Thursday 30 November 2017

Soet en suiwer stemme


Gister het ons die Drakensberg Seunskoor se Woensdagmiddag-uitvoering bygewoon. Wat ‘n heerlike geleentheid!

Om soveel jong seuns te sien en te hoor is kos vir die siel! Vol energie! Die eerste gedeelte van die vertoning was ‘n verskeidenheid van liedere – meesal met ‘n Kersfees boodskap. (Hierdie naweek is hul Kersuitvoerings.) Die tweede gedeelte van die konsert se tema handel oor die diere van Afrika. Daai seuntjies dans in hul gumboots dat die sweet hulle aftap! En die primêre tema: Red ons renosters! Een van die hoogtepunte vir my, was die aasvoёls wat met liggaamsbeweging en swiepende geluide uitgebeeld is. Met soveel emosie en passie dra hulle ‘n belangrike boodskap oor en vertel 'n storie wat almal se harte raak.


Alhoewel ons stapafstand vanaf die skool tuisgaan, moes ons tot daar ry – ‘n heerlike donderstorm het kort voor die konsert losgebars. Dis die weerpatroon hierdie kant. En ons verlekker onsself voortdurend in die nattigheid en waters wat val!

Wednesday 29 November 2017

Leefstyl aanpassing

Ja, alles is vir ons van nuuts af kosbaar en mooi. Hier is dit vanoggend stiller as stil om ons. Ek hoor nie ‘n voertuig nie. Ek hoor net voёltjies. En die andersheid van verlede maand en nou is fassinerend! Hoe aanpasbaar is ons tog nie!

Ek en manlief kuier in die Drakensberge. Dragon Peaks. Lieflik tussen die heuwels en berge. Groen en water oraloor. Vir ‘n Kapenaar is dit ekstra mooi!

Vroegoggend het ons die rugsak gepak en gaan stap. Een of ander tyd moet mens oefening kry… Hier is verskeie staproetes. Ons het die River Trail gekies en een of ander tyd gesien ons het teen Chicken Hill afgekom. Redelike klim op gewees en baie steil af. Genadiglik het die knieё en die heupe gehou!

Na ‘n heerlike laatontbyt kon ons sonder enige skuldgevoelens bietjie rus. Met die weerligstrale en donderweer wat die reёnbuie aangekondig het, was dit glad nie vreemd om ietwat later te besef ons het ‘n heerlike uiltjie geknip nie!


Gisteraand het die brulpadda sy maat(s) gesoek. Die paddakoor was ‘n aardigheid. Baie dankbaar dat daar nie net ‘n seiltent tussen my en die geluide was nie, kon ek die skuifdeur dig trek en my toewikkel vir ‘n heerlike nagrus!  

Friday 24 November 2017

Die ding met die bokke

“Dis ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe span.” Dis nou die rugbyspan wat die naweek spiere moet bult teen die Italianers van wie so gepraat word in een van die nuusblaaie.

Maar dis nie oor daai bokke wat ek wil droom nie… dit raak te maklik ‘n nagmerrie!

Die bokke waaroor ek droom, is daai troppe wat sekerlik die heuwels van die Karoo versier het. Eeue gelede. Wat ‘n wonderlike gesig moes dit wees! 

Ons sit anderdag so teen die middaguur op ‘n stoep – starend oor ‘n diep kloof hier in Natal. En wonder oor al die wilde diere wat sekerlik oor die heuwels en valleie en in die vlaktes rustig rondgewei het. Hoe sou hulle op die eerste geweerskoot gereageer het? En watter aaklige “onthou” sou dit in hul binneweefsels vasgevang het? Onmenslik. En wreed. Ja, ek weet ons moet eet. En ek weet hoe smaak ‘n lekker stukkie biltong en ‘n sappie Springbokfilet’tjie.


Maar uitroei is ‘n ander saak. Wreed. Snoep. Onnodig. Hoe het ons dan so geraak?

