of ek haar kan wys waarheen sy moet gaan, want ek is daai kant toe op pad. So meen ek met die bietjie wat ek kon hoor. Sy is dapper genoeg om my te vertrou en glip wettiglik deur om by die bus in te klim.

Sy is toe heeltemal verkeerd met haar aanname oor die buskaartjie se prys. Sy wys vir my die strokie en ek verduidelik aan haar dat dit haar eintlik niks gekos het nie. Vir ‘n Europeër is R30 peanuts. Sy besef haar glipsie van berekening en is in haar nappies.
Ons klim op die bus en die gehaperde  gesprek duur voort. Dis die langste busrit wat ek nog van punt A tot punt B gemaak het. Dis warm. Dis ‘n staaaaadige gesprek met baie Uhm en Ah tussendeur, maar met handgebare en geluide kom ons uiteindelik reg.

Die toeris is ‘n steward (in ons taal seker ‘n bediende) op ‘n Duitse navorsingskip wat in die Kaapse hawe lê. Daar is 44 bemanningslede en 44 navorsers / scientists op die skip. Hulle reis heen en weer tussen Arktika en Antarktika om navorsing te doen oor alles en nogwat.

Ek wys vir haar waar sy weer die bus moet haal om terug te kom by haar skip en ons stap verder. Voor ons woonstelblok kry ek ‘n dankbare hug. Ons besef skielik dat ons nie mekaar se name ken nie. Haar naam is toe elk geval te moeilik om uit te spreek of te onthou. Klink nie vir my na ‘n Duitse naam nie. Maak ook mos nie saak nie!

Sy is flink op pad weg om te gaan doen wat haar missie vir die dag is: om iewers in ‘n kerk te gaan bid (ek het St George’s Katedraal voorgestel) en om iewers ‘n boom ‘n drukkie te gaan gee (ek glo een van Die Tuine se bome gaan ‘n liefdevolle hug kry). En hoe meer ek vir haar vertel dat sy die dag moet gebruik om op Tafelberg te kom, hoe meer vertel sy my dat sy baie poskaarte het wat geskryf moet word. Dalk, net dalk, het sy my raad gevolg en sit sy met haar beentjies oor Tafelberg se rand en swaai en skryf haar poskaarte daar!


‘n Liewe vriendin van my het ook die begeerte om toeriste te help. Doe zo voort, suster! 

Tuesday 13 December 2016

Is jy gereed?

Hierdie tyd van die jaar moet mens so ekstra bietjie dink oor wat wanneer waar gebeur.

Dis reg so.

Maar is jy gereed vir wat wanneer waar moet gebeur? Soos die kunswerk langs Hermanus se stappaadjie – hy is beslis gereed om te doen wat hy moet.




















Of moet ons altyd gereed wees vir wat wanneer waar moet gebeur? Wat gebeur dan as die onbeplande of die onverwagse gebeur? 

Dis nie in my aard om so goed georganiseerd te wees nie. Ook dalk sommer ‘n lekker verskoning om te probeer wegkom met my impulsiwiteit deur die gene te blameer. Dis dalk net pure luiheid.

Maar dalk is dit vir die mense om my makliker as ek nie so in ‘n vaste roetine vasgevang is nie? Want hoe heerlik as ek onbepland genooi word “kom ry gou saam” en ek glip net daar die veiligheidsgordel om die boesem. As ek nou die yskas en vrieskas vanoggend skoongemaak het soos wat ek “beplan” het, het ek die rit gemis!

Ag ja, miskien doen ek dit in die nuwe dag…. Of dalk is daar ‘n ander pad wat korter gemaak moet word deur my gebabbel.


Maar Kersfees is om die draai en ek sal my dagtakies mooi moet beplan voor ek daai saamkuier bederf met my ongeorganiseerdheid! Daar is immers ‘n paar disse wat gemaak moet word!

Monday 12 December 2016

Speletjies

Of is dit regtig speletjies? Soos dit vir my klink en lyk, is die hele rugby-saak een van politiek. Die arme afrigter het al my simpatie. Die man het seker ook maar nie heeltemal besef waarvoor hy homself inlaat nie. Ek kan net dink hoe swaar sy liewe vrou kry om haar maat positief te probeer kry. Genadiglik is die seisoen verby. Volgende jaar sal ons besluit of ons liewer tafeltennis gaan kyk…

So reken ek toe dat die 7’s die ovaalbalspel van die toekoms gaan wees. Dis vinniger, minder tyd wat dit in beslag neem, minder spelers betrokke, minder omslagtige reëls. Lekker vinnig en lewendig soos die lewe deesdae is.

