Patroontjies
Nee, nie vandag
die soort wat met jou hand in die sand getrek word nie. Ook nie die soort wat
met verfkwas op die doek gemaak word nie. En nie die soort wat deur plante in
jou tuin gevorm word nie.
Vandag laat die
woord my dink aan die patroontjies waarin ons so maklik vasval. Gewoontetjies.
Sommige goed, sommige bitterlik sleg. Party stuitig en stout.
Omdat hier soveel
lieflike eetplekke en doendinge is, sê ons dikwels vir mekaar dat ons net een
keer ‘n plek besoek. Maar toe nie so maklik om daarby te bly nie! Want ai, daai
lekker kos op die spyskaart wat jy “’n volgende keer” wil bestel…. En daai
heerlike ondervinding wat jy “net nog weer ‘n keer” wil beleef!

Tydens ons verblyf
(lank gelede) in Corniglia, Italiё, het ons geleer hoe mens op ‘n bekostigbare
manier van die puik Italiaanse gerookte vleise en disse kan geniet. En hier by
Giovanni’s doen hulle dit ook so. Die sorg waarmee elke papierdun skyfie vleis
verpak word, en die lekkerte om dit met liefde weer hier in die kasteel kan kom
oopvou en geniet, bring kosbare herinneringe terug.
Die personeel by
Giovanni’s begin ons al herken….. Oops! Dis ‘n patroontjie wat vas is! By hierdie
patroontjie sal ons maar bly vassteek terwyl ons nog hier woon. Dis te lekker!
Ek tel die dae af
tot Vrydag…..