Thursday 23 November 2017

Wingerdwonders

Terwyl ons so rustig agteroorsit en spekuleer oor die lewe, klink ons ‘n glasie op die voorregte en vreugdes wat ons beleef. Die opbrengs van die wingerd word ernstig beoordeel. En ons raak weer in vervoering oor die ou wingerdstok wat ons in Graaff-Reinet by die museum beskou het.   

Die Swartakker wingerdstok wat in 1870 geplant is, is massief groot. Die wingerdstok het voorheen ’n enkele stam met ’n omtrek van 3,10 m gehad en was die dikste wingerdstok ter wêreld. Dooie hout moes in 1983 verwyder word nadat dit deur ’n swamsiekte beskadig is. Mens kan nie anders as met respek en waardering voor die ou reus stilstaan nie.

Dit neem die gesprek na die wingerde in die Boland. Wat sal die effek van die droogte op die vrugte van die wingerd wees? Seker ‘n soeter druif? ‘n Wyn van gehalte wat nuwe kwaliteit na vore bring? Dis mos so met ons – swaarkry suiwer ons. Dalk bring die wingerdstokke wat hul water dieper onder die grond moet gaan soek nog lekkerder wyn?


Dis iets waarvoor ons sal moet wag. Geduldig tot ‘n volgende oesjaar.

Wednesday 22 November 2017

Gedagtes oor Graaff-Reinet

Dié plek het ons harte gesteel.

‘n Pragtige, ou dorp met die sjarme en bekoring wat dit meebring. En die vars, moderne aanslag wat ‘n nuwe generasie teweegbring. Vir die geskiedkundig-gieriges, is daar oorgenoeg om te sien en te bestudeer.

Die Drostdy Hotel is pas teen ‘n astronomiese bedrag opgeknap. En dis lieflik!  As dit nie was vir die nare maagvirus wat my beetgekry het nie, het ons ons vakansie-spaargeldjies uitgeblaas op ‘n ete by die hotel.

Die Jakarandabome het ons bekoor. Koeltebome in die Karoo is oral welkom! En hier is mens net soveel meer bewus van ‘n kolletjie skadu in die somerson.
In die dorp is ‘n area geoormerk as die Culinary Route. Voorwaar ‘n heerlike straat om in te kuier! Soveel kreatiwiteit! Nuwe idees! Heerlik om te sien hoe ieder en elk nuut dink en vars plaaslike produkte voorsit om die toeriste in te lok en te verlei.

Aan gastehuise is daar geen gebrek nie! Iets vir elkeen.

Die projek in die dorp wat plaaslike inwoners oplei vir die gasvryheidsbedryf, werp beslis vrugte af. Die professionele manier waarop mens behandel word – al stap jy net verby op die sypaadjie en wonder nog waar om vas te haak – is opvallend. Ons gasvrou vertel ons van die projek. ‘n Slim manier om die gemeenskap te help om vorentoe te gaan en hoop te bou.


Die rustigheid wat mens kry van ‘n Karoordorp, maar tog die gevoel dat alles nie tot stilstand gekom het nie. Vredig, maar vars! Dis in my gedagte as ek aan Graaff-Reinet dink.


Eendag gaan ons terug vir daai ete in die Drostdy Hotel…..

Monday 20 November 2017

Kombuiskuiers

Kaiingkoekies wat my ouma in die houtstoof bak.

Popkastrolletjies wat ons eenkant op die AGA kan sit – met wortelringetjies wat kan sagkook vir later opskep. Susan, alias Hillie, se geduld met ons wat tussenbeide wil kom speel as daar werk is wat gedoen moet word.

‘n Kristalkoue nag in die Oos-Kaap saam met skoonfamilie met wie ons gaan kennis maak het. Manlief wou seker sy nuwe bruid gaan voorstel…. Ai, toe was ons nog kinders!! Dis baie jare gelede, maar ek onthou die warmte van gasvryheid in Oom Andries en Tannie Kathleen se huis – al kan ek glad nie onthou wat ons geёet het nie. Ek het net geweet hulle arms en harte het hulle vir ons oopgemaak.

So kuier ons met ons toertjie van huis tot huis en van kombuis tot kombuis. Elkeen spesiaal. Elkeen uitgesoek met ‘n spesifieke rede. By elkeen met ope arms en warm harte ontvang en bederf. 