En die naweek het onse stad gegons met rugby ondersteuners van oraloor. Dit was ‘n heerlike tydverdryf om by ‘n straatkafee vas te haak met ‘n koppie koffie om die verspotte skares gade te slaan. Sommige so oorspronklik, maar hier en daar ‘n hele spul wat heeltemal uithaak en nie weet waar om die streep te trek nie. Ai tog!

Die entrepreneurs het vorendag gekom met slim planne om ‘n geldjie te maak. 

Ek vermoed dis ‘n laaaaaang Maandag vir menige vandag! Vanaand sal die liggies vroeg uitgedoof word. Maar verloor bly maar nie lekker nie! Blitse is hulle wel, maar Boer vs Brit was ‘n tere sakie.

Friday 9 December 2016

Hoe gaan dit met jou?


Nee, dis nie sommer een van daai in die verbygaan: “Hoe gaan dit met jou?” en aangaan met ‘n volgende sin voor hierdie belangrike een nie beantwoord is nie!

Ek stel regtig belang om te weet hoe dit met jou gaan.

Maar dis naweek en ons wil nou nie so ernstig wees nie. Dis tyd om uit te span, af te skakel, bietjie te speel, bietjie te kuier, bietjie te lag.

Of is dit?

Dalk is dit juis tyd om bietjie alleen iewers te gaan stil raak en te dink oor jouself. Juis in hierdie besige, oppervlakkige tyd. Die tyd wat eintlik bedoel is om nie oppervlakkig te wees nie.


Geniet die naweek! En dalk vra ek jou weer eendag: Hoe gaan dit met jou? Vat my hand en trek my na ‘n stil hoekie toe. Vertel my. Ek wil regtig graag weet. Ek stel belang in jou. Jy is belangrik vir my. Want ek weet jy gee ook om vir my.

Thursday 8 December 2016

Sit jou beste voetjie voor

Waar sal dié idioom vandaan kom? Dalk iemand wat een goeie en een minder goeie voetjie gehad het? En moes beїndruk met die goeie voetjie? Beste voetjie voor? Of dalk was dit 'n nuwe danspassie wat geleer is - en die beste voetjie moes eerste gepunt word as die wals begin?

Wel, dis die seisoen van kuier en vakansie en gaste onthaal. Tyd om jou beste voetjie voor te sit!

Vir wie moet jy hierdie Kersseisoen onthaal? Ek hoop dis gaste wat jou kookvernuf en jou gasvryheid waardeer. Maar belangrikste van alles, hoop ek jy geniet dit om jou gaste te bederf.

Trek jou partytjierokkie aan, maak jou lippies rooi, kam jou hare en kuier tot hanekraai!


Tyd dat ek ‘n draai in die kombuis gaan maak. Ons kuier sommer vanaand al met vriende. Desember glip so vinnig verby!

Wednesday 7 December 2016

Las tot sakpas

Dis altyd lekker om te sien hoe mense op ‘n eenvoudige manier kreatief is. Dit help tog te lekker om die rande te rek. Om daai begroting te laat klop. En sommer ook net om van die rondlêgoeters wat dikwels in onbruik geraak het, weer te gebruik. So ‘n bietjie nostalgie inwerk. En natuurlik om die creative juices te laat vloei!

Tydens een van ons staptogte ontdek ons ‘n lieflike Duitse bakkery en koffiewinkeltjie in Kloofstraat. Knus en gesellig. Mens kan sommer sien daar word kliënte maklik kuiergaste.


Met so ‘n kershouer kan ‘n aand se kuier romanties raak! En die suikerpot het selfs 'n stewige dekseltjie om die klammigheid uit te hou.


Ek het heeltemal vergeet wat die naam van die plekkie is. Dalk moet ek net weer ‘n slag gaan soek waar dit is. Daai Duitse gebak het juis so verleidelik gelyk en geruik.

Tuesday 6 December 2016

Dapper stappers

Ons is baie lief vir baie lekker kos.

