So lekker

Na baie jare van
altyd bewus wees van “hoe laat is dit?” is dit vir my ‘n ekstra spesiale luukse
om te kan agteroorsit en vergeet van tyd! Geen gaste wat ontvang moet word nie,
niemand wat iets nodig het nie.
‘n Wyse man merk
onlangs op: “O ja, julle het mos ‘n gastehuis gehad. Dis mos daai werk wat
bestaan uit wag!” Slim man. Hy weet van. As mens nie wag vir gaste wat moet
aankom nie, wag jy vir gaste wat (vir ontbyt of aandete) moet inkom, of moet
vertrek! Dan wag jy vir gaste om te bevestig of hulle wel gaan kom bly, of jy
wag vir die betaling. Tussendeur wag jy dat hulle moet uitgaan sodat jy hul
beddens en baddens kan gaan skoonmaak. En wag net ‘n bietjie, ek wil hoor
waarheen ek vandag kan gaan om die mooie Kaap te besigtig! Maar voor ek gaan,
kan my hemp asseblief gestryk word? En ai tog, ek het my selfoonlaaier tuis
vergeet – het jy dalk een?
Dit alles was vir
my ‘n groot voorreg, maar hoe heerlik dat ek nou dit in my herinneringe boksie
kan gaan soek … en weer daarin mag gaan wegbêre vir ‘n ander dag se onthou!