Wik en weeg
Sal ek of moet ek
liewer nie?
So wonder ek of ek
nou maar liewer dié aksie’tjie van skryf en oplaai moet laat staan of nie. En
ek dink hardop daaroor.
Manlief sê
onmiddelik – sonder om eers daaroor te dink (en hy is ‘n man wat gewoonlik eers
dink oor ‘n saak en nie sommer so impulsief iets kwytraak nie) – dat ek moet
voortgaan met die takie. Hy kan sien dit doen my goed. En hy hou daarvan om te
lees wat in my kop aangaan…. Mmmmm, dit op sigself kan gevaarlik wees…
So na aftrede is
mens nie altyd seker van watter dag dit is nie. Nie datum nie, dikwels ook nie
dag van die week nie. Tog te lekker!
En so gaan die dae
soms te vinnig verby en kom ek glad nie by die rekenaar uit nie. Ook lekker.
Maar ai, as die
gier my beetkry, is dit darem alte heerlik as my vingers so oor die sleutels
gly. Raai, ek dink my vingers het eerste die storie beet en dan flits dit so
effe deur my grysstof. Net so lekker!
Nee wat, solank
dit nog lekker is, sal ek maar so nou en dan ‘n draai maak op die kuber.
Lekkerste is mos dat ek nie ‘n idee het wie dit lees nie! En ja, ek kan my
voorstel dat daar mense is met rooi penne in die hand wat wil korrigeer en
kruisies maak. Dalk ‘n opmerking of ‘n aanmerking of ‘n 0 bo-aan wil maak! Maar
soms, net soms, kry ek dalk ‘n sterretjie. En nee, ek is glad nie ingestel
op gouetjies nie. Dit sal darem net te veel harde werk kos. En dis mos
absolute ontspanning hierdie vir my!
Tyd om te gaan kyk
of ek kan help om ‘n kas vas te hou wat teen die muur vasgesit moet word. Dís
nou werk wat inspanning vereis! Nie die vashou nie!!!