Omdat ons baie lief is vir baie lekker kos, moet ons bietjie oefen om in ons kleertjies te pas. En natuurlik ook om beweegbaar te bly! Dis ook sommer lekker geselstyd.

Gister het ons met die bus tot in Kloofnek gery en weer kronkel-kronkel teruggestap. Dit bly ‘n lekkerte om strate te soek waar ons nog nie voorheen geloop het nie. En om ons maar net weer ‘n keer te verstom oor die mooie woonplekke. Sommige piepklein, sommige paleise. Die restourasiewerk wat met soveel liefde en omsigtigheid gedoen is. En die oorspronklikheid van sommige! En ek wonder mos maar altyd oor wie in daai mooie ou huis gewoon het. Sou hulle hierdie tyd van die aand al eiers uitgehaal het? Sou die eienaar van die huis dalk skapies oorkant teen die bult laat wei het?

Tegnologie maak dit interessant om te sien hoe ver ons gestap het. Treetjies word getel. En dit hou ons letterlik op ons tone om ons daaglikse treë in te kry.


Maar soms, soos vandag, mag ons ook lekker lui wees en die tegnologie afskakel. Soms moet mens nie kyk hoe jy deur 'n masjientjie aangesê word om jou daaglikse doelwit te bereik nie. Want sien, die tegnologie is in manlief se sak en ek het gisteroggend ook al langs Milnerton se strand saam met vriendin gaan stap. Teen 'n stywe passie! 

Môre stap ons weer fluks! 

Monday 5 December 2016

Inpak, wegpak, uitpak, regpak

My wyse vriendin se raad: “Only if it gives you joy!”

Dis die deel waaroor ons beheer het in ons lewens. Vir die res het elke dag genoeg moeilikgeite van sy eie – soos die Groot Boek ons leer en soos ons ook al self agtergekom het.

As iets jou nie vreugde gee nie, smyt dit uit! Dis nou ‘n lekker manier van huis opruim. Nou is die kans om ontslae te raak van daai goetertjies toetertjies. Dikwels die (vir ander mense) sentimentele goedjies wat op ‘n manier in jou huis, dikwels deur ander mense, op jou kaggelrakkie beland het.

Maar so eenvoudig is dit ook nie. Manlief het ander goedjies waaraan hy waarde heg. En ek maak makliker los van goedjies. So sien ek die karaktereienskappe in die bloedlyn kop uitsteek toe ons die naweek vir oudste help intrek in sy eerste eie huis. Heerlike voorreg. Die huis. En ook die mag help. En tog te lekker: as die helpers moeg raak, mag hulle groet en vertrek!

Ouboeta wil ook nie oupa en ouma se goedjies sommer net wegmaak nie. En dis reg so. Maar dis tyd om elke dingetjie te beskou en te bewonder en dan te besluit. Niemand gaan hom daaroor veroordeel nie. Dis sy huis. Sy voorreg. Maar ek moedig hom aan om nie net op te gaar nie. “If it does not give you joy…”


Have nothing in your house that you do not know to be useful and believe to be beautiful.

William Morris 1834 – 1896 English textile designer, artist, write, church decorator.

Thursday 1 December 2016

Dis nou maar net ‘n kwessie van styl

So bietjie weggesteek by die V&A Waterfront, is die mooie Cape Grace hotel. ‘n Mooie plek waarop enige Suid-Afrikaner trots kan wees.

En hulle fokus nie net op oorsese toeriste nie. Hulle het 'n indrukwekkende Whiskey Klub vir die mense van die omgewing. Lede kan hul persoonlike versamelings van daai kosbare voggies agter slot en grendel laat toesluit in mooie uitstalkaste. En dan kom hulle blykbaar een maal per maand bymekaar om die swymel in die swierigheid. 

Indien jy gaste uit die buiteland in styl wil laat inkopies doen, is dit die plek. Die piepklein winkeltjie in die hotel het keurige artikels van uitstaande gehalte. En natuurlik is dit heel bekostigbaar as jy nie met rand en sent hoef te betaal nie. 

‘n Plek waar alles spreek van styl. Fyn aanvoeling. Detail.

En die mooiste vir my van alles, is dat hulle nie een enkele hoekie oorgeslaan het nie!


Hier voel iedereen of hulle deel is van die koningshuis. Gekroon. Selfs op die troon.