Met diepe waardering. En die heerlike wete net weer: dit gaan uiteindelik oor die kuier meer as oor die kos! Dis daai warm gevoel om die hart wat uiteindelik die warm gevoel om die maag oorskadu…. 

Friday 17 November 2017

As Kapenaars kuier in die Karoo

Om met ‘n “Dubbelbrak” verwelkom te word in die Karoo, is heerlik verfrissend na ‘n lang dag op die pad. Net so verfrissend is die mense van die Karoo. Hartlik. Heerlik.

Maar die droogte knyp oral. Verrassend vir ons, word ons genooi om te bad. Oral is voldoende ondergrondse water. Genoeg vir mens en dier. Maar die veld kry swaar en dus is daar nie genoeg kos in die veld nie. Dus, as dit nie reёn nie, gaan daar in sommige gevalle nie Kersfees gehou word weg van die plaas af nie. Die diere se kos moet aangery word. (Genadiglik het dit toe paar dae later gereёn, so die koekblikke word volgemaak om saam te neem!)

Afgesonderd en ver weg van die dinge wat stedelinge sommerso vanselfsprekend aanvaar. Maar kan hulle planne maak! En goed beplan! En gasvryheid is vir hulle iets waaroor nie gedink word nie. Hulle doen dit sommer net so gemaklik!

Met ons wegry van die Karooplaas af, bewonder ek weer ‘n keer die plaasvrouens wat hul mans bystaan, ondersteun, help, bemoedig. Want maklik kan dit nooit wees nie. Deel van jou herkoms, ja soms, maar sekerlik nie vir sissies nie. (Ek het weer besef ek is ‘n sissie….)


Tuesday 14 November 2017

Stilte

Dis die Karoo.

By een van ons staninge vra ons gasheer vir sy aanvallige jong vroutjie wat vir haar die meeste spesiaal is van in die Karoo woon in vergelyking met hul vorige leefstyl. Sy sê: die stilte.

Na ons verblyf in die stadskom, het ek nogal gewonder oor wat dié “oorverdowende” stilte met my gaan maak. Of dan liewer: wat ek daarmee gaan maak.

Maar wat ‘n vreugde! Rustigheid, kalmte, skoonheid, vrede!

Dis meditasie op sigself.

Nie die stilte wat veroorsaak word as vroutjie haar gatjie wip vir haar maat se aweregse aanmerkiing of mannetjie wat sy stert in ‘n krul sit as hy nie sy sin kry nie! Dit noem mens stilstuipe. En daar is geen, maar geen rustigheid, kalmte, vrede, vreugde of skoonheid by betrokke nie!


Nee, die Karoo se stilte is ‘n statige stilte. Mens werk daarmee met groot respek.

Monday 13 November 2017

Die vreugde van weersiens

Met ons reis van suid na noordoos, het ons die luukse om vriende en kennisse op te soek.
Nie veel wat ons jaag nie. Daar is besprekings gedoen en datums van oorslaap uitgeruil, maar verder is ons rustig.

Ons kies keurige kuiers. Elkeen is kosbaar.

Ons mooie land lok ons na paaie wat ons nog nooit voorheen gery het nie. En hoe lekker om ‘n afdraaipad te vat tot daar waar die pad doodloop teen die berg! Oraloor ‘n verrassing wat wag. Die eetplekke en toerisme-plekke laat ons behoorlik voel soos kuiergaste in ons eie mooie land se kontrei!

Tog te lekker om uit te kyk by ‘n agterdeur en vir ‘n wyle te wonder oor wie lank, lank gelede in hierdie ou huis gewoon het!  En opgewonde oor die jong geslag wat moontlikhede sien en geleenthede aangryp om van ‘n oumagrootjie se huis en kombuis ‘n heerlike uithang kuierplek te maak.


Hier haak ek alweer vas by Die Stal in Keisie se omgewing naby Montague. Dis tyd dat ons aanskuif en vertel van die ander heerlike plekke op ons pad. Maar eers tyd om straataf te stap op soek na ‘n eetplek vir vanaand.

Wednesday 8 November 2017

Jou smaak of myne

Wat jy sien, moet jou nie sommer dadelik tot ‘n besluit of ‘n mening dwing nie!

Ons bespreek aandete by ‘n lieflike klein eetplekkie in die platteland. Straat-op en straat-af ry ons op soek na die adres. Nie dat ons ver hoef te soek of eintlik kan verdwaal nie, want dorpie is piepklein en ieder en elke inwoner sal sekerlik kan help om te beduie.

Met die oor-die-straat-stap sien ek die plastiek blomme. Kitsch. En ek wonder. Ons stap nader. Nog meer. Kitsch. En ek wonder nog meer.


Tot ek instap en sien. En ruik. Hier word kos gemaak uit die hart uit. Met respek omgegaan met proviand. Niks wat nie eg en opreg is nie.


Moenie sommer besluit voor jy nie die binnekant gesien en beleef het nie. Nie met plekke nie. Ook nie met mense nie.

Tuesday 7 November 2017

Kuierkans

Of mens in die Karoo kuier en of mens by die see kuier - saamkuier bly spesiaal!

So het ek en manlief die kans om te kuier. Oraloor. Met niks wat ons jaag nie. Kosbaar.

Op die oomblik het ons nie ‘n huissleutel nie. Ongekompliseerd is die woord. Nie ‘n hond of ‘n pappegaai of ‘n plantjie waaroor ons ons hoef te bekommer nie.

Die kinders is groot en selfstandig en dis tyd dat hullle en hul liefies mekaar versorg en bederf. Nie nodig om aldag van ma te hoor nie. Ook nie nodig dat ma weet wat heeltyd op hul werf aangaan nie.

Vir eers is dit tyd dat ons bietjie onsself gewoond maak aan “sonder horlosie of wekker” leef. 

Ons doen daai ding wat ouer mense doen: kuier by mekaar oor ‘n koppietjie of ‘n glasie gedurende “kantoorure” of “skoolaande”.  Tog te lekker! 

Monday 6 November 2017

Terwyl jy kan

Klim daai rant uit. Al tap die sweet jou effens af
Want jou knieё kan dit nog doen.
Eet daai lekker stuk koek en geniet elke happie
Want jy doen dit nie elke dag nie en vandag mag jy maar.
Wikkel jou tone in die sand
Want vandag is die strand onder jou voete.
Kyk op in die lug en tel die skittersterretjies
Want vandag het jy die voorreg om ver weg van die stadsgewoel te wees.
Klim in jou motor en ry die langpad
Want vandag het jy die voorreg om ‘n voertuig te kan besit en bestuur.
Gesels met jou maat langs jou
Want wie weet wat bring die dag van môre?
Klink ‘n glasie saam met vriende en skaterlag oor die vreugdes
Want dis ‘n groot voorreg.
Beskou daai fyne takkie met die brose blommetjie teen die ruwe klip
Want vandag kan jy dit nog raaksien.                         
Tel jou seёninge
Want jy kan dit nooit genoeg doen nie.

Thursday 2 November 2017

Wie is in beheer

Laasnag het die donderstorm hier om ons losgebars. Waenhuiskrans was verlig deur weerligstrale en het geskud van die donderslae. Of so het dit gevoel. Dit was mos darem nie ‘n aardbewing nie, so dit het seker nie geskud nie. Maar naby was dit wel.


Ek hou van die swaar weer. Dit laat my altyd dink aan God se stem. Sterk en hard en helder, maar ook heerlik bemoedigend om te weet van die nabyheid.

Dit laat my dink aan een van Juanita du Plessis se liedjies waarin sy sing:
“Wie regeer
Wie is in beheer
Wie’s die Begin en die Einde…”

Goed om so midde-in 'n storm te wees met daai seker wete in jou binneste. Om te weet wie in beheer is.

En toe val daar ‘n allerheerlikste reёnbui. En ons kan dit hoor teen die ruite! En ons kan dit hoor op die